Tshwane‑metropolisiebeamptes (TMPD) het een verdagte doodgeskiet en nog twee in hegtenis geneem ná ʼn skietgeveg tussen rowers en die polisie tydens ʼn rooftog by ʼn Sasol-vulstasie uitgebreek het.
Sr.supt. Isaac Mahamba, woordvoerder van die metropolisie, het in ʼn verklaring gesê beamptes was Maandag in die vroeë oggendure besig met patrollies by die Denlyn-winkelsentrum in Mamelodi toe hulle van ʼn gewapende rooftog by ʼn Sasol-vulstasie in kennis gestel is.
“Toe die beamptes by die toneel opdaag, het die verdagtes op hulle losgebrand en ʼn skietgeveg het ontstaan. Een verdagte is doodgeskiet en twee ander is in hegtenis geneem op aanklagte van gewapende roof en poging tot moord,” het Mahamba gesê.
Volgens Mahamba is beslag gelê op ʼn vuurwapen waarvan die reeksnommer afgevyl is. Die wapen behoort glo aan die TMPD.
Mahamba het gesê een van die TMPD se voertuie is getref en beskadig, maar al die beamptes is ongedeerd.
Die verdagtes sal binnekort in die hof verskyn.
Knap gedaan. Doe zo voort!
Mooi so!!!
Mooi so. Dis al hoe ons veiliger strate gaan kry.
Goeie werk hou so aan
Dai ander 2 moes eintlik nou by forensies wees. Misdadigers moet uitgeroei word. Thanx beamptes
Nou word hulle eie wapens teen hulle gebruik.