Man wéér in hospitaal ná amputasie

Paul Visagé in die hospitaal.

“Ek het nie woorde om te beskryf hoe moeilik dit is om as kind jou pa só te sien huil en daar is niks meer wat jy vir hom kan doen nie.”

Só vertel ʼn moedelose Selma Visagé aan Maroela Media nadat haar pa die afgelope naweek noodgedwonge wéér in ʼn hospitaal in Rustenburg opgeneem moes word – boonop ʼn private hospitaal sonder enige mediese fonds.

Maroela Media het vroeër berig Paul Visagé (74) het verlede jaar ʼn bakteriële infeksie in sy linkerbeen opgedoen wat daartoe gelei het dat dié been tot by sy knie geamputeer moes word aangesien hy nie aan ʼn mediese fonds behoort nie en dié been nie in ʼn staatshospitaal gered kon word nie. Dié infeksie het egter verder versprei en dié been is vroeër vandeesmaand in ʼn privaat hospitaal tot by die heup geamputeer.

Dit was egter nie die einde van Paul se nagmerrie nie. ʼn Komplikasie van die amputasie, wat Paul laat krul het van pyn, het veroorsaak dat hy weer in die hospitaal opgeneem moes word – met verreikende finansiële implikasies vir sy familie.

Vog het in die been opgebou en veroorsaak dat Paul verskriklik baie pyn het, verduidelik Selma. “Lyk my dit is maar te wagte ná ʼn amputasie, maar met dit óók, kan ons dit nie meer bekostig nie.”

Sy vertel dat die familie nie kans sien om Paul terug na ʼn staatshospitaal te stuur waar hy van die begin van sy siekte af nie die voldoende mediese sorg ontvang het nie. Die familie wil ook geen kanse waag met sy ouderdom en swak imuunstelsel nie en almal in die familie het reeds op hul beurt spaargeld beskikbaar gestel of geld geleen om hul geliefde se lyding te verlig.

Selma sê sy is dankbaar dat die infeksie nog nie weer versprei het nie, hoewel Paul binnekort nasorg soos fisioterapie en rehabilitasie sal moet ontvang – waarvoor die familie ook sal moet opdok.

Sy erken dat sy nie meer finansieel daartoe in staat is om na haar pa om te sien nie. “Dit is regtig finansieel dreinerend en ek kan nie meer help nie. Ek is ʼn enkelma,” sê sy moedeloos.

Sy vertel dat die familie nou geldinsamelingsinisiatiewe op die been gebring het om haar pa vorentoe te help. “Hy is ʼn moedige vegter, maar hierdie ding kry hom onder.”

Besoek Selma se Facebookblad om Paul se vordering te volg, asook meer te wete kom oor die hulpfonds.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Misousa ·

My freaking hart wil breek!!!
Dierbare Selma, en haar pa!!
Oom… ek is so jammer om te hoor van hiedie verskriklike pyn waardeur oom moet gaan!!
Ek is so jammer ek het nie die geld om vir oom sommer net te gee….
Ek is so jammer dat ons in ‘n tyd is, wat leeus gratis elite mediese behandeling kry…, en rowers en moordenaars… maar oom, wie die sout van die aarde is… moet so ly????
Afrikaanse musikante!
Asseblief, Stevie… span julle saam om hierdie oom te help??
Asseblief!!??
Boere.. besighede… ons kan nie so ‘n onreg laat verbygaan??
Asseblief help hierdie kosbare mense!!!
Ek sal nie kan slaap as ek net die oom se pyn in sy oë sien!!!!????????

Gesiggie ·

Misousa… my hart breek ook en dit ruk uit my hart om net te sien hoe weerloos Oom Paul lyk.. en om te dink aan al die pyn wat hy moet ervaar…dan skreeu ek ook uit?? ek wens ek kon help , maar ek weet daar is Engele daar buite wat na Selma se pleit sal luister en die hartseer wat sy ervaar dat sy nie haar Pappa meer kan help. Selma jou Pa waardeer al jou liefde en Jesus sien raak wat jy doen… weet dat God sal voorsien en dat daar Engele op jou pad sal kom,sterkte aan jou en aan Pappa. Hou moed en hou aan Glo.

Wilma ·

Om te dink die govt officials spog met gratis medies. Dis ‘n skande dat soveel onbevoegdes met SA se gesondheid vertrou word. Sies vi jul hopelose spul. Die onnosel massas wie elke keer stem vi die onbevoegdes

Marlene ·

Kan Good Morning Angels nie hier help nie? Bestaan hulle nog?

Goeie idee ·

Marlene, ek hou van jou voorstel. As die familie of vriende hier lees, gaan na Jakaranda se webtuiste. Daar sal hul meer inligting kry aangaande Good Morning Angels ens. Glo in my hart God sal sorg vir oom. Baie sterkte aan al die geliefdes en vriende wat hier deur geraak word.

Sue ·

Dit maak my bitterlik ongelukkig om hierdie even te lees.

Ek het so paar maande vir Maroela Media ook geskryf oor my skoonma wat vreeslik siek was vir 13weke in n staats hospitaal, dat sy aan n “onbekende kondisie” gely het wat veroorsaak het dat sy ooglidverlamming (eyelid paralysis) gehad het, op “life support” was en heelaas, na ek nerens hulp kon kry nie, is sy op 16 Maart 2019 oorlede. Dit was vreeslik wreed teenoor ons as familie wat agter bly. My skoonma was by Transmed Medies wat net so goed was soos geen medies maar ons kinders het dit nie geweet nie.

Wel, nou kry ek geen hulp om die dokterspan aan te kla omdat hulle blukbaar geweet het my Skoonma sou dit nie maak nie. Hulle het haar behandel vir allerlei en vir ons bly jok en se hulle kry nie wat fout is nie. Ons sit met bewyse van dit. Maar eens is Oumense vergete en verworpe in die samelewing. Sy was ook tog nie so oud nie.

Bottomline – seniors en ouer mense kry nie sommer hulp nie. Die is n bitter pil maar regtigwaar die waarheid.

Sterkte vd bg oom en sy familie. My hart is bitter seer saam jul.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.