Man verdrink by Danabaai

juanita-badenhorst-danabaai-04-2019-01-10

Danabaai. (Foto: Juanita Badenhorst.)

ʼn Man (32) van Kaapstad het Vrydag in die see by Danabaai naby Mosselbaai verdrink. Hy was glo besig om saam met ʼn vriend in die vlak water vis te vang, toe ʼn seestroom hom dieper die see in getrek het.

Volgens JC Roos, stasiebevelvoerder van die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Mosselbaai, is sy span Vrydag omtrent 12:24 in kennis gestel van ʼn verdrinking by Danabaai.

Die NSRI, ʼn aantal nooddienste en die polisie het op die noodoproep gereageer en die polisie se duikeenheid is ook van die voorval in kennis gestel.

“Met nooddienswerkers se aankoms op die toneel het hulle gesien dat een man uit die water gehelp is. Hy het geen beserings opgedoen nie. Nog ʼn man was egter vermis,” het Roos gesê.

“Lede van die publiek het toe die tweede man in die golwe gewaar en ʼn NSRI-reddingswemmer, asook reddingsdiensbeamptes het die man uit die water na die strand gebring.”

Reddingswerkers en paramedici het mond-tot-mond-asemhaling op die man toegepas, maar kon nie daarin slaag om die man by te bring nie. “Hy is ongelukkig op die toneel dood verklaar.”

Roos sê volgens die inligting wat hy ontvang het, was die twee mans met vakansie saam met familie en het daar naby vanaf ʼn vlak sandbank in die see gestaan en visvang. “ʼn Sterk seestroom het die oorledene meegesleur. Sy vriend het hom probeer help, maar toe self in die moeilikheid beland, voordat hy daarin kon slaag om weer terug op die strand te kom.”

Die oorledene se liggaam is aan die staat se patoloë oorhandig en die polisie het ʼn geregtelike doodsondersoek van stapel gestuur.

“Ons innige meegevoel gaan uit aan die families van die oorledene.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.