Mbalula kry weer bloedneus oor Intercape

Intercape hervat binnekort dienste op plekke in die Oos-Kaap waar taxiverenigings vroeër sy dienste tot stilstand gedwing het. (Argieffoto: Intercape/Facebook)

Die Mkhanda-hooggeregshof het ʼn aansoek om verlof tot appèl deur die minister van vervoer, Fikile Mbalula, teen ʼn bevel om ʼn aksieplan in werking te stel om die langafstandbusdiens Intercape te beskerm, van die hand gewys.

Intercape het die hooggeregshof in September genader om Mbalula en die LUR vir vervoer in die Oos-Kaap te dwing om maatreëls in te stel om die veiligheid van busbestuurders en passasiers te verseker. Die hof het die aansoek toegestaan, maar ʼn maand later het Mbalula daarteen geappelleer.

Mbalula se aansoek is in Desember aangehoor en dit is Dinsdag met koste van die hand gewys.

Regter John Smith het in sy uitspraak gesê die minister se “weerstand” teen samewerking met die provinsiale owerhede is verrassend, veral omdat Suid-Afrika se grondwetlike bedeling gegrond is op die beginsel van samewerkende regering.

Aanvalle het al in 2015 begin, maar het verlede jaar aansienlik vererger. (Foto: Intercape)

Ingevolge die oorspronklike bevel moet die vervoerminister dadelik en met dringendheid ʼn plan ontwikkel en instel om die busdiens se veiligheid te verseker.

Intercape was die afgelope paar jaar die teiken van byna 150 voorvalle wat skieterye en klipgooiery ingesluit het. Ondanks oorweldigende bewyse was daar tot dusver nie ʼn enkele skuldigbevinding ná die voorvalle nie.

Stel bevoegde vervoerminister aan

Johann Ferreira, hoof van Intercape. (Foto: Verskaf)

Johann Ferreira, uitvoerende hoof van Intercape, sê Mbalula het kosbare tyd en staatshulpbronne vermors. “Al die regstappe en meegaande koste was hopeloos onnodig – as min. Mbalula net sy werk gedoen het,” sê Ferreira.

Mbalula is verlede jaar by die ANC se nasionale konferensie tot sekretaris-generaal van die regerende party verkies. Dit is ʼn voltydse posisie wat beteken hy moet as minister van vervoer vervang word.

Pres. Cyril Ramaphosa sal na verwagting binne dae ʼn kabinetskommeling aankondig en Ferreira sê as die president werklik ernstig oor hervorming is, sal hy ʼn minister aanstel wat reg en bestendigheid in die vervoersektor sal verseker.

Bheki Cele, minister van polisie, is volgende in die visier.

“Ons het ʼn beroep op die polisie gedoen om hul werk te doen. Tot dusver het hulle ook versuim. Dit is ons voorneme om dieselfde regsbenadering met min. Cele te volg as wat ons met min. Mbalula gedoen het.

“Albei het versuim om hul grondwetlike pligte na te kom en ons wend ons nou tot die howe om hulle te dwing om op te tree,” sê Ferreira.

Daar kan nie byna 150 sake by die polisie in die Oos-Kaap aanhangig gemaak word en nie ʼn enkele inhegtenisneming of skuldigbevinding volg nie, sê hy.

Bangikhaya Machana (35) is buite Intercape se depot in Kaapstad geskiet. Hy is drie dae later dood. (Foto: Intercape)

“Ons gaan die minister van polisie aanspreeklik hou vir sy onvergeeflike versuim om die oppergesag van die reg te verseker; versuim wat toegelaat het dat anargie heers.”

Nog dienste hervat

Intercape hervat binnekort bedrywighede in vyf Oos-Kaapse gebiede wat gevaarsones geword het, nadat taxiverenigings busdienste daar tot stilstand gedwing het. ʼn Aksieplan is in samewerking met die LUR vir vervoer, die polisie en die minister opgestel en dienste in gebiede soos Cofimvaba, Butterworth, Engcobo, Tshomo en Idutywa sal binnekort hervat word.

“Ons het omvattende insette gelewer en was uiters geduldig terwyl ons gewag het op die owerhede om ʼn samehangende plan saam te stel. Die owerhede is bewus van die bedreiging. Hulle weet wat die oorsprong daarvan is en ons verwag van hulle om hul plig na te kom teenoor die duisende passasiers wat van ons dienste gebruik maak,” sê Ferreira.

Benewens die regering se planne tref die maatskappy bykomende veiligheidsreëlings om die veiligheid van sy werkers en kliënte te verhoog.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

25 Kommentare

marius ·

Dis nie net hierdie maatskappy wat geraak word deur anargistiese verwoesting nie , maar elke burger van hierdie land . Daaraan sal NIKS gedoen word nie .

Martie Smartie ·

Lieflik. Ons betaal belasting om Mbalula se reuse salaris en voordele te betaal. Dan weier hy om sy werk te doen en gebruik ons belastinggeld om sy laskheid in die hof te verdedig. En ‘n privaat persoon moet hom dwing deur die hof om sy werk te doen. En Rama onse breedsprakige president dink dis als cool. Hy gee net sy aandag aan die goggabevelsraad, want gogga maak vir baba(laas) bang. Hy het nou nog goggabangbabalas. Living the African Dream.

Heinrich ·

In geen realiteit kan ek verstaan dat ‘n minister deur ‘n hof gedwing moet word om sy werk te doen en die grondwet te eerbiedig, en dan nog daarteen te appelleer nie.

Vonkprop ·

So kan Mbalula nog aanspreeklik gehou word as hy die pos verlaat of is hierdie nou weer ‘n strategie van die ANC om sy kaders te beskerm en hom uit die pos te lig en op ‘n ander plek te sit? Ek kan nie glo die mannetjie het appelleer teen iets wat die kern van sy werk is nie. Hoe pateties en arrogant kan ‘n mens wees.

Tubac ·

HY is nog steeds verantwoordelik want die saak is gemaak voor hy nou in sy nuwe pos is. Ek wag nou al amper n jaar vir my bestuurlisensie kaart. Nog niks. Sy onbevoegdheid stop wanneer dit by sy nagklub eskapades kom.

Roek ·

Dit is maar ook ek vermoed ‘n geldmaak ding vir die regslui! Ek sal nie omgee om hul sake te doen vir half die prys nie !

Fritz ·

Dit gaan nie oor onbevoegdheid nie dit gaan oor onwilligheid. Suid-Afrika sit met ‘n Taxi mafia wat ongelooflik magtig is en wat het die Guptas ons geleer? Die eerste persoon wat jy op jou betaalstaat kry is die betrokke minister! Die minister van vervoer sal beslis nie optree teen die Taxi mafia nie!

Morné ·

Ons beleef die ongemak as gevolg van die ignorerende gemoedstoestand van die owerhede. Of ons dit wil glo of hoor of nie, indirek gaan dit oor die feit dat hulle nie hulle steur aan aantuigens van ander rasse nie. Dit is ‘n kultuur trotsheid en hulle wil gepamper word met respek vir hul status.
Die vertraging van hulle pligte is omdat hulle nie die grondwet ken nie, of nie wil erken nie.
Die pligstaat van hul pos is vir hulle net ‘n riglyn en hulle sal altyd grondige verskonings aanvoer vir hul skuld in die aangeleentheid, wat tot ons frustasie, meer nadelige gevolge en kostes inhou. Dit gaan hulle nie aan wat ons verloor nie, maar stel net belang in die moontelike aansien en voordeel wat hulle kan geniet in enige geleeentheid.

Herman L ·

Hierdie soort gedrag van ministers sal slegs ophou as hulle in persoon aanspreeklik gehou word. Mbalula behoort die koste van die saak uit sy salaris te betaal en hy behoort van pligsversuim aangekla te word. Solank as die kaders regeer, sal dit nie gebeur nie.

LANA is ELANè ·

So tipies van Mbalula en sommer die hele ANC. Hulle versaak als en almal behalwe hul eie sakke.

Roek ·

Hy het ongelukkig ‘n onuitputlike put vol geld om die saak net weer verder te vat , hy het nog baie opsies en kos dit hom nie ‘n sent nie, die met koste is eintlik ons geld wat gebruik word , die hof moet dit ernstig oorweeg om sulke opsetlike en blatante weerstand die koste bevel teen hom in sy persoonlike hoedanigheid gegee het , dan sal hul gou n ander deunjie sing !

Stofdonkie ·

Die taxi verenigings besit die land. Hulle swaai die septer en die minister maak sekerlik sy geldjie daaruit.

Sonblom ·

Ongelukkig dink die ministers hulle is daar vir die hoë salaris en voordele en nie om hulle werk te doen nie.

Goldy ·

Dis dan inelkgeval hulle plig, dis net nog een bewys dat selfregering die enigste oplossing is want hulle appéleer nou sommer al openlik om te regeer.

Andries ·

Hy sal nie worry nie hyt nou n ander pos geky,die persoon wat nou daar gaan oorneem gaan nou met die gebakte pere sit.Tweedens hyt meer bek as binnegoed.

Althes ·

Mnr Machana se familie moet sommer ñ siviele eis insit teen Mbalula en Cele. En mnr Fereira teen albei ministers. Die staat kan dit weer verhaal van hul 2 se pensioen

Pieter9 ·

Behoort nou goed te gaan met die ANC; Mbalula die Nar is mos nou hulle Sek. General, daar is verantwoordelikheid ‘n apartheid konsep en dus nie van toepassing.

Marcello ·

Ek is so bly vir Interkaap, ek maak gebruik van Interkaap vir die afgelope 17 jaar, en het nog altyd net uitstekende diens gekry, met uiterste bevoegde bestuurders. Dankie Regter Smith, ons het meer van jou soort nodig, om ons land weer optebou. Dit is net jammer dat van die Busbestuurders eers moes sterf, voor daar resultate is.

Samuel ·

Ek kan net saamstem oor die uitstekende diens wat ek nog altyd by Interkaap gekry het.

Danie ·

En so rol die bal en niemand skop hom nie die sleg regering steur hulle nie aan n hofbevel nie.

Blikkies ·

Beteken dit nou omdat Mbalula ge-promote is hoef hy nie meer aan die bevel te voldoen nie? Alhoewel jy bitter sleg moet moes as ‘n hof jou moet beveel om jou werk te doen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.