Man gevonnis oor swanger vrou se verkragting

Argieffoto

ʼn 49-jarige man is in ʼn hof in die Vrystaat gevonnis in verband met die verkragting van ʼn vrou wat in daardie stadium ses maande swanger was.

Phaladi Shuping, woordvoerder van die provinsiale direkteur van openbare vervolging, het in ʼn verklaring gesê Letuka Johannes Mojake, van Marquad in die Vrystaat, is in die Thaba Nchu-streekhof tot 12 jaar tronkstraf gevonnis ná hy skuldig bevind is op aanklag van verkragting en huisbraak. Die voorval het op 10 Junie 2012 plaasgevind.

“Mojake het by die vrou se huis ingebreek en haar verkrag. Hy het haar ook van haarknippers, ʼn DVD-speler, televisiestel, horlosie, handsak en ander haarprodukte beroof,” het Shuping gesê. Die waarde van die gesteelde items beloop ongeveer R20 000. Die vrou het die toerusting gebruik in haar haarsalon wat sy van haar huis af bedryf.

“Die man het skuld ontken selfs ná die vrou hom uitgeken en DNS-toetse hom positief met die verkragting verbind het.”

Staatsaanklaer Tshidi Sebolai het ter verswaring van vonnisoplegging ʼn verklaring van die slagoffer voorgehou waarin sy verduidelik het hoe die verkragting haar getraumatiseer het en hoe sy finansieel geraak is omdat haar toerusting gesteel is. Sy moes by familielede in ʼn ander dorp intrek omdat sy nie meer haar haarsalon kon bedryf nie en nie meer die huur van haar huis kon bekostig nie.

Sebolai het gesê die beskuldigde, wat reeds tronkstraf van 22 jaar uitdien in ʼn ander saak van roof en poging tot moord, wys geen respek vir die wet nie omdat sy vorige skuldigbevindings hom nie ontmoedig het om die wet te oortree nie. Sy het gesê hy het ook geen respek vir ander mense nie, omdat hy die vrou verkrag het terwyl hy geweet het sy is ses maande swanger.

Sy het aan landdros Magda Jacobs gesê roof en verkragting kom gereeld in die gebied voor en die hof moet die oortredings in ʼn ernstige lig beskou.

Jacobs het Mojake tot 10 jaar tronkstraf gevonnis op aanklag van verkragting en vyf jaar op aanklag van huisbraak met die doel om te roof. Drie jaar van die vonnis vir huisbraak sal gelyklopend met die 10 jaar tronkstraf uitgedien word en Mojake sal dus effektief 12 jaar tronkstraf uitdien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

PJC ·

Ek dink hierdie vonnis is heeltemal te lig want hierdie oortreder het duidelik geen respek vir ander mense en die landswette nie.

Ja Nee ·

Daar is geen twyfel dat die net n uitgesonderde saak is, ek dink die klas van ding gebeur algemeen. Dit kry net meer media dekking as van tevore.

Chris Ws ·

Belaglik!10 jaar vir verkragting ?En dit van ‘n swanger vrou ook nog?Hy moes 30 jaar daarvoor gekry het!Oor 5 jaar is hy uit vir goeie gedrag of wat ookal.Hoe belaglik het ons regstelsel nie geword nie!Daai regter hoord nie een te wees nie.

willem botha ·

Waneer die media die persoon reg identifiseer gaan ons kan sien wie hierdie dade pleeg,nou klink dit of alle mans so is in Suid afrika.

fred ·

verstaan nie so mooi nie..reeds 22 jaar tronkstraf uitdien?is hy dan vry gelaat of hoe werk dit?…en hy onken natuurlik..nooit skuldig nie ..vark

Sarel ·

Is dit hoe vrouens en kinders beskerm word? Nie een Politikus het die KRISIS bespreek tydens die verkiesing veldtogte nie

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.