Man in see by Heroldsbaai vermis

Luvuyo Xoli (37) word sedert die naweek in die see by Heroldsbaai vermis. (Foto: NSRI-webblad)

’n 37-jarige man van Gqeberha (Port Elizabeth) word sedert die naweek in die see by Heroldsbaai vermis.

Sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder, het die man intussen as Luvuyo Xoli geïdentifiseer.

Volgens Spies sal die soektog Donderdag na gelang van weersomstandighede hervat word.

“Nooddienswerkers is Saterdag omstreeks 11:00 na die toneel ontbied nadat hul berig ontvang het dat iemand in die see in die moeilikheid beland het.”

“Xoli het na bewering saam met vriende geswem toe hy deur ’n seestroom meegesleur is.”

Die Nasionale Seereddingsinstituut het in ʼn verklaring op sy webblad gesê dat verskeie mense – onder wie ’n branderplankryer en twee omstanders – onmiddellik ingegryp het om Xoli te probeer red.

Hy het egter onder die water verdwyn voordat enigeen hom kon bereik.

“Ondanks ’n uitgebreide lug-, see- en kuslynsoektog is daar geen steeds geen teken van die vermiste man nie,” het NSRI in sy verklaring gesê.

Spies sê die omstandighede rondom Xoli se verdwyning word tans deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.