Man vir dood agtergelaat ná botsing

Juan du Toit (Foto: Facebook)

’n Man van Nigel aan die Oos-Rand is verlede week een oggend vroeg in ’n kritieke toestand langs die wrak van sy bakkie aangetref nadat hy vermoedelik in ’n botsing met ’n vragmotor betrokke was en die vragmotorbestuurder van die toneel gevlug het.

Juan du Toit (38) is vir dood agtergelaat en sy selfoon is ook gesteel. ʼn Ander vragmotorbestuurder het genadiglik later op hom afgekom en hulp ontbied.

Maryke du Toit, Juan se vrou, vertel haar man was verlede Woensdag vroegoggend op pad om in Mpumalanga te gaan visvang toe hy in ’n botsing naby die kruising van die R580 en R50 in die rigting van die Matla-kragstasie naby Kriel betrokke was.

Daar was glo geen ooggetuies die betrokke oggend nie, maar volgens Maryke dui die skade aan Juan se Nissan Hardbody-bakkie daarop dat ’n vragmotor teen die bakkie moes gebots het.

Die bestuurder van ’n ander vragmotor het omstreeks 05:00 die wrak van die bakkie langs die pad aangetref waarna hy op ’n kritiek beseerde Juan langs die wrak in die veld afgekom het. “Hy het nie gedink hy [Juan] lewe nog nie.”

(Foto: Verskaf)

Daar was in dié stadium geen teken van die vragmotor wat vermoedelik ook in die botsing betrokke was nie.

Die bestuurder van die tweede vragmotor het ’n ambulans ontbied en Juan is aanvanklik na ’n hospitaal in Evander gehaas waar hy nie gehelp kon word nie. Juan is toe na ’n hospitaal in Trichardt gehaas waar hy weens die aard van sy beserings na ’n private hospitaal in Alberton vervoer is.

Dit is hiér waar hy sedertdien onder verdowing gekoppel aan ’n ventilator in die waakeenheid aansterk.

Juan het ernstige beserings aan sy pelvis, been, lewer, blaas, milt en rugwerwels in die voorval opgedoen en het reeds drie operasies ondergaan om die skade te herstel.

(Foto: Verskaf)

“Hy is kritiek maar stabiel.”

Juan se selfoondiensverskaffer het intussen bevestig dat die persoon wat in die besit van Juan se selfoon is, van die selfoon gebruik gemaak het voordat Maryke eindelik die gebruik van die simkaart beëindig het.

“Watter soort mens veroorsaak ’n ongeluk en jaag net weg?” wil ’n emosionele Maryke weet.

Maroela Media het ’n navraag aan die polisie in Mpumalanga gestuur en wag op terugvoer.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.