Man pleit skuldig aan moord op Gautengse raadslid

Mapiti Matsena (Foto: Verskaf)

ʼn 29-jarige man het skuldig gepleit aan die moord op ʼn Gautengse raadslid verlede jaar.

Mapiti Matsena, ook voorsitter van die portefeuljekomitee oor veiligheid en sekuriteit, is in Julie verlede jaar in sy huis in Doornpoort in die noorde van Pretoria vermoor.

Hy was saam met sy vrou en seun in die huis toe Thoko om 22:52 toegang tot die huis verkry het.

Lumka Mahanjana, woordvoerder van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) in Gauteng, sê Thoko het deur ʼn kamerdeur – waar Matsena se vrou was – toegang tot die huis verkry. Matsena was in daardie stadium in ʼn ander gedeelte van die huis.

“Toe sy vrou vir Thoko sien, het sy begin skreeu. Thoko het vir haar gesê om stil te bly en het haar met ʼn kombers toegegooi,” sê Mahanjana.

Matsena is terug na die kamer, waar hy Thoko aangetref en ʼn struweling uitgebreek het.

Thoko het Matsena etlike kere met ʼn skerp voorwerp gesteek en hy is op die toneel dood.

“Thoko het skuldig gepleit op die aanklagte van moord en huisbraak met die doel om te moor,” sê Mahanjana.

Die saak is tot 19 Julie vir vonnisoplegging uitgestel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.