Man met R8 miljoen se dwelmmiddels betrap

Van die dwelmmiddels wat gevind is (Foto: SAPD/Wes-Kaap)

Die invloei van onwettige goedere na die Wes-Kaap is ʼn groot knou toegedien toe wetstoepassers beslag gelê het op dwelmmiddels ter waarde van meer as R8 miljoen op die N1 naby Beaufort-Wes.

Sers. Christopher Spies, woordvoerder van die polisie, sê ʼn span van verskeie polisie-eenhede en provinsiale verkeersbeamptes het Woensdag omstreeks 18:00 tydens ʼn padblokkade op die hoofweg ʼn vragmotor voorgekeer.

“ʼn Provinsiale verkeersbeampte het dagga geruik en die span in kennis gestel. Die vragmotor is deursoek en hulle het beslag gelê op 22 sakke dagga wat een ton geweeg het. Die geraamde straatwaarde beloop R8 miljoen. Die bestuurder van die vragmotor is in hegtenis geneem.”

Petrus Nene (42), vermoedelik van Durban, het Vrydag vir die eerste keer in die hof verskyn. Hy bly in aanhouding en die saak is uitgestel.

Tydens ʼn afsonderlike voorval het verkeersbeamptes Vrydag om 00:40 op 15 sakke dagga in ʼn minibustaxi afgekom. ʼn Onwettige burger is in hegtenis geneem. Hy moet nog in die hof verskyn.

Lede van die George-polisie het Vrydagoggend omstreeks 02:00 ʼn Volkswagen Golf GTI by ʼn vragmotorhawe langs die N1 voorgekeer. Sowat 40 kg daga is ontdek met ʼn geraamde waarde van R50 000. Die twee insittendes, onderskeidelik 35 en 44 jaar oud, is in hegtenis geneem. Hulle sal ook binnekort in die hof verskyn.

“Die inhegtenisnemings vorm deel van ʼn gesamentlike poging deur die polisie om dwelmhandel op hoofweë en sekondêre paaie uit te roei. Die bestuur van die Wes-Kaapse het net lof vir die wetstoepassers wat op die N1 ontplooi is vir dié inhegtenisnemings en dat daar op ʼn beduidende hoeveelheid dwelmmiddels beslag gelê is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.