ʼn 32-jarige man is in hegtenis geneem in verband met die dood van ʼn eenjarige baba.
Kapt. Aafje Botma, woordvoerder van die polisie, het gesê die baba is dood nadat Thuso Moalafi glo paraffien op ʼn bed uitgegooi en dit aan die brand gesteek het in Dinokana naby Zeerust in Noordwes.
Moalafi het glo die bed aan die brand gesteek nadat hy en sy vriendin ʼn rusie gehad het. “Die vriendin kon daarin slaag om twee van die drie kinders wat in die huis was te red.”
Die voorval is by die polisie aangemeld en Moalafi is in hegtenis geneem. Hy het vroeër die week in die Lehurutse-landdroshof verskyn op aanklag van moord en brandstigting.
Moalafi moet op 18 Desember weer in die hof verskyn en hy bly in aanhouding.