Mans glo deur Bolt-bestuurder ontvoer, aangerand

Skermskoot uit beeldmateriaal van die voorval.

“Ek het nie gedink ons gaan oorleef of ooit weer ons families sien nie.”

Só het Francois Myburgh (32) van Pretoria-Wes vandeesweek aan Maroela Media gesê nadat hy en ʼn vriend, Hendrik le Roux (36), op 31 Oktober glo deur ʼn Bolt-bestuurder en sy makkers in Kwaggasrand ontvoer en ernstig aangerand is.

Die bestuurder van die Bolt-voertuig het glo ook Myburgh se bankkaart gevat en probeer om geld uit sy rekening te onttrek.

Die voorval is deur Bolt Suid-Afrika, ʼn aanlyn taxidiens, en die Suid-Afrikaanse Polisiediens bevestig, hoewel die presiese verloop van gebeure in dié stadium deur die slagoffers en bestuurder van die voertuig betwis word.

Francois Myburgh se beserings. (Foto: Verskaf)

Die bestuurder, wie se naam nie bekend is nie, voer aan dat Myburgh en Le Roux hom probeer ontvoer het, en het selfs ʼn saak by die Hercules-polisiestasie aanhangig gemaak. Die erg beseerde vriende moes gevolglik ʼn aand in aanhouding deurbring voordat hulle in die hof verskyn het. Hulle is vlugtig na ʼn hospitaal geneem voordat hulle toegesluit is.

Volgens kol. Noxolo Kweza, polisiewoordvoerder, het die saak reeds voor die hof gedien en is dit tydelik teruggetrek terwyl die ondersoekbeampte verdere inligting opvolg.

“Sodra dit afgehandel is, sal die dossier aan die aanklaer voorgelê word om ʼn besluit te neem.”

Myburgh en Le Roux sê die polisie wou aanvanklik niks van hul weergawe van die gebeure weet nie.

Hulle kon later wel daarin slaag om ʼn saak by die polisie in te dien en Kweza het bevestig dat die polisie ook “ʼn saak van ontvoering teen die Bolt-bestuurders” ondersoek. Daar sal glo binnekort ʼn inhegtenisneming(s) wees.

‘Vanaand maak ons julle dood’

Myburgh verduidelik dat hy omstreeks 20:30 ʼn Bolt vir Le Roux bestel en by die Caltex-vulstasie in Van der Hoffweg gewag het waar die Bolt Le Roux sou aflaai.

Hy is egter deur minstens vyf bestuurders van ander voertuie, vermoedelik ook aan aanlyn taxidienste verbonde, genader kort voordat die Bolt met Le Roux ook daar aangekom het.

Volgens Myburgh het die Bolt-bestuurder aangevoer dat hulle meer moet betaal as wat aanvanklik deur die diens aangedui is.

Francois Myburgh se beserings. (Foto: Verskaf)

“Ons het saam net R54 by ons gehad en dit was genoeg om vir die rit te betaal. Ons sou van die vulstasie af na my huis toe stap, wat nie ver daarvan is nie. Die bestuurder het egter gesê ons skuld hom R70 en hy het die bedrag al hoe meer opgestoot. Hy het gesê ons probeer hom scam. Dit was glad nie die geval nie. Hendrik het reeds ʼn gedeelte van die rit betaal en ek sou die res gee. Hy het Hendrik al in die kar begin slaan.”

Die aanvang van die gebeure is op kringtelevisiekameras by die vulstasie waar Myburgh gewag het, vasgevang. Op die video kan gesien word hoe hy eenkant staan en verskeie motors dan skielik by die vulstasie intrek, gevolg deur die wit Bolt-voertuig waarin Le Roux vervoer is.

ʼn Onderonsie ontstaan dan voordat Myburgh en Le Roux in die kattebak van die Bolt gedwing word. Myburgh is gedurende dié onderonsie glo in die gesig geslaan.

Die voertuie ry dan weg en neem die vriende na ʼn onbekende plek waar hulle glo met vuiste, glasbottels en ʼn belt aangerand is en petrol oor hulle uitgegiet is. Die vriende voer aan daar was eindelik meer as 15 aanvallers teenwoordig, wat almal by die onbekende plek byeengekom het.

Die vermeende aanvallers het glo ook aan die vriende gesê “vanaand maak ons julle dood”.

“Ons is uit die boot geruk en hulle het gesê ons moet ons skoene en kouse uittrek.

“Hulle het ook petrol oor ons uitgegooi en gedreig om ons te brand. Ons het gedink hulle gaan ons doodmaak. Ek dink hulle sou, as van die ander nie kop uitgetrek en gesê het die drywer moet ons polisiestasie toe vat nie.”

Tydens die beweerde aanranding het een van die vermeende aanvallers glo Myburgh se bankkaart gevat en probeer om R3 000 uit sy rekening te onttrek. Dit was egter onsuksesvol, aangesien daar nie genoeg geld in was nie. Hul selfone is gesteel, maar die foon wat Myburgh gebruik het om die Bolt te bestel, was by die huis.

Die vriende vermoed die feit dat dié selfoon by die huis was, het dalk hul lewe gered aangesien die vermeende aanvallers sou besef dat die foon gebruik sou kon word om hul laaste bewegings vas te stel.

Terwyl Myburgh en Le Roux in aanhouding was, was daar verdere pogings om onderskeidelik R100 en R150 uit Myburgh se rekening te onttrek.

Die vriende sê dis vir hulle belangrik om hul ervaring met lede van die publiek te deel, om ander te waarsku om uiters versigtig te wees wanneer hulle enige aanlyn taxidienste gebruik.

Bolt veroordeel geweld

Takura Malaba, landbestuurder (country manager) van Bolt Suid-Afrika, het by navraag aan Maroela Media gesê dat Bolt te alle tye voorvalle van geweld veroordeel ongeag waar of wanneer dit plaasvind.

Hy meen dit “verraai almal se hoop op ʼn veilige Suid-Afrika waar almal vrylik kan rondbeweeg, ongeag hul ligging of tyd van die dag en nag”.

“Ons neem die veiligheid van passasiers en bestuurders wat die platform gebruik baie ernstig op, en het geen verdraagsaamheid vir enige geweld wat plaasvind tydens of rakende ʼn rit wat moontlik deur ons platform moontlik gemaak is nie.”

Malaba sê hulle is bly dat Myburgh die voorval deur die regte kanale en by die polisie aangemeld het, asook dat Bolt die polisie in enige ondersoek sal bystaan.

“Bolt ontwikkel voortdurend veiligheidskenmerke en -gereedskap om veiligheid te bevorder.

“Dit sluit ʼn vennootskap met Namola, ʼn veiligheidstoepassing, in via ʼn geïntegreerde SOS-noodknoppie in die Bolt-app wat die bestuurder se besonderhede en ligging met Namola se 24/7-inbelsentrum deel, en dan onmiddellik private sekerheid- en nooddienste ontplooi.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

12 Kommentare

Harley Davidson ·

Dit klink vir my hulle het nie genoeg geld gehad vir die rit nie ,maar dit is onverskoonbaar vir die bolt bestuurders wat seker ook buitelanders is om die mense aan te rand, en die polisie dit is presies hoe hulle optree die klomp is onbevoeg om te beskerm en te dien.

Harley Davidson ·

Nee,krimineel niks met rassisme te doen nie en nalatigheid deur die polisie soos in meeste gevalle.

Ruby ·

Bolt se naam bly opkom…elke keer vir die verkeerde redes.

Ek sal hulle beslis nie gebruik nie.

Meisie ·

Wel, daars baie stories oor Bolt wat nog altyd die rondtes doen.. Ek is nie verbaas dat dit net al hoe erger raak nie.. Viva SA

Opinie ·

Die twee klim dan in die kattebak, hulle sou my moes doodmaak om my in die kattebak te kry.

Maryna ·

Dis vir my baie hartseer dat so iets gebeur op ‘n publieke plek en niemand daar rond enige iets doen om die voorval te stop nie? Is daar regtig niemand wat die polisie in kennis gestel het daarvan met registrasie nommers toe hierdie twee mans in die kattebak geboender is nie? Of is dit nou allerdaags om te sit en kyk hoe iemand in ‘n kattebak “vervoer” word?

piet ·

Die drywer het hulle polisiestasie toe gevat? Baie vreemd. Kan egter nie net die ouens aanrand nie.

Wielspore ·

Die twee is ontvoer, aangerand en iemand is daarvoor verantwoordelik.

Louis ·

Hoekom sou die polisie nie hulle kant van die saak wou hoor nie? (Asking for a friend)

Maritza ·

So die polisie sluit die passesiers toe na hulle so aangerand is en laat die Bolt drywer los?

Dandeleen ·

Ons was geleer om nie met vreemde mense te praat nie en ook nie om in vreemde mense se motors te klim nie, nou bestel jy ‘n vreemde mens oor die foon en klim in sy voertuig…. Vertrou die storie minder as niks.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.