Masjiengraaf wat voete kry, verlate gelos

(Argieffoto: pixabay)

Die polisie se honde-eenheid in Mthatha, Oos-Kaap, het ʼn groot deurbraak gemaak deur ʼn gesteelde masjiengraaf (TLB) en ʼn gekaapte bakkie blitsig op te spoor. Die voertuie is saam sowat R1 miljoen werd.

Kapt. Khaya Tonjeni, polisiewoordvoerder, sê beamptes het Dinsdag inligting ontvang dat ʼn masjiengraaf omstreeks 19:30 by die Jersey Farm Junior Secondary School in die Payne-nedersetting naby Mthatha verdwyn het.

Die masjiengraaf was op die skoolterrein geparkeer toe dit gesteel is. Dit behoort aan EG Plant Hire in Kokstad, wat masjinerie verhuur.

“Na bewering het vier mans met ʼn platbakvragmotor sonder ʼn nommerplaat die sekuriteitswag by die skool se toegangshek beveel om hulle in te laat. Hulle is daarna met die masjiengraaf vort,” sê Tonjeni.

Die eienaar van die masjiengraaf en die voertuigopsporingsmaatskappy is dadelik in kennis gestel en ʼn soektog is saam met die polisie na die voertuig op tou gesit. Die maatskappy het kort daarna die masjiengraaf verlate in Mavuso-straat in Mthatha gevind.

Die polisie het Dinsdag ook blitsig gereageer op ʼn kaping wat glo by die Newbridge-nedersetting naby Mthatha plaasgevind het.

“Dit word beweer dat ’n buitelandse burger in ʼn Toyota Hilux deur twee sedans met agt gewapende mans voorgekeer is. Hy het van ʼn kruidenierswinkel in Vulindlela Heights gery toe die voertuie die pad versper het,” sê Tonjeni.

“Hy is met ʼn vuurwapen in die bagasiebak van die kapers se voertuig gedwing en later by die Orange Grove-bosse afgelaai, waarna hy die voorval by die polisie in Ngangelizwe aangemeld het.”

Dieselfde opsporingsmaatskappy is ontbied en dié het die bakkie enkele ure later ook verlate in die Kwezi-nedersetting gevind.

Niemand is nog in verband met enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Windhond ·

Klink meer of die opsporings maatskappy die polisie vertel het waar om in die laaigraaf en bakkie vas te loop en gelukkig was die honde eenheid beskikbaar om te gaan kyk

JM ·

“Niemand is nog in verband met enige van die voorvalle in hegtenis geneem nie.’ Die ggeykte uitdrukking in dié land. Mense is verby moedeloos en frustrasie. Misdaad word by die dag erger.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.