Marslanding en die Boerseun

Maandagoggend, net na 06:30 Suid-Afrikaanse tyd, sal die wêreld weet of die mensdom een van sy grootste prestasies behaal het. Dan sal die wêreld weet of Nasa daarin geslaag het om die Curiosity-kernkragaangedrewe motor veilig op die rooi planeet te kon neerlaat.

‘n Boerseun van Namibië, dr. Japie van Zyl, is een van die projekleiers en die stuurman van hierdie ambisieuse projek. Hy was pas in Namibië vir ‘n reünie maar moes hom terughaas na die VSA om betyds vir Curiosity se aankoms op Mars te wees. Sy onderhoud met By kan gelees word by http://www.beeld.com/By/Nuus/Via-Namibie-na-Mars-20120803

Die wetenskaplikes beskryf die neerlaatproses met ‘n ruimte-hyskraan as sewe minute van terreur. Die eerste probleem is dat Mars dan so ver van die aarde af is dat dit radiogolwe omtrent 14 minute sal neem om die aarde te bereik, wat regstreekse beheer van die aarde af moeilik maak, en sou daar iets verkeerd gaan, sal die senuagtige wetenskaplikes amper ‘n kwartier na die teenspoed eers daarvan weet.

Die afgelope twee weke het bykans geen koerant ter wêreld wat die naam koerant werd is, nie uitvoerig oor die ruimteprestasie verslag gedoen nie, en amper elke berig bevat iets interessants wat die ander nie bevat nie.

Ongelukkig probeer baie koerante ook sensasie uit die geleentheid maak, en skryf hul artikels onder die vaandel dat Curiosity na tekens van lewe op Mars gaan soek.

Dr. Van Zyl wys egter daarop dat Curiosity nie toegerus is vir die soeke na fossiele nie. Die hoofdoel is om na tekens van water te soek, en meer bepalend, wanneer daar vloeibare, oppervlaktewater op Mars sou gewees het. Vroeëre ekspedisies en ruimtefoto’s het getoon dat daar water onder die oppervlak is, en dat dit skynbaar soms op plekke na die oppervlak syfer.

Maar Mars se temperature is byna altyd onder vriespunt, met tot 153 grade onder vriespunt by die pole.

Tog word gemeen dat Mars, hoofsaaklik weens destydse kweekhuisuitwerking, 3,5 miljard jaar gelede  ‘n klimaat soortgelyk aan die aarde sou gehad het. Sedertdien kon daar periodiek omstandighede saamgespeel het om kortstondig ‘n meer leefbare klimaat as nou te kon skep.

(Lees gerus Maroela se vroeëre berig hieroor by https://maroelamedia.co.za/blog/nuus/n-lewe-op-mars/ )

Curiosity kan wel spore van koolstof soek, wat met lewe soos ons dit ken in verband gebring word.

Van die belangrikste data oor die sending is:

–          Die projek kos $2,5 miljard dollar

–          Met die lansering van die tuig na Mars was die aarde en sy bestemming 205 miljoen kilometer van mekaar, met die “teiken,” Mars, wat teen 90 000 km per uur beweeg, terwyl die aarde self nog vinniger, teen omtrent 107 000 km per uur om die son  wikkel.

–          Dit het 255 dae geneem om die bestemming te bereik.

–          Die Curiosity is so groot soos ‘n sedan, en weeg 899 kg – dus amper ‘n ton. Dit is ontwerp vir ‘n lewensduur van een Marsjaar (twee aardjare).

–          Dit het ‘n laserstraal wat dit na rotse kan “uitskiet” en sensors wat die terugflits ontleed om die rots se samestelling te ontleed. Dit het ook ‘n gryparm waarmee rotse opgelaai kan word vir ontleding, en ‘n boor om gate in die rotse te boor om die stof wat vrygestel word te kan ontleed.

–          Dit het verskeie kameras aan boord, waaronder een op ‘n mens se ooghoogte.

Die werklike toets van die operasie is die manier waarop Curiosity op die oppervlak neergelaat sal word. Vroeëre metodes sal nie werk nie, omdat die tuig heeltemal te swaar is daarvoor, en die ander metodes soos valskerms en lugkussings en selfs hoppende balle het ook nie altyd gewerk nie. Die ruimtetuig sal nou die atmosfeer binnedring en sowat 11 kilometer bo die grond ‘n valskerm gebruik om sy spoed van meer as 1 400 km per uur te verminder. Kort hierna sal tru-vuurpyle afgevuur word en 20 meter van die grond sal die ruimtetuig bly hang en Criosity met ‘n hyskraan versigtig op die planeet neerlaat. Die ruimtetuig sal dan wegskiet om elders, op ‘n veilige afstand, neer te stort.

Die bestemming is die Gale-krater, ‘n baie groot krater en een van die laagste plekke op die planeet met belowende tekens dat water eens daarheen gevloei het. In die krater is die Sharp-berg, wat sowat 5 kilometer hoog is, en Curiosity sal teen sy wande na tekens van onder meer watererosie soek, en selfs ‘n ent bergklim tot by die hoogte wat as “die heining” bekend staan. Dit kan teen ‘n snelheid van sowat 20 km per uur ry – heelwat stadiger as aanvanklike berigte dat dit tot 90 km per uur sou kon haal. (Dit was klaarblyklik omdat die Curiosity met outomatiese navigasie teen sowat 90 meter per uur oor oop terrein kan beweeg, en deur ‘n joernalis verkeerd gelees is).

Maandagoggend vroeg sal Suid-Afrikaners weet of die landing geslaag het, en of Curiostity as net nog ‘n wrak op Mars se oppervlak lê.

Die risiko is groot, erken die wetenskaplikes, maar as die mensdom wil hou by pres. Barack Obama se teiken om teen 2030 die eerste mens op Mars te laat land, moet sekere probleme nou reeds oorkom word. En hierin gaan Curiostity ‘n groot rol speel – as dit die sewe minute van terreur kan oorleef.

Herman Toerien

Meer oor die skrywer: Herman Toerien

Herman Toerien is ‘n veelsydige vryskutskrywer van Bloemfontein. Hy het ‘n Honneurs in Politieke Wetenskap, en kwalifikasies in Politieke Wetenskap, Staatsreg, Arbeidsreg en Ekonomie. Artikels en rubrieke uit sy pen het al in meer as 20 publikasies verskyn.

Deel van: Hoofnuus, Ruimte, SA-nuus

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae