Meer tyd vir paneel wat OB moet ondersoek

Die Openbare Beskermer, adv. Busisiwe Mkhwebane. (Foto: Twitter)

Die paneel wat aangestel is om te besluit of daar meriete is in die pogings om die openbare beskermer (OB), adv. Busisiwe Mkhwebane, uit haar pos te verwyder, het Woensdag vir die eerste keer vergader.

Die parlement het regter Bess Nkabinde en senior advokate Dumisa Ntsebeza en Johan de Waal vroeër aangewys om die ondersoek te behartig.

Die paneel is veronderstel om binne 30 dae na die aanvang van sy werk ʼn aanbeveling te doen oor of daar ʼn prima facie-saak is vir die verwydering van Mkhwebane uit haar amp soos wat die DA aanvoer.

Hulle het die speaker van die parlement, Thandi Modise, egter reeds gevra dat die voorgeskrewe tydperk verleng word.

Die paneel sê daar is geweldig baie getuienis wat oorweeg moet word en die OB moet boonop ʼn billike tydperk gegun word om op die bewerings teen haar te reageer.

“Die paneel het dus die speaker gevra om sy tydsraamwerk tot 90 dae, met ingang van 25 November, te verleng.

“Die speaker het die versoek oorweeg en is van mening dat dit onder die omstandighede billik is,” lui ʼn verklaring van die parlement.

“Dit is uiters belangrik dat die paneel genoeg tyd het om die mosie en getuienis noukeurig as deel van hul oorwegings te bestudeer en ook die OB ʼn regverdige kans te gee om voorleggings te doen.”

Die bestaande reëls wat die 30 dae tydperk voorskryf, maak nie voorsiening vir ʼn verlenging nie. Modise het haar dus beroep op ʼn ander reël wat die speaker magtiging gee om ʼn tydelike reël te skep wanneer “onvoorsiene omstandighede” ontstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Anton ·

Altyd uitrek, dan is die een weer siek en so gaat ons aan. Uiteindelik gebeur daar niks behalwe as jy ‘n boer is, dan gaan dit chop-chop en jy is tronk toe

JohanR ·

Ek wag vir die worde “die parlement paneel wat aangestel is om ondersoek in te stel of daar meriete is om die OB te ondersoek, is uitgestel tot einde April” Senekal boere eerdags weer in die hof om gevonnis te word.

Hennie J ·

So ironies. Pas benoem om die taak te verrig en vra al klaar vir uitstel. Hoekom dan die benoeming aanvaar as hulle weet die tyd is te min? Die lekker ou soustrein het nog nie die stasie bereik nie!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.