Man vas vir aanranding nadat vervolgingseenheid ingryp

AfriForum se ondersoekeenheid het Leonie Kambouris (middel) bygestaan om ‘n klag van aanranding teen haar man te lê. (Foto: verskaf)

’n Man wat verdink word van aanranding met die opset om ernstig te beseer, menseroof, opsetlike saakbeskadiging en afpersing van sy vrou, is Donderdag in Benoni, Gauteng, in hegtenis geneem.

AfriForum se privaat vervolgingseenheid het op 5 Augustus Leonie Kambouris gehelp om ’n klag van aanranding teen haar man in te dien. Dít nadat polisiebeamptes glo in Julie geweier het om die klag te registreer omdat die vrou “self ook aandadig was aan die aanranding”. Hulle het glo daarna verwys as bloot ’n voorval van huishoudelike geweld.

Kambouris het in Junie vanjaar reeds ’n beskermingsbevel teen haar man verkry, het Maroela Media vroeër berig.

Luidens Kambouris se beëdigde verklaring is sy sedert 2014 in ’n verhouding betrokke waarin sy mishandel word. In dié tydperk het sy verskeie ernstige beserings opgedoen, waaronder ’n miskraam. Daar is ook vroeër vanjaar ’n lasbrief vir die inhegtenisneming van die beskuldigde in die saak uitgereik, maar dit het verval sonder dat hy ooit in hegtenis geneem is.

Adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het namens die klaagster in die borgtogaansoek van die beskuldigde opgetree. Hoewel die beskuldigde op borgtog vrygelaat is, het die hof streng borgtogvoorwaardes gestel, onder meer dat hy nie die perseel van die gemeenskaplike woning mag betree, sy vuurwapens in besit mag hê of enige direkte of indirekte kontak met die klaagster mag hê nie.

Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaat vervolgingseenheid, het die beskuldigde se inhegtenisneming verwelkom.

“Dit bly egter kommerwekkend dat AfriForum eers moes ingryp om die polisie te dwing om hulle werk te doen ten einde die slagoffer teen geslagsgeweld te beskerm. Ons moes selfs ’n klag vir swak dienslewering registreer aangesien die polisie baie teësinnig was om ons te help met die indien van die klagte. Die privaat vervolgingseenheid sal die saak deurlopend dophou om te verseker dat geregtigheid geskied,” sê Leask.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Kokerboom ·

Gebrek aan behoorlike opleiding, gebrek aan professionele regspleging asook afwesigheid van ‘n werkskultuur by baie amptenare groot deel van problem by SAPD

johanf ·

Hoe kry ń mens dit reg om so klein mensie aan te rand……. Voel jy nog steeds ń MAN na so voorval….want jy is nie. Al het sy dalk fouteer, is daar ander maniere, as om jou hand teen ń weerlose vrou te lig….!!!!!
Dankie Afriforum, hoop dit sal vir die dametjie ń veiliger omstandighede bied.
Sies vrot appels van die SAPD…..!!

Sarel ·

Het hierdie ou nie dalk bande met die Polisie nie. Klink amper so.

Kalla ·

So trots om lid van AfriForum te wees, wie sal anders vir ons opstaan?

Hexi ·

Ń lasbrief verval nie, tensy die saak deur die klaer/klaagster terug getrek word. Daar is altyd 2 kante aan ń saak. Ek stem saam dat niemand sy hande moet lig vir ń ander nie, maar alle feite moet in ag geneem word , anders is die pad oop dat onskuldige mense goedsmoeds gearresteer kan word. Bg aangeleentheid moes in Julie al onder die SAPD bestuur se aandag gebring gewees het sodat die nodige ondersoek gedoen kon word.

JohanR ·

Ons kan nie se by almal nie maar het al by ‘n polisie stasie ingeloop, soe rukkie gewag, om my gekyk, na die agter die toonbank gekyk en naderhand maar weer uitgeloop. Ek het in my jonger werks lewe vir ‘n jaar of twee “Customer Service” gedoen en weet die baas sou gou my gat geskop het as ek nie met alle tye professioneel agter daai toonbank was nie. Maar agter ‘n polisie toonbank kom hulle aangekruip na jou toe, amper nie groet nie, le op die toonbank, skree vir makaar op en af instrukties….nee man!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.