Meer oorstromings in oostelike dele van land verwag

Totale reënval die afgelope naweek (Foto: Suid-Afrikaanse Weerdiens)

Die Suid-Afrikaanse Weerdiens het gewaarsku dat verwagte reënval vandeesweek in die oostelike gedeeltes van die land tot vloede kan lei. Dit volg nadat sekere gedeeltes van KwaZulu-Natal en die oostelike gedeeltes van Mpumalanga en Limpopo die afgelope naweek swaar reënneerslae en donderstorms ervaar het.

Swaar reënneerslae van meer as 100 mm tot 150 mm word vir Donderdag en Vrydag oor die sentrale en oostelike gedeeltes van KwaZulu-Natal verwag. Die afgelope tien dae het KwaZulu-Natal reeds tussen 20 mm en 116 mm reën ontvang. In Gauteng het tussen 30 mm en 70 mm in die onderskeie streke geval en Mpumalanga het tussen 9 mm en 55 mm reën gekry. In Skukuza en Komatidraai het dit egter glad nie gereën nie. In Noordwes het dit 74 mm gereën in Pilansberg en meer as 60 mm in Potchefstroom en Lindleyspoort. Die Noord-Kaap en Wes-Kaap het amper geen reën gekry nie en in die Oos-Kaap het slegs Oos-Londen, Eliot, Port St. Johns en Tsitsikama meer as 10 mm reën gekry.

Hannelee Doubell, woordvoerder van die SA Weerdiens, het gesê KwaZulu-Natal staar moontlike oorstromings in die gesig. “Die beduidende swaar reënval wat die weerstelsel kan meebring, kan oorstromings van paaie en formele en informele nedersettings tot gevolg hê. Dit kan inwoners sonder heenkome laat,” sê sy in ’n verklaring uitgereik deur die weerdiens. Verskeie mense is reeds dood weens vloede in KwaZulu-Natal.

Moontlike modderstortings, grondverskuiwings en gronderosie, veral in die hoogliggende gebiede, kan lei tot verdere ontwrigting van die verkeersvloei.

Die weerdiens waarsku ook teen moontlike oorstromings van nedersettings asook laagliggende gebiede en veral brûe in die oostelike gedeeltes van Mpumalanga en Limpopo sowel as die Kaapse suidkus.

’n Laedrukstelsel wat tans aan die suidkus van die Kaap geleë is, sal na verwagting teen Donderdag in die rigting van KwaZulu-Natal versprei.

Doubell sê alhoewel die reënval broodnodig is, kan dit skadelike wees vir dié gedeeltes van die land.

Die weerdiens sal voortgaan om enige verdere ontwikkelinge in die weerstelsel te monitor.

Volgens Doubell het die weerdiens ’n beroep op die publiek gedoen om gereeld die weervoorspellings op televisie en die radio te volg vir hersiene inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Jim ·

Wel goeie reen gister in sommige dele van die Wes-Kaap. Meer as 30 mm in Robertson en omliggende dele. Ons is dankbaar en juig saam met ons boere!

Niklaas ·

Baie dankbaar. Was so nodig , feitlik orals het dit gereen. Soveel gebede is verhoor.

se net ·

En weereens is die Vrystaat nie geken in statstieke nie. Bestaan die ou nederinge provinsie nie? Nie vir die weer, nie vir die sg Springbokke nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.