Man gevonnis oor PE-pa se moord

Bhaven Moodley Foto: Facebook

ʼn 27-jarige man van Port Elizabeth is skuldig bevind en gevonnis in verband met die moord op die sakeman Bhaven Moodley.

Riyaad Salejie van Malabar is skuldig bevind op aanklag van moord, huisbraak, roof met verswarende omstandighede en aanranding. Hy is tot 15 jaar tronkstraf gevonnis vir sy rol in die moord op Moodley in 2016. Moodley (37), ʼn pa van twee, is by sy huis in Malabar dood aangetref op ʼn bed in sy huis in Crammerstraat.

Die polisie het in daardie stadium gesê dit wil voorkom of Moodley verwurg is.

Moodley se ma, ʼn 66-jarige vrou, is aangerand en sy was baie verward ná die aanval. Moodley se swart Mercedes-Benz AMG is ook tydens die rooftog gesteel.

Volgens bewyse wat aan die hof voorgehou is, het Salejie ʼn konstabel op die toneel gevra “om hom die geleentheid te gee om die waarheid te praat”. “[Salejie] het aan die konstabel gesê hy en Joshua Chetty het besluit om ʼn huis in Crammerstraat te beroof, omdat hulle geweet het daar waardevolle besittings soos geld en goud sou wees,” het die Staat aan die hof voorgehou. “Hulle het met die plan voortgegaan, maar die rooftog het in geweld ontaard. Hulle het met die inwoners baklei en het uiteindelik met ʼn motor en televisiestel weggekom. Hulle het met die motor weggery en dit na Chapman-hotel geneem waar hulle vir ʼn koper vir die motor gewag het.”

Salejie is kort ná die voorval in hegtenis geneem. Hy is sedertdien in aanhouding. Hy het skuld beken op aanklag van huisbraak en roof, maar skuld ontken op betrokkenheid in Moodley se moord.

Kol. Priscilla Naidu, woordvoerder van die polisie, het gesê Salejie is tot drie jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van huisbraak met die doel om te roof; sewe jaar elk op twee aanklagte van roof met verswarende omstandighede; 15 jaar op aanklag van moord; en drie jaar op aanklag van aanranding. Die vonnisse sal gelyklopend uitgedien word en hy sal effektief 15 jaar tronkstraf uitdien.

Lees alle vorige berigte oor Bhaven Moodley op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Aha ·

Eerstens lees mens die klagstaat en dan is jy geskok oor hoe lig sy straf is.
Tweedens moes die polisie dalk bietjie dieper kyk. Kriminologie 101 sê verwurging is dikwels persoonlik. Een of albei sy aanvallers het hom definitief goed geken. Die diefstal van die voertuig is waarskynlik ‘n rookskerm vir ‘n hit. Soek hard na daai ander ou asseblief!

Johan ·

15 jaar? Na alles wat hy gedoen het? Lyk my die regter is nie baie bevoeg nie.

marous ·

Patetiese vonnis . Dit is geen wonder dat misdaad die land oorheers nie , want die regstelsel dien geensins as afskrikking nie . Mense kom daagliks letterlik en figuurlik weg met moord !

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.