Meisie (10) nog kritiek ná motorfietsongeluk

Frans Kruger (Foto: Facebook)

Die 10-jarige meisie wat Saterdagoggend in ʼn motorfietsongeluk in Boksburg betrokke was, is steeds in ʼn kritieke toestand in die intensiewesorgeenheid van ʼn private hospitaal.

Haar pa, Frans Kruger, is in die ongeluk oorlede.

Die meisie, een van drie sussies, is ʼn leerder by Laerskool Dalview in Brakpan.

Die skoolhoof, Chris Pretorius, het Maandag aan Maroela Media gesê die kind se toestand is nog onveranderd.

Die jongste nuus wat hy van Frans se vrou, Loretta, ontvang het, is dat haar kind se gebreekte been in traksie geplaas is.

Haar koors en bloeddruk styg ook sodra daar enigsins aan haar gewerk word.

“In dié stadium is sy baie onstabiel met geen verandering aan haar toestand nie. Sy is nog steeds in ’n kritieke toestand.

“Dokters kon nog niks doen [onder meer ʼn operasie] om haar te probeer stabiliseer nie. Sy is nog steeds onder een van daai komberse wat help om liggaamstemperatuur te reguleer.”

Pretorius sê die Kruger-egpaar se ander twee dogters was albei Maandag by die skool. Die oudste dogter wat nou in gr. 7 is, het Sondag haar verjaardag gevier en die skool het Maandag vir haar ʼn partytjie gehou.

“Uiteraard is almal maar baie emosioneel,” het Pretorius gesê.

“Ons gebede vir vertroosting en herstel gaan aan Loretta, die kinders en hul geliefdes.”

Maroela Media het vroeër berig dat die motorfiets waarop Kruger en sy dogter was, Saterdagoggend teen ʼn bakkie in Noordrandstraat in Boksburg gebots het.

Met nooddienste se aankoms op die toneel omstreeks 07:30 het Kruger geen tekens van lewe getoon nie.

Kruger se dogter is op die toneel behandel en per helikopter na ʼn hospitaal vervoer.

Nie een van die insittendes in die bakkie is beseer nie. Die presiese omstandighede rakende die voorval word deur die polisie ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Hendrik ·

Baie jammer vir die gesin en dit is tragies. Motorfietse mag maar ook by spoedgrense en padreels hou. Ek ry self motorfiets en sien hoe jaag die manne en doen ‘lane splitting’, maar aan die anderkant sien ek hoe ongelooflik dom dinge wat motorbestuurders maak soos om om u draaie op die naas onmoontlike plekke te maak, oor rooi verkeerslikte te ry. Daar is mos nou nie meer wettoepassing van enige aarde meer nie. Die klomp sit onder brue en doen regtig niks.

TruthDealer ·

Ek dink regtig nie Frans sou waaghalsig gery het met sy dogtertjie ook op die motorfiets nie. Motorfietsryers is heel bewus vd feit dat hulle baie meer kwesbaar is as motorvoertuig bestuurders. Ek het n goeie idee wat hier gebeur het, dis SA. Maar dit daar gelaat, ek wil graag my innige simpatie oordra aan sy geliefdes, en sterkte aan hulle en sy dogtertjie.

Anje ·

Daar is baie mense wat in ons dorp hul kinders skool toe vat op motorfietse. Almal op wiele is deesdae in verskriklike gevaar op ons paaie.

Nettie ·

Ons gebede gaan uit na die dogtertjie en gesin en skool en familie en vriende. Mag God haar gesond maak en die dokters en verpleegsters se hande seën. En mag hul pappa in vrede rus. Sterkte aan die mamma en sussies.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.