Megan Griesel-moord: Drie weer vlugtig in hof

Megan Griesel (Foto: Facebook)

Die drie verdagtes wat daarvan verdink word dat hulle verantwoordelik was vir die moord op Megan Griesel het Dinsdag weer vlugtig in die hof verskyn.

Mcolisi Makama (27), Sanele Magagula (27) en Godfrey Mashile (32) word daarvan beskuldig dat hulle Griesel, ʼn kleuterskoolonderwyseres van Lydenburg, doodgeskiet het.

Al drie het op aanklagte van moord en sakeroof verskyn. Monica Nyuswa, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag in Mpumalanga, het bevestig bykomende aanklagte van roof met verswarende omstandighede en die onwettige besit van vuurwapens en ammunisie is ook teen die drie aanhangig gemaak.

Voglens Nyuswa sal die staat, weens die ernstige aard van die aanklagtes, die drie se borgtogaansoek teenstaan. Al drie die beskuldigdes het ook vorige veroordelings teen hulle. Die 20-jarige Griesel is verlede jaar doodgeskiet toe sy vermoedelik in die kruisvuur beland het tydens ʼn winkelrooftog op die dorp in Mpumalanga.

Sy was in haar pa, Stephan, se bakkie op pad terug huis toe, toe sy in die skietery beland het.

Maroela Media het voorheen berig ʼn groep swaar gewapende verdagtes het op die noodlottige dag in die vroeë oggendure op ʼn vulstasie op die dorp toegeslaan en die geriefswinkel beroof.

Dieselfde verdagtes is daarna na ʼn nabygeleë sakeonderneming waar hulle glo drank gebuit het.

Dit is in dié stadium dat Griesel verby die rooftoneel gery het en doodgeskiet is. Die rowers het haar vermoedelik vir ʼn veiligheidsbeampte aangesien.

Die drie verdagtes het nie, soos daar verwag is, aansoek om borgtog gedoen nie.

Maroela Media verneem een van die verdagtes se regsverteenwoordigers het nie opgedaag by die hof nie. Die drie se saak is daarna tot later volgende maand uitgestel.

Al drie sal in aanhouding bly tot dan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.