Meer as 48 uur ná ineenstorting; geen reaksie van onder puin

Reddingswerkers op die toneel. (Foto: George-munisipaliteit)

Dit is meer as 48 uur sedert ’n woonstelgebou in aanbou in George ineengestort het. Reddingswerkers ontvang in dié stadium geen verdere reaksie van moontlike oorlewendes van onder die bourommel nie.

“Die fase waarin ons nou is, is lank en moeilik, want ons moet nou na 39 liggame soek,” het Colin Deiner, hoofdirekteur vir rampbestuur, Woensdagmiddag gesê kort nadat die 48-uur-merk oorgesteek is.

Deiner sê dit gaan moeilik wees om die liggame te vind. “Ons gaan baie beton moet breek … ons is in ’n fase waar ons van reddingstoerusting na slopingstoerusting moet oorgaan. Dit beteken nie ons beweeg van redding na herstel [die herwin van liggame] nie, maar ons moet die toerusting verander weens die toestand van die gebourommel.”

Reddingswerkers op die toneel. (Foto: George-munisipaliteit)

Reddingswerkers op die toneel het intussen vitamien B12-aanvullings ontvang in ’n poging om hul kragte te herwin. Vrywilligers het die aanvullings verskaf.

“Hierdie aanvullings speel ’n belangrike rol in die vrystelling van energie en die ondersteuning van algehele liggaamsfunksies onder strawwe toestande,” het die munisipaliteit in sy jongste mededeling oor die stand van sake gesê.

‘n Reddingswerker ontvang ‘n vitamien B12-aanvulling. (Foto: George-munisipaliteit)

Die dodetal staan tans nog op sewe.

Altesaam 29 van die 75 werkers wat tydens die ineenstorting op die perseel was, is lewend uit die puin gehaal. Ses van hulle is in ʼn bedenklike toestand en nog 16 is in ʼn kritieke maar stabiele toestand.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Koen ·

@Dana. Bid laat jou beter voel. Om te gaan help gaan dalk ‘n verskil maak.

Cassie Carstens ·

Hierdie is ‘n tragiese ongeluk wat nooit moes gebeur het nie. Wonder wat sal die ingenieursverslag oplewer. Sal interessant wees om te weet.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.