Maroela-hoof vertel: ‘My ma-hart bewe, maar God het ʼn plan’

(Foto: Verskaf)

Susan Lombaard, Maroela Media se uitvoerende hoof, sê haar ma-hart bewe in haar binneste nadat haar seun, Josua (14), Saterdagoggend in Heidelberg deur ʼn motor raakgery is.

Sy sê egter dat sy oorweldig bewus van God se beskerming is nadat haar seun – buiten blou kolle, knoppe, snye en skaafplekke – eintlik ongedeerd is.

Josua was saam met een van sy vriende, Ruan Griffin, en sy ma, sowel as haar vennoot, by die 1930’s Bentley vs. die Le Train Bleu- wedloopskou in Heidelberg toe die tragedie die jong seun omstreeks 09:00 (letterlik) getref het.

Mariska Griffin, ma van Ruan, en ʼn ooggetuie, sê hulle het van die Heidelberg-lughawe met ʼn bus gery om die Rovos-stoomtrein se aankoms in te wag.

“Ons het oor die pad gestap toe Josua skielik besef dat hy sy foon op die bus vergeet het. Hy het toe terug bus toe gehardloop om sy foon te gaan kry,” vertel Mariska.

“Toe Josua oomblikke later weer die pad oorsteek, tref ʼn motor hom so hard dat hy geweldig ver deur die lug gevlieg het.”

Volgens Griffin het hulle eintlik net die slag gehoor – so vinnig het dit gebeur.

“Toe ek die slag hoor en omdraai het Josua net langs die pad gelê. Een van sy skoene was uit – ons het dit oomblikke later aan die ander kant van die pad, 13 m ver van die ongelukstoneel, opgetel.”

Josua se ma sê hulle vermoed dat die bestuurder van die voertuig teen ʼn redelike spoed gery het toe hy haar kind getref het.

“Josua sê hy het die kar gesien, maar dat die kar nog ver was, hy het gedink hy het nog genoeg tyd gehad om oor die pad te stap, maar toe tref die kar hom,” vertel Lombaard.

“Sy kop het die windskerm gebreek en sy knie die motor se lig. Hy het bo-oor die kar gevlieg en op sy elmboog en ribbes geland.

“Hy kan niks onthou nie behalwe dat hy deur die lug gevlieg het.

“As ek na die foto’s kyk, weet ek dis ʼn wonderwerk dat my kind lewe. ʼn Engel het sy hand om hom gevou die oomblik toe die kar hom tref, ek weet dit.”

 

Griffin sê as jy sien hoe die motor lyk sal jy nie glo dat Josua lewend is nie. Die bestuurder van die voertuig is egter ongedeerd.

“Ons het dadelik gesien dat dit ʼn groot wonderwerk van die Here is. Dit is bonatuurlik, regtig. Sy kop het die voertuig getref, tog het hy nie ʼn enkele steek nodig gehad of een gebreekte been opgedoen nie. Hy het gelewe en hy was wakker, hy was heeltyd by sy volle positiewe.

“Daar is nie ʼn ander manier om dit te beskryf nie.”

Die ambulans het sowat 15 minute later by die toneel aangekom en nooddienswerkers het Josua gestabiliseer.

“Hulle het die heeltyd vir hom vrae gevra terwyl ons op pad was ongevalle toe, hy het hulle selfs oorreed om nie vir hom ʼn drup aan te sit nie omdat hy niks daarvan hou nie,” skerts Griffin.

“Die dokter by ongevalle wat vir Josua ondersoek het, kon geen skade aan sy nek, rug of bene sien nie. Hy het gesê dat Josua maar uit die hospitaal ontslaan kan word, maar toe ek vir hom ʼn foto van die voertuig wys, toe sê hy dadelik dat daar nie ʼn manier is dat hy die kind kan ontslaan nie.”

Josua moes daarna vir breinskandering gaan omdat die dokter bekommerd was oor moontlike swelling op die brein weens die geweldige impak.

Dié uitslae was egter ook bemoedigend – daar was absoluut geen skade aan Josua se brein nie.

‘Oorweldigend bewus van hoe groot God se beskerming is’

Lombaard sê sy het aanvanklik nie besef hoe ernstig die ongeluk was nie.

“Toe Mariska my die oggend bel, het sy gesê Josua is deur ʼn kar gestamp, maar dat hy oukei is – ek het gedink dit was ʼn ligte stampie.

“Toe ek na ʼn rukkie begin besef en soos die besonderhede omtrent die ongeluk meer duidelik geraak het, het ek in my geestesoog gesien hoe ʼn hand om Josua vou.

“Ek het gesien hoe druk ʼn hand tussen Josua en die kar en hoe die hand Josua optel en aan die ander kant van die kar neersit. Ek glo regtig dit is wat gebeur het.

“Dit het my aan Psalm 91:11-12 laat dink: ‘Hy sal sy engele opdrag gee om jou te beskerm waar jy ook al gaan. Op hulle hande sal hulle jou dra, sodat jy nie jou voet teen ʼn klip sal stamp nie.”

Lombaard vertel dat hulle net absoluut dankbaar is dat Josua – buiten die blou kolle, knoppe, snye en skaafplekke – eintlik ongedeerd is.

“Hy is van kop tot tone vol snye, skrape en hoendereiers. Alles pyn en is gekneus en blou, maar behalwe vir ligte harsingskudding makeer hy niks nie. Niks gebreek of gekraak nie, geen steke nie.

“Hy het vandag ongelooflik baie seer, sy elmboë is reusagtig geswel en pers – dit lyk amper soos ʼn volstruiseier, maar om te dink dat hy so hoog en ver deur die lug gevlieg het en op sy elmboë geland het, en dat dít nie eers gebreek het nie, is ongelooflik.

“Ons bid so baie vir ons kinders dat waar hulle ook al gaan ʼn engel saam met hulle sal wees.

“Ek weet dit is wat gebeur het gister, ek weet Josua se beskermengel was daar, God het ʼn groot plan met sy lewe, ons weet dit al vandat hy klein is.

“Ons is dankbaar vir die wonderwerk wat ons beleef het, dit is soveel groter as enigiets anders. Dit is oorweldigend, ek is nie eens bang nie, ek het baie groot geskrik, maar vandaar ervaar ek nie eers vrees nie, ek is net so oorweldigend bewus van hoe groot God se beskerming in ons lewens is.

“My ma-hart bewe in my binneste, maar ek weet ook God het nog groot planne vir dié jong man.

‘Ek het gevlieg’

Josua sê daar was ʼn baie groot gaping tussen hom en die kar toe hy besluit om die pad oor te steek.

“Ek het gesien dat ek dit gemaklik oor die pad sou maak, maar toe ek amper oor die pad is toe voel ek net iets tref my.

“Alles het so vinnig gebeur, toe die kar my tref was dit nie eers seer nie, ek het dit nie gevoel nie, maar ek onthou dat ek in die lug was. Dit het gevoel of die tyd gestop het, alles het net gaan stilstaan.

“Ek was die heeltyd wakker, toe ek die grond uiteindelik tref het ek maar net daar gelê, ek kon nie beweeg nie.

Josua sê dit het vir hom lank gevoel toe hy op hulp moes wag. Verskeie mense het om hom saamgedrom en Griffin-hulle het om hom gestaan en vir hom begin gebid.

“My wonde is skoongemaak en die dokters het gekyk of my nek en rug en alles nog in een stuk was. Daar was snye aan my kop, so hulle het my ook vir ʼn breinskandering gestuur, maar dit was die enigste toets wat gelyk het of dit nodig was,” sê Josua.

“Ek het niks steke gekry nie en ek het nie ʼn been in my liggaam gebreek of kraak nie. Dit is ʼn wonderwerk en ek is regtig baie dankbaar dat ek lewe.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

13 Kommentare

OU SAAR ·

Wat ń wonderwerk.

Wys net hoe groot en almagtig ons Hemelse Vader is.

Nico ·

Onse Vader is goed Hy het die die kind bygestaan, tog het hierdie ongeluk twee kante, voetgangers moet verdag wees, die motoriste kom nie die spoedgrense na nie is altyd haastig want die paaie behoort mos aan hulle.

Fontein Tannie ·

Dankbaar die jongman is nie ernstig beseer nie! Sterkte aan die (Maroela) Familie….

melaney ·

Daar was beslis ‘n engel teenwoordig. Alles lyk goed. Word gou gesond Josua! Alle eer aan Die Here!

Miskruier ·

Dankie Here vir wonderwerke, gee die van ons waar U anders besluit het, die krag om voort te beur.

LIEZL ·

Absoluut, ‘n Lewende Vader, ons dien HOM. Amen, so dankbaar saam met julle

TRP ·

Goeie genade, as ek na die motor kyk is dit beslis ‘n wonderwerk. Baie dankbaar hy is ok.

Dit gebeur so vinnig, dit het met my ook as kind gebeur, ek was net nie so gelukkig om skotvry daarvan af te kom nie.

piket ·

Absolute Wonderwerk! GOD se Tyd van wonderwerke is nog steeds moontlik. Soos gesê, Hy vou Sy Hand om diè wat Hom vrees en sy Gebooie onderhou, wonderlike versekering en maklik om te doen!

Nonnie ·

‘n Ware Wonderware uit Die Almagtige se Hand….Maar dis opmerklik dat daar GEEN WOORD OOR DIE BESTUURDER VAN DIE BLOU VOERTUIG GEREP WORD NIE… Wonder maar net…..

Kobus ·

Watter verhaal van genade! Baie sterkte met die verwerking van die trauma.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.