Man via Facebook na huis gelok, beroof

(Foto: Unsplash)

’n 30-jarige man van Pretoria is na ’n huis in ’n sekuriteitskompleks gelok, vasgebind en beroof nadat hy ’n selfoon op sosiale media te koop geadverteer het.

Later sou hy uitvind dat dié huis ’n Airbnb is wat die rowers enkele ure voor die voorval bespreek het sodat dit soos die potensiële koper se huis kon voorkom. Dieselfde huis en potensiële koper is na bewering in soortgelyke voorvalle gebruik om slagoffers te lok en te beroof.

Die man het Donderdag op voorwaarde van anonimiteit aan Maroela Media vertel dat hy ’n week gelede ’n iPhone op Facebook Market Place geadverteer het. ’n Jong vrou het hom op Facebook Messenger gekontak en aangedui dat sy belangstel om die selfoon te koop. Die vrou het verlede Donderdag aanvanklik gesê sy sal die selfoon in haar etenstyd kan gaan oplaai, maar het later met die verskoning gekom dat sy nie meer ’n rygeleentheid het nie.

Die vrou het aangedui dat sy in Centurion woon en die man het aangebied om haar ná werk te ontmoet aangesien dit nie ver van sy huis is nie. Die man het toe later ingestem om die selfoon by haar huis te gaan aflaai nadat hy opgemerk het dat die huis in ’n netjiese sekuriteitskompleks geleë is.

“Sy was baie vriendelik. Ek was seker naïef, maar ek het glad nie bedreig gevoel nie,” vertel die man nou.

By die sekuriteitskompleks in Die Hoewes gekom het die vrou die hek vir hom oopgemaak en hom in die oprit na die huis ingewag. Die man sê hy het in dié stadium steeds geen onraad vermoed nie.

“Sy het vriendelik gegroet en het natuurlik en spontaan by die huis ingeloop. Ek het op daardie oomblik gedink dit is ʼn bietjie vreemd dat sy my innooi, maar sy was vriendelik en het lekker gesels. Ek het nie ongemaklik gevoel nie en het haar gevolg.

“Die huis was gemeubileerd en die televisie was aan. Dit het soos ’n doodgewone huis gelyk.”

Argieffoto (Foto: Simon, Pixabay)

Hy vertel dat die vrou hom genooi het om op die bank te sit en iets te drinke aangebied het. Die man het gaan sit maar ʼn drankie van die hand gewys. Die vrou het weer begin gesels, na die selfoon gekyk en oor die selfoon uitgevra.

Dis toe dat twee mans hul opwagting uit die gang gemaak en die vrou spoorloos verdwyn het.

“Ek het gehoor hoe ’n pistool oorgehaal word en toe voel ek iets kouds teen my nek. Ek het eers gedink dis dalk haar man wat ’n grap maak. Ek het omgedraai en twee mans met maskers gesien.”

Een van die mans was gewapen. “Hy het gesê as ek nie iets stupid doen nie, kan ek huis toe gaan vanaand.”

Hy vertel dat die mans hom na een van die slaapkamers gelei en op die vloer laat sit het. Sy hande en voete is toe styf met kabelbinders vasgebind.

“Aan die begin was daar ’n dringendheid by hulle. Hulle het probeer uitvind of iemand moontlik weet waar ek is en of ek enige paniekknoppie gedruk het om alarm te maak.

Ek vermoed hulle het vooraf my Facebook-blad bestudeer. Maar hulle was later nie meer gejaag nie.”

Hy vertel dat die twee mans hom begin uitvra het oor sy bankrekeninge en banklimiete en PIN-nommers. Hulle het sy kaarte geneem en deur die banktoepassings op sy selfoon gegaan.

“Hierdie ouens is slim.”

Een van die mans het met sy bankkaarte gery na ’n kitsbank waar hy R6000 – drie keer R2 000 – uit die een rekening en R5 000 uit ’n ander rekening onttrek het.

Die man wat by hom in die huis gewag het, het deur sy foon gegaan, hom uit sy iCloud-rekening laat uitteken en selfs na die foto’s op sy selfoon gekyk.

“Hy het met my gesels en aangedui dat hy en sy makker slegs roof om te oorleef, nie om mense te cripple nie.”

Sy makker het teruggekeer en al die handvatsels en deure skoongevee voordat hulle hul slagoffer se hande losgemaak en hom gevra het om “vir 15 minute lank” te tel. Hulle het ’n mes in die gang gelaat waarmee hy sy voete kon losmaak. Hulle het ook die man se besittings, insluitend motorsleutels en beursie, op die koffietafel in die sitkamer gelaat.

“Dit was duidelik dat hulle nie beplan het om my seer te maak nie. Hulle het gedreig, maar darem niks gedoen nie.”

Die man kon daarin slaag om sy voete los te sny en het die voorval by die polisie aangemeld.

Die hele episode het byna drie uur lank geduur.

“Ek verwyt myself dat ek in só situasie beland het. Dit gebeur so maklik. ’n Mens moet daarvan bewus wees dat hierdie goed gebeur en moet meer waaksaam wees.

“Vertrou jou instinkte.”

Kapt. Dave Muller, woordvoerder van die polisie, sê die polisie ondersoek ’n paar voorvalle waarin dieselfde modus operandi gebruik is.

“Ons wil die gemeenskap aanmoedig om versigtig te wees wanneer hulle goedere op enige sosialemediaplatforms koop of verkoop. Indien jy ʼn verkoper of koper ontmoet, ontmoet die persoon in die openbaar en neem iemand saam,” sê Muller.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Jakes ·

Dit klink of hulle hele modis operandi fyn uitgewerk is. Die vrou is net so slu soos die mans en hulle doen dit seker al vir n geruime tyd. Ek het ook al goedere op facebook verkoop maar ontmoet altyd n potensiele koper in n mall want daar is net teveel skelms wat n besigheid daarvan maak om jou te beroof. Moet ook nooit jou beursie of bankkaarte saamneem nie.

quartus ·

So leer mens maar soms op die harde manier. Dit is SA. Vertrou niemand en niks,.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.