Mango ook op sakereddingsroete

Mango kan dalk binnekort ook in sakeredding geplaas word. (Foto: Mango/Facebook)

Die laekostelugdiens Mango gaan ook in sakeredding geplaas word.

Thomas Kgokolo, tussentydse hoof van die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAL), waarvan Mango ʼn filiaal is, het Maandagoggend aan eNCA bevestig die redery sal in oorleg met sy aandeelhouers en raad in sakeredding geplaas word.

Die SAL se eie sakereddingsproses is in April vanjaar afgehandel nadat dit reeds in Desember 2019 in sakeredding geplaas is.

Volgens Kgokolo sal die SAL reeds volgende maand vragvlugte kan hervat indien die redery se bedryfslisensie vandeesweek nog goedgekeur word. Daar is in hierdie stadium nog geen duidelikheid oor wanneer passasiersvlugte hervat gaan word nie.

Die vooruitsigte by Mango lyk minder rooskleurig. Werkers by die redery word nie eens meer betaal nie. ʼn Herstruktureringsproses by die SAL se tegniese afdeling, SAAT, asook by AirChefs, is boonop reeds van stapel gestuur.

Die Suid-Afrikaanse Kajuitbemanningsvereniging (Sacca), Mango se Vlieëniersvereniging en die metaalwerkersvakbond Numsa het vroeër vandag in ʼn gesamentlike verklaring gesê hulle gaan ʼn dringende aansoek by die Johannesburgse hooggeregshof indien om Mango in sakeredding te laat plaas.

Die hofstukke sou Maandag by die hof ingedien word.

Volgens die vakbonde het werkers reeds die afgelope twee maande nie salarisse ontvang nie en ondanks beloftes deur die departement van openbare ondernemings dat Mango te hulp gesnel gaan word, het die redery steeds geen bedryfskapitaal ontvang nie.

Die vakbonde sê in ʼn poging om te red wat te redde is en mense se inkomste te beskerm, dien hulle die aansoek vir sakeredding in. Die vakbonde sê hulle neem kennis dat die SAL se bestuur dieselfde aankondiging gedoen het, maar meen dat dit blote praatjies is.

“Hulle het geen werklike stappe gedoen om die redery in sakeredding te plaas nie. Hulle is aangepor deur ons prokureurs wat dokumente die afgelope naweek aan hulle beteken het.”

Die vakbonde sê sowat 1 000 werkers by die SAL word steeds ten volle betaal, terwyl Mango se werkers die redery al 16 maande lank aan die gang hou en nou vir skuldbriefies werk.

Hulle sê navrae aan die departement van openbare ondernemings val boonop op dowe ore.

Mango se werkers is beloof dat R2,7 miljard aan die SAL se filiale toegewys sal word. Hiervan kom R819 miljoen Mango toe. Die toewysing is goedgekeur en in die Staatskoerant aangekondig, maar steeds nie aan Mango oorbetaal nie. Die vakbonde beskuldig die departement nou daarvan dat daar bymotiewe betrokke is.

“Mango het sedert Junie verlede jaar op aandrang van min. Pravin Gordhan in bedryf gebly, maar dit lyk of die departement heel tevrede is daarmee dat hardwerkende werkers van Mango die besluit deur die verskaffing van hul dienste teen geen of weinig vergoeding subsidieer,” lui die vakbonde se verklaring.

Benewens die afgelope twee maande se salarisse, skuld Mango sy werkers gemiddeld ses maande se salarisse.

Vakbonde het vroeër vandeesmaand selfs aan pres. Cyril Ramaphosa geskryf en hom gevra om by die situasie in te gryp en Gordhan aanspreeklik te hou.

Alf Lees, ʼn DA-lid van die parlement se staande komitee oor openbare rekeninge (Skoor), sê Mango het glo laste wat R2,5 miljard oorskry en ʼn reddingsboei van R819 miljoen deur die belastingbetaler gaan hom steeds met ʼn tekort van R1,5 miljard laat. Omdat Mango ʼn filiaal van die SAL is, kan dié laste die probleem van Takatso, die konsortium wat nou 51% van SAL besit, se probleem word.

Takatso het gesê hy sal die aandele in die SAL oorneem, mits daar geen historiese laste oorbly nie. Lees sê dit sluit waarskynlik vir Mango, SAAT en AirChefs – wat almal ten volle aan die SAL behoort – in.

Hy sê die enigste ander uitweg, benewens nog ʼn reddingsboei van die belastingbetaler, is om Mango op dieselfde paadjie as SA Express te stuur.

“Dit sou wees om Mango verlate te laat, in sakeredding en uiteindelik in likwidasie te plaas. Dit sal die SAL, as die moedermaatskappy, vrymaak van enige moontlike aanspreeklikhede vir die laste van Mango sodat die redery kan aanhou sake doen en vlieg.

“Dit sal die departement van openbare ondernemings ook toelaat om die betaling van R819 miljoen te vertraag of glad nie te doen nie,” sê Lees.

Dieselfde lot kan SAAT te beurt val. Die R1,66 miljard wat hy beloof is en wat die president vroeër vandeesmaand afgeteken het, is ook nog nie betaal nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Aai ·

Ja wat kan ons se waar sou ons land nie al gewees het as dit nie vir al die korrupsie en reddingsboei was.

Sarel ·

So…iemand gazn weer geld maak sonder om te werk.
Hoekom word Denel nie onder ” Besigheids” Redding
geplaas word nue

marius ·

Die koning is kaal , maar hy word geprys oor sy pragtige kleed .

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.