Meer as 50 uitbrekings van bek-en-klouseer in SA

Foto ter illustrasie (Foto: Verskaf)

Laboratoriumtoetse het ʼn ruk gelede die uitbreking van bek-en-klouseer tussen Potchefstroom en Ventersdorp in Noordwes bevestig. Nou is daar amptelik 56 uitbrekings van dié gevreesde veesiekte regoor die Vrystaat, KwaZulu-Natal, Limpopo, Noordwes en Gauteng.

Die provinsiale veeartsenydienste in Noordwes het ná afloop van ’n ondersoek na die onlangse uitbreking in die omgewing van Potchefstroom bevind dat bek-en-klouseer nou ook na aangrensende plase binne ʼn radius van tien kilometer versprei het.

Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, het egter Maandag gesê die land se tientalle uitbrekings van bek-en-klouseer is hoofsaaklik veroorsaak deur onwettige bewegings van diere uit siektebestuursgebiede in Limpopo.

Volgens die minister is ’n 49-jarige verdagte by Masisi in die Vhembe-distrik van Limpopo in hegtenis geneem nadat hy bokke van die beheerde sone na die vrye sone gebring het. Nog ’n saak, waarin diere onwettig van ’n siektebestuursgebied na veilings in twee onderskeie provinsies verskuif is, word intussen ondersoek.

Sewe gevalle ná veiling

Altesaam sewe gevalle van bek-en-klouseer op plase in Gauteng, Noordwes en die Vrystaat spruit uit ʼn veiling wat verlede maand naby Potchefstroom aangebied is.

In KwaZulu-Natal is ʼn verdere twee besmette diptenks in die Groot 5 Hlabisa-plaaslike munisipaliteit en die Jozini- plaaslike munisipaliteit gevind.

Altesame 43 diptenks het in dié provinsie besmet geraak sedert die siekte die eerste keer in Mei verlede jaar bevestig is.

Didiza sê nou alle besmette plase, diptenks en ander persele in die vyf geraakte provinsies is onder kwarantyn geplaas en geen gesplete hoefdiere word toegelaat om van hierdie plekke af te beweeg nie.

Die minister het benadruk dat diegene wat diere onwettig verskuif, vervolg sal word vir oortreding van die Wet op Dieresiektes.

Diere wat verdagte kliniese simptome toon – onder meer ʼn toename in kwyl, mankheid, blase in die bek of letsels op die hoewe – moet onder geen omstandighede verskuif word nie. “Verskillende kliniese simptome word in uitbrekings gesien, met sommige plase wat byna geen tekens toon nie terwyl ander slegs letsels op die hoewe toon.”

Verhoed bek-en-klouseer só, sê minister

  • Kom alle veeartsenykundige bewegingsbeperkings na.
  • Ken die gesondheidstatus van die diere waarin jy belê.
  • Koop slegs diere wat van bekende en bewese bronne afkomstig is.
  • Dring aan op ʼn gesondheidsverklaring van ʼn veearts voordat diere na jou plaas gebring word.
  • Indien jy twyfel, versoek ’n gesondheidsverklaring van die verkoper se veearts.
  • Hou die nuwe aankomelinge op jou plaas apart van jou diere vir ten minste 28 dae, totdat jy tevrede is dat hulle gesond is.
  • Moenie diere skuif wat tekens van siekte toon nie.
  • Moenie diere van onbekende oorsprong koop nie.
  • Moenie diere koop wat afkomstig is van bekende besmette gebiede nie.
  • Vermy die koop van diere op veilings waar diere van verskillende oorspronge byeenkom, veral as dit nie bedoel is vir onmiddellike slag nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Marius ·

Ons almal behalwe die regering natuurlik weet wat die oorsaak is…

Miskruier ·

Ek hoop die boere in die 10km radius dagvaar die hel uit die uit wat die besmette beeste ingebring het.

Sues ·

Onteien die een wat die besmette beeste ingebring het se eiendom en verkoop dit om die boere in die 10km radius te onderhou tot tyd en wyl hulle weer uit kwarantyn kan kom.

Piet ·

Gaan die bek en klouseer die selfde pad loop as die springkane?

tweeling ·

Ja want die regering het geen planne, hulle gedurig besig met “crisis control” en het geen planne om dinge te verhoed of te keer dat dit buite beheer raak

tweeling ·

Die manier om bek en klou seer te beheer is duidelik sigbaar in Namibië. Ongelukkig is daar geen wil om die werk reg te doen nie en daar is sekerlik korrupsie betrokke. Klink negatief maar die kern is vrot en sal nie maklik regkom nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.