Man in hospitaal ná hy glo sy ouers, dogter en huishulp doodskiet

skiet, moord,

Foto ter illustrasie. (Foto: PixaBay).

’n Man van Benoni het glo eers sy bejaarde ouers, sy dogter en huishulp doodgeskiet en sy vrou gewond voor hy die wapen op homself gerig het.

Die 56-jarige man is in ʼn kritieke toestand in ʼn plaaslike hospitaal en onder polisiebewaking.

Volgens lt.kol. Mavela Masondo, Gautengse polisiewoordvoerder, het die man Maandag glo eers na sy ouers, onderskeidelik 72 en 75 jaar oud, se huis in Kempton Park gegaan. Hy het ongeveer 11:30 daar aangekom en hulle toe albei doodgeskiet, sê Masondo.

Hierna het die man glo na sy eie huis in Benoni gegaan.

Volgens Masondo het die man toe glo sy 43-jarige vrou, sy 22-jarige dogter en die gesin se 56-jarige huishulp geskiet.

Die huishulp en dogter is dadelik dood, en die man het daarna na bewering die vuurwapen op homself gerig.

Hy en sy vrou is al twee na die hospitaal gebring.

“Die motief vir die skietery kan in dié stadium nog nie bevestig word nie,” sê Masondo. Die polisie ondersoek tans vier klagtes van moord en twee van poging tot moord.

Die identiteit van die man en sy familie, wat aan Maroela Media bekend is, is nog nie bekend gemaak nie.

Maroela Media het betroubaar verneem die man se familie was geskok oor die nuus.

Hulle glo nie die man was daartoe in staat om homself en sy familie dood te skiet nie, en dat daar moontlik aanvallers is van wie die polisie nog nie weet nie.

Daar was glo in die ouers se woning tekens dat dit deursoek is. Die familie waak tans by die man en sy vrou in die hospitaal tot hulle hul bewussyn herwin het en die familie kan meedeel wat gebeur het.

Die res van die familie was nog te getraumatiseerd om dadelik onderhoude toe te staan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Eclectus ·

Dis nou vir jou ‘n ding as jou mislukte selfmoord ondersoek word as poging tot moord.

Prikkie ·

Hoe weet die mense altyd om ander mense so te skiet dat hulle onmiddelik sterf, maar dan skiet hulle hulself so dat hulle nie sterf nie?

Gaitsigubib ·

Prikkie op no 99 “flinch” jy. M.a.w jy chicken uit dan skiet jy mis. Dis blybaar makliker vir n lafaard om ander mense te skiet as wat dit is om jouself te skiet. Dis besonder tragies dat mens sal wil sterf met so klad op jou naam.

Leona ·

RIV Pa en Ma, Huishulp en Dogter. Gou herstel eggenoot! Manlief ek bid geregtigheid gaan geskiet. Daar is geen verskoning of aanvaarding vir wat jy probeer doen het nie. Jou gevangenis gaan jou eie brein en lyf wees. Mag God jou genadig wees.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.