Lt.kol. Lungelo Dlamini, woordvoerder van die polisie, het gesê die botsing het Sondag omstreeks 01:00 in Ontdekkersweg in Roodepoort plaasgevind. Die man se BMW het van agter teen ʼn polisievoertuig, ʼn Mazda-sedan, vasgejaag. Die beamptes in die voertuig was ten tyde van die botsing besig om patrollie te doen.
Die polisievoertuig het aan die brand geslaan en konstabels Elias Thabo Dibete (34) en Thulasizwe Skhahla (38) het in die voertuig doodgebrand. ʼn Derde polisiebeampte, konst. Lesiba Chris Thubakgale (34), is uit die voertuig geslinger en moes per helikopter na die hospitaal vervoer word. Hy is in ʼn ernstige toestand, het Dlamini gesê.
Die bestuurder van die BMW is in hegtenis geneem en aanklagte van dronkbestuur en strafbare manslag is teen hom aanhangig gemaak.
Die nasionale polisiekommissaris, Riah Phiyega, het kort ná die voorval die Roodepoort-polisiestasie besoek om die beamptes aan diens moed in te praat. Sy het ook die naasbestaandes van die oorledenes besoek en gesê die polisie sal aan hulle die nodige hulp bied om hul geliefdes te begrawe.
Simpatie met die beamptes se gades en familie.
Geen genade vir die BMW eienaar/bestuurder nie.