Meer stempunte vir SA’ners oorsee

(Foto: OVK)

Die DA het sy saak teen die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) gewen wat meer stemlokale in die buiteland vir vanjaar se verkiesing sal verseker.

Dit kom nadat die kieshof bevestig het dat die OVK se besluit – om Suid-Afrikaners wat oorsee woon te verbied om by konsulate onder bestuur van erekonsuls te stem – tersyde gestel moet word.

Maroela Media het vroeër berig die DA het dokumente by die kieshof ingedien om alle ambassades, hoëkommissariate en konsulate as stemlokale vir die 2024-verkiesing te gebruik.

Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad, sê hierdie optrede volg in reaksie op klagtes van Suid-Afrikaners wat in Perth woon, wat die erekonsulaat as ʼn stempunt versoek het.

“Die hoë kommissaris in Canberra het op hierdie besware en versoeke gereageer en gesê dat die Perth-konsulaat nie vir stemming gebruik kan word nie, aangesien dit ‘nie deur oorgeplaaste personeel van Suid-Afrika gelei word nie’.

“Hierdie standpunt is onregmatig en irrasioneel. Die OVK en die departement van internasionale betrekkinge en samewerking (Dirco) moenie onderskei tussen konsulate onder leiding van ‘oorgeplaaste personeel’ en dié wat deur erekonsuls gelei word nie,” sê Zille.

Die kieshof het hierdie standpunt gehandhaaf en in sy uitspraak gesê die woord “konsulaat” in art. 33 van die Kieswet sluit ook ʼn konsulaat onder leiding van ʼn erekonsul in.

Zille sê dit is ʼn enorme oorwinning vir die meer as 40 000 Suid-Afrikaners wat in Perth woon, asook ander stede waar ʼn soortgelyke situasie ondervind word.

“Die DA sal die OVK monitor om die praktiese implementering van hierdie besluit te verseker, asook om die aantal bykomende stemlokale en die ligging daarvan te bevestig.”

Suid-Afrikaners wat in Perth en ander stede woon, sal tot 22 April steeds ʼn geleentheid hê om hul huidige registrasie na die nuwe stemlokale oor te dra.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

KAIROS ·

Hulle moet die verkiesing verander dat , net mense met belasting nommer mag kies

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.