Man maak hart oop oor broer wat gesin glo afmaai

(Foto: Verskaf)

Wat presies in die vroeë oggendure van Nuwejaarsdag tot die driedubbele moord in Rondebult gelei het, was tot dusver ʼn groot raaisel. Die tragedie het egter mense van reg oor die land geruk ná die oorlede egpaar se seun, Eugene Botha, vir hul grumoord – sowel as die moord op sy suster – in hegtenis geneem is.

Toe Jaco Botha (48) van Roodepoort op 2 Januarie – omstreeks 22:00 die aand – die ontstellende oproep van sy tannie ontvang dat sy ouers en suster wreed in hul huis aangerand en vermoor is, was hy verontwaardig en woedend.

Toe hy uitvind dat sy jonger broer van hul grumoord verdink word, was elke gedagte aan sy broer boonop met haat gevul, vertel Jaco aan Maroela Media.

Die 73-jarige Johan en sy 70-jarige vrou, Marri (ook bekend as Riekie), en hul dogter, Soné (37), se ontbinde liggame is ongeveer twee dae ná hul moord op ʼn verlate bakkie in ʼn veld ʼn paar meter van die gesin se huis in Rondebult aangetref.

Inwoners het die gru‑ontdekking op die hoek van Swartberg- en Ubombostraat gemaak en die 42-jarige Eugene is kort daarna in verband met die moorde aangekeer. Hy kon nog nie vir borg aansoek doen nie en die saak is verlede week vir drie maande uitgestel.

(Foto: Verskaf)

“My ouers is ʼn maklike teiken. Hulle is al oud en my pa het ʼn kunsbeen. Daar was ook al voorvalle waar hy hardhandig was met my pa. Maar ek het nooit gedink dat hy hulle sal vermoor nie…

“Toe ek daardie oproep kry… dit is die kwaadste kwaad en die meeste angs wat ek in my lewe nog ervaar het. Ek het na my asem gehyg, ek kon skaars enige woorde uitkry. Toe my vrou my vra wat aangaan, ek het nie geweet hoe om dit te sê nie.

“Eugene het hulle vermoor, my jonger broer het my ma, pa en sussie vermoor…”

Eugene Botha (Foto: Janice du Plessis/Maroela Media)

Jaco sê hoewel Eugene in sy twintigs ʼn dwelmgebruiker was, en hoewel hulle onlangs daggapitte in sy kamer gevind het, glo hy nie dat sy jonger broer in die laaste paar maande voor sy gesin se grumoord dwelms gebruik het nie.

“Ons kan in elk geval nie dwelms met hierdie moorde koppel nie, want ek weet presies hoekom hy dit gedoen het…”

Jaco vertel dat Marri vir Eugene op Oujaarsdag finaal uit die huis uitgejaag het.

“Hy bly nog sy hele lewe lank by my ouers sonder om te werk. My ouers – beide pensionarisse – moes vir hom sorg. Hy het hulle ook baie sleg behandel en my ma het my sterk aangesê om nie betrokke te raak nie omdat hy dan al sy woede op hulle uithaal.

“Sy het hom op die laaste Sondag verlede jaar finaal uit die huis gejaag.”

Eugene het later aan ʼn familielid erken hy is toe omstreeks 01:00 van Nuwejaarsdag terug na die huis, waar hy lede van sy gesin uitgewis het.

“Volgens sy eie woorde het hy my ma met ʼn hamer doodgeslaan. Sy was nog wakker gewees.

“Daarna het hy my suster – wat nog geslaap het –  wakker gemaak om haar te wys wat hy aan haar ma gedoen het. Waarna hy haar ook met ʼn hamer in haar gesig geslaan het. Toe sy op die grond lê, het hy ʼn mes gaan haal en haar in die keel gesteek. Hulle verminkte liggame is iets wat ek nooit uit my kop sal kan kry nie. Daar was bloedspatsels oral in my ma se werkskamer soos wat hy hulle geslaan het. Toe wag hy dat my pa ook wakker word, waarna hy hom met sy eie pistool doodgeskiet het.”

Die bewyse wat intussen deur die polisie ingevorder is, steun wat Eugene skynbaar aan familielede gesê het.

“Ek het my hele gesin verloor… Ek het nie net my ouers en my suster verloor nie, ek het my broer ook verloor.”

(Foto: Verskaf)

‘Normale kinderjare’

Jaco vertel dat hulle in ʼn doodgewone huis in Secunda grootgeword het. Hulle het egter as jong kinders baie rondgetrek. Die gesin het later na KwaZulu-Natal verhuis, Eugene was ongeveer 11 jaar oud toe hulle in Rondebult gaan woon het.

“Ek was die oudste en die stoutste en het die meeste pakslae gekry,” skerts Jaco.

“Eugene is die middelkind en Soné is al op ʼn baie jong ouderdom met Asperger se sindroom (ʼn ligte vorm van outisme) gediagnoseer. Sy was ongelooflik kunstig en omdat sy bietjie anders as ek en Eugene was, het sy baie meer aandag van ons ouers geverg.

“Eugene was ʼn goeie kind, ek en hy het – soos broers maar is – gereeld struwelinge gehad, maar dit was altyd oor kinderlike dinge, nooit iets ernstigs nie,” vertel Jaco.

“Ek wil my broer graag onthou as die seun in die foto’s wat in die gange van my ouers se huis hang… maar nou sien ek net hul erg beseerde en lewelose liggame wanneer ek aan hom dink…”

Jaco sê dat Eugene se moeilikheid eintlik eers begin het toe hy [Jaco] reeds uit die huis uit was. Eugene was toe 16 jaar oud.

“Eugene het met verkeerde mense betrokke geraak en was vir ʼn lang ruk ʼn dwelmgebruiker. Gedurende hierdie tyd was daar ook gereelde inbrake by my ouers se huis, ons het eers baie later uitgevind dat Eugene en ʼn vriend agter die inbrake – vermoedelik vir dwelmgeld – was.

“Eugene is ook later met ʼn vervalste tjek in Bloemfontein vasgetrek waarna hy vir ʼn jaar en ʼn half agter tralies moes sit. Ons het hom probeer help om gedurende sy gevangenisstraf sy matriek klaar te maak, maar hy het net ʼn kwart van sy studies voltooi voordat hy daarmee opgegee het. Ek weet nie of hy dalk een of ander sielkundige probleem het nie, maar hy wou net nooit iets enduit deursien nie.”

Jaco vertel dat Eugene ook  ʼn ligte beroerte weens sy dwelmmisbruik gehad het.

“Die linkerkant van sy liggaam het skade weens die beroerte opgedoen. Sy linkerarm krul inwaarts en sy tone het onder sy voet ingekrul, so hy loop nou op sy tone wat vir hom eintlik baie seer is.”

Hy kon egter steeds ʼn normale lewe lei. Hy kon kar bestuur en motorfiets ry en my oom het hom as ʼn elektrisiën opgelei – daar het egter nooit iets daarvan gekom nie.

Later het sy ouers ʼn verband op hul huis uitgeneem om hom Engeland toe te stuur, hy was egter net vir ses maande daar. “Ons vermoed dat hy gedeporteer is, maar hy wou nooit daaroor praat nie.”

Jaco het nog nie een van sy broer se hofverskynings bygewoon nie. Hy sê hy wil nie sy broer sien nie.

“Ek sal hom weer in die oë kyk as ek in die getuiebank staan, maar verder wil ek niks van hom hoor nie.

“Dit gaan kru klink, maar ek hoop dat hy vir die res van sy lewe agter tralies bly vir wat hy aan my ouers en suster gedoen het, vir sy beswil ook, want die Rondebult-gemeenskap het gesê indien hy terugkeer huis toe, sal hulle hom doodmaak.”

(Foto: Verskaf)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

OU SAAR ·

@Koen…
Die ergste van alles is, dat ons eie mense nou besig is om mekaar uit te moor, waar ons veronderstel is om saam te staan.
Dis bitter hartseer en tragies…

Bolandse Nooi ·

Middelkind-sindroom. Nog-hier-nog-daar. Met ‘n oudste seun wat so slim, so oulik is en ‘n jonger suster wat ‘n spesiale-behoefte-kind is en ekstra tyd, ekstra aandag nodig gehad het … eienaardig tog dat ek half-en-half simpatie met die (vermeende) moordenaar voel. Dit is net so hartseer dat hy d.m.v. verkeerde vriende met verkeerde dinge betrokke geraak het en toe “pretty much” ‘n niksnut uitgedraai het.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.