Matriekuitslae: Dié vakke wek kommer

wiskunde-03

Argieffoto.

Dr. John Volmink, hoof van die raad vir gehalteversekering in algemene en verdere onderwys (Umalusi), het Dinsdag sy kommer uitgespreek oor die prestasie van leerders in wiskunde, rekeningkunde en geskiedenis.

“Daar heers die afgelope jare ʼn kommerwekkende tendens met betrekking tot die uitslae van matriekwiskunde,” het dr. John Volmink, uitvoerende hoof van Umalusi, Dinsdag in Pretoria gesê.

Hy het die gevolgtrekkings van Umalusi se bestudering van die matriekuitslae bespreek. “Die afgelope jare het die uitslae van wiskunde dieselfde gebly. Dit het nie verbeter soos ander vakke, waaronder fisiese wetenskappe nie.” Die afgelope jare het net meer as 50% van leerders wat wiskunde geskryf het, geslaag. Dít volgens die departement van basiese onderwys (DBO) se syfers.

wiskunde-02

Foto: Antoine Dautry/Unsplash.com

“Die manier waarop wiskunde deesdae onderrig word, is om ou eksamenvraestelle uit te werk. Die oplos van probleme word dus roetine en leerders se probleemoplossingsvaardighede word nie behoorlik ontwikkel nie,” sê Volmink. “Ons moet onderwysers beter toerus om wiskunde te onderrig.”

Volmink is ook bekommerd dat die getal leerders wat wiskunde in matriek skryf jaarliks afneem, terwyl die totale getal matrikulante toeneem. Sedert 2015 het die getal kandidate wat wiskunde in matriek geskryf het, afgeneem van 263 903 tot 233 858 in 2018. Dit is nog nie seker hoeveel leerders in 2019 wiskunde geskryf het nie.

Rekeningkunde is ook ʼn bron van kommer vir Umalusi, aangesien die getal kandidate van 140 000 in 2015 tot 90 278 in 2018 afgeneem het. Volmink meen ook daar is nie merkwaardige vordering in die uitslae van rekeningkunde nie, hoewel die slaagsyfer vir dié vak sedert 2016 met drie persentasiepunte toegeneem het van 69,5 tot 72,5 in 2018.

Volmink is ook bekommerd dat leerders wat geskiedenis as vak neem nie behoorlik toegerus word om krities te dink en vrae te beantwoord nie. Volmink het wel sy dank uitgespreek teenoor onderwysers en die DBO vir die oënskynlike ingryping in geografie, wat duidelik blyk uit die resultate vir 2019. Dié vak se slaagsyfer het sedert 2014 stelselmatig afgeneem van 81% in 2014 tot 74% in 2018. Dit is nog nie duidelik wat 2019 se slaagsyfer vir dié vak is nie, maar volgens Volmink het leerders aansienlik beter gevaar.

Umalusi het Dinsdag aangedui dat die oorspronklike 2019-matriekuitslae vir al die bogenoemde vakke net so aanvaar is, sonder om dit aan te pas.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.