Kyle van Reenen, woordvoerder van Marshall Security, het gesê die maatskappy is kort ná 20:30 na ʼn sakeperseel in Columbine Place in Glen Anil, noord van Durban, ontbied. Volgens Van Reenen is ʼn man op die toneel aangetref. Hy is verskeie kere met ʼn mes gesteek.
Chris Botha, woordvoerder van Netcare 911, het gesê paramedici is na die toneel ontbied. “Die man het op die toneel aan sy beserings beswyk.”
Volgens Van Reenen is die man glo deur vier gewapende mans oorval tydens ʼn rooftogpoging. Dit is in dié stadium egter nog nie duidelik of enigiets gesteel is nie en die verdagtes is steeds soek. Die polisie ondersoek die saak.