Man op parool gesoek ná moord op polisiekaptein by motorwassery

Sibusiso Maseko, wat ook as Ntwane bekend staan. (Foto: Valke)

ʼn Man wat vroeër die maand op parool vrygelaat is nadat hy reeds aan moord skuldig bevind is, word nou deur die Valke gesoek in verband met die moord op ʼn polisiekaptein by ʼn motorwassery buite Mbombela.

Die Valke in Mpumalanga het ʼn foto uitgereik van Sibusiso Jacky Maseko (35) wat gesoek word in verband met die moord op kapt. Sibusiso Bethwell Mthombothi (44). Maseko, wat ook as Ntwane bekend staan, is vroeër in ʼn dubbele moordsaak skuldig bevind.

Maroela Media het berig dat Mthombothi Saterdagaand saam met ʼn polisiesersant na ʼn motorwassery in Kanyamazane gegaan het om sy private motor te laat was.

Daar gekom, het die polisiebeamptes die motor parkeer en hul beurt afgewag.

Kapt. Dineo Lucy Sekgotodi, woordvoerder van die Valke, het gesê die bestuurder van ʼn ander motor by die wassery het egter in ʼn stadium die polisiekaptein se geparkeerde motor gestamp.

Die polisiekaptein en die bestuurder van die ander motor het glo die kwessie bespreek en ooreengekom dat die bestuurder van die ander motor R5 000 aan die polisiekaptein sal betaal om die skade aan sy motor te dek.

Die polisiesersant het die verdagte se motor na die huis van die polisiekaptein se ouers geneem waar die motor glo sou staan totdat die polisiekaptein die geld vir die herstelwerk ontvang.

Sekgotodi sê daar het egter ʼn stryery tussen die polisiekaptein en die verdagte ontstaan terwyl die sersant weg was. ʼn Skoot is afgevuur en die sersant het met sy terugkeer op sy gewonde kollega afgekom.

“Getuies beweer dat die verdagte tydens die woordewisseling ʼn vuurwapen uitgehaal en op die oorledene geskiet het.”

‌Die sersant het glo met sy terugkeer probeer om die verdagte aan te keer en dié het ook op die sersant geskiet voordat hy te voet van die toneel gevlug het.

Die sersant is ongedeerd terwyl die polisiekaptein aan sy beserings beswyk het.

Enigiemand met inligting oor die voorval word versoek om kapt. Mduduzi Comfort Mkhonza by 082 304 0052 of lt.kol. Erhard Stroh by 082 300 8315 te kontak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Frank ·

Tragies maar dit kom daarvan om selfs moordenaars uit die tronk vry te laat so die regering is net so skuldig aan die moord op die polisie kaptein

Ore ·

Moet die landroste en paroolraad wat sulke misdadigers op parool vrylaat nie ook vervolg word nie? Moordenaar op parool?

Jakes ·

Dit is n uiters swak refleksie op die regbank dat n moordenaar op borg vrygelaat word nadat hy reeds skuldig bevind is. Dit gebeur egter wanneer onbevoegdes aangestel word in posisies waarvoor hulle totaal ongeskik is om in te dien.

Anel ·

Hoekom kry ‘n moordverdagte borg of ‘n veroordeelde moordenaar parool? En hoekom het hy ‘n vuurwapen? Is derl van sy paroolvoorwaardes nie dat hy nooit weer ‘n vuurwapen mag besit nie? Bloed op die regering se hande!!!

Jacques Dawie ·

Niks hier maak sin nie. Hoe in ons wetsontwerp het hy borg vir moord gekry as veroordeelde moordenaar? Skande.

LIEZL ·

Absolute belaglikheid, maar dis omdat sy mede kriminele in blou geklee is

Oosieoos ·

Stem saam met ore dagvaar verhoor die parool raad hieroor. Wonder maar weer net of omkoop nie a faktor is nie

koos10 ·

Wonderlike land die een. Wetsgehoorsame burgers word met aksies gedreig oor alles van vuurwapen lisensies tot tv lisensies en etol, en misdadigers loop op straat met onwettige vuurwapens en bedreig en vermoor die wetsgehoorsame burgers.

efjy ·

En hy gaan nou 25 jaar tronkstraf kry vir eerste moord en ‘n verdere 25 jaar vir die tweede moord, 10 jaar vir besit van onwettige wapen, 10 jaar vir besit van onwettige amunisie, 5 jaar vir dwarsboming van gereg en nog ‘n klomp kleiner oortredinge. Vir alle verdere moorde wat hy pleeg as hy na sy eerste verskyning weer op parool vrygelaat word kry hy ‘n verdere 25 jaar ens. Uiteindelik sal hy egter net 10 jaar tronkstraf uitdien, want al die verskullende strawwe sal gelyktydig uitgedien word saam mt eerste 25 jaar. Hy kan dus nou maar moordpleeg soos hy wil.

Niklaas ·

Skuldig aan moord , maar dan word parool toegestaan . Dis een siek grap. En dit gee hom die reg om nou sommer weer moord te pleeg. Gaan hy weer gougou uitstap op parool ? Dink nie dit sal herhaal word nie.

AREND1 ·

Jacques Dawie.Het ons nog n wedsontwerp,want die regering maak sy eie wette net soos dit hom pas.

Danie ·

Neem die korrupte regstelsel kwalik.Die hele situasie is verkeerd hanteer.Wat verwag jy gaan n veroordeelde doen as jy sy kar wil vat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.