Mediclinic beleef nou ook toename in dié provinsies

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Mediclinic se hospitale in Mpumalanga, Limpopo en die Wes-Kaap beleef nou óók ’n toename in Covid-19-pasiënte wat hospitaalsorg benodig. Dít terwyl nog geen verbod op alkohol tot op hede ’n wesenlike verskil aan opnames by dié hospitaalgroep se ongevalle-eenhede gemaak het nie.

“Ons voorsien nie dat die jongste verbod toelatings by ons ongevalle-eenhede sal beïnvloed nie,” sê dr. Gerrit de Villiers, hoof- kliniese beampte by Mediclinic Suid-Afrika.

Volgens De Villiers beleef ’n groot deel van die hospitaalbedryf in dié stadium ’n toename in Covid-19-pasiënte en neem die vraag na hospitaalsorg toe weens die erns van pasiënte se toestand. Hy verwag boonop dat die toename in die vraag na hospitaalsorg in die komende weke sal voortduur.

De Villiers merk ook op dat die derde golf Covid-19-gevalle in Gauteng “meer dramaties en veel groter in getalle” is, vergeleke met die vorige virusgolwe en dat die hoogs aansteeklike delta-variant grootliks bydra tot die geweldige druk op hospitale.

Mediclinic beleef steeds ’n groot vraag na hospitaalbeddens veral in Gauteng. Mediclinic volg tans ’n gestruktureerde proses om te bepaal watter pasiënte voorkeur moet geniet. Dit is nie seker wat presies dié proses behels nie.

Pasiënte wat dringend behandeling benodig, word gestabiliseer en opgeneem terwyl Mediclinic deurgaans in verbinding is met ander hospitale, sou pasiënte weens ’n gebrek aan kapasiteit na ander hospitale verwys moet word.

De Villiers sê Mediclinic se kapasiteit wat hospitaalbeddens betref, is steeds “vloeibaar” en word deurlopend gemonitor. Die hospitaalgroep skuif ook toerusting soos ventilators tussen fasiliteite namate sommige fasiliteite onder druk verkeer en dit benodig.

Besoekers, elektiewe chirurgie

Argieffoto (Foto: Unsplash)

Elektiewe chirurgie is tans opgeskort in Mediclinic-hospitale wat weens Covid-19 onder groot druk verkeer, veral in gevalle waar pasiënte ná chirurgie in die waakeenheid of hoësorgeenheid sal moet aansterk.

Noodoperasies gaan egter normaalweg voort.

Besoektye is intussen in verskeie Mediclinic-hospitale hersien. Besoektye mag moontlik beperk of selfs tydelik opgeskort word waar hospitale tans onder geweldige druk verkeer weens ’n toename in Covid-19-pasiënte.

Toegang tot Mediclinic se neonatale hoësorgeenhede (​NICU) en pediatriese sale geld nes voorheen.

Inentings

Volgens De Villiers bedryf Mediclinic tans 10 Pfizer-inentingsentrums. Die hospitaalgroep is ook in die proses om nog 13 inentingspersele op die been te bring waar die Johnson & Johnson-entstof teen Covid-19 toegedien sal word sodra voorraad beskikbaar is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Wonder ·

Wel ek weet nie die level 4 reels maak glad nie sin nie want mense van die Vrystaat kan ook nog deur na limpopo en visa versa hulle ry net Mpumalanga om, ek is tans in n posisie waar my kind se pa haar wil kom haal in limpopo om in Vrystaat by hom in die vakansie te gaan kuier en ek kan niks doen nie… So dit gaan orals heen stroom…

Ansie ·

Die alkoholverbod sal miskien n klein verskil maak, maar al wat werklik ‘n verskil sal maak is mense se gedrag. Ek dink nie eens inentings gaan op dié stadium ‘n beduidende verskil maak nie. Die mense staan in rye teen mekaar en sonder maskers om ingeënt te word. Gepraat van superspreaders.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.