Miljarde geplunder, terwyl SA nóg R11 miljard leen

Die Wêreldbank se hoofkantoor in Washington in die VSA. Suid-Afrika se lening van R11,4 miljard by die bank is pas goedgekeur. (Foto: Daniel Slim/AFP)

Suid-Afrika se lening van $750 miljoen – sowat R11,4 miljard – by die Wêreldbank is goedgekeur, maar daar is reeds waarskuwings dat die reuselening onbekostigbaar vir Suid-Afrika gaan wees.

Luidens ʼn gesamentlike verklaring van die Wêreldbank en Suid-Afrika se nasionale tesourie gaan die lening die Suid-Afrikaanse regering se pogings om sy “Covid-19-reaksie, gemik op die beskerming van armes en kwesbares van die negatiewe sosio-ekonomiese uitwerking van die pandemie en die ondersteuning van ʼn veerkragtige en volhoubare ekonomiese herstel”, versnel.

Die finansiering word bestempel as ʼn “lae rente- lening” wat bydra tot die regering se fiskale hulpverligtingspakket en vorm deel van steun deur die Internasionale Monetêre Fonds (IMF), die Afrika-ontwikkelingsbank en die Nuwe Ontwikkelingsbank vir die regering se breër strategie om eksterne finansiering van internasionale instellings te bekom.

“Die Wêreldbank se begrotingsteun kom op ʼn kritieke tyd vir ons en gaan bydra tot die hantering van die finansiële gaping wat gelaat is deur bykomende besteding in reaksie op die Covid-19-krisis,” sê Dondo Mogajane, direkteur-generaal van die tesourie.

Mogajane sê die lening gaan dadelik verligting bring, terwyl dit ook die ekonomiese hervormingsagenda steun.

Marie Francoise Marie-Nelly, die Wêreldbank se direkteur verantwoordelik vir onder meer Suid-Afrika, sê die land ondervind sy ergste ekonomiese krisis die afgelope 90 jaar en die lening gaan broodnodige verligting beteken terwyl uitdagings met groei en ontwikkeling ook gepak word.

“Die steun gaan die land hopelik op ʼn meer veerkragtige en inklusiewe roete plaas deur Suid-Afrika se krag in te span om die uitwerking van die Covid-19-krisis deur sy sterk maatskaplike veiligheidsnet te verminder, en deur belangrike ekonomiese hervorming te bevorder,” sê Marie-Nelly.

Die lening vorm ook deel van die Wêreldbank se program om beleggings en werkskepping te stimuleer.

As die tweede grootste ekonomie in Afrika, het die land se ekonomiese prestasie ʼn rimpeleffek op ander lande in die streek. Suid-Afrika se herstel en suksesvolle ekonomiese ontwikkeling sal dus ʼn hupstoot vir die hele streek wees, lui die verklaring.

Skuldgat wink vir SA

Die IVP het reeds sy kommer oor die goedkeuring van die lening te kenne gegee. “Hoewel geld nodig is om Suid-Afrika se ekonomie ʼn hupstoot te gee en dit algemene praktyk is vir lande om hulp by die Wêreldbank en ander internasionale instellings te soek, kan die nasionale tesourie nie bekostig om nog ʼn lening aan te gaan nie,” sê Mzamo Buthelezi, die IVP se adjunkpresident en woordvoerder oor finansies.

Hy sê hoewel die pandemie inderdaad verskeie sektore op hul knieë gedwing het, kan die regering nie nog lenings gebruik om begrotingsgapings te vul, terwyl R500 miljard wat in 2020 vir noodverligting bewillig is, geplunder is nie.

“Die lening kom op ʼn tyd wat die land bloot kop bo water probeer hou. Ons kan ons soewereiniteit as ʼn land verloor omdat ons reeds nie bestaande skuld kan vereffen nie, terwyl die nasionale skuld-tot-BBP-persentasie op naastenby 70% staan.”

Suid-Afrika bestee die meeste van sy belastinginkomste net om skuld terug te betaal.

“Die regering moenie dink die lening is nog ʼn kans om die staat se koffers te plunder, of dat dit die skuldgaping wat ons in die gesig staar, sal laat krimp nie. Ons maak die gaping al hoe groter en grawe onsself dieper in ʼn skuldgat in.

Buthelezi sê vorige lenings, finansiële hulp en ander toelae is deur korrupte staatsamptenare gesteel.

Dr. Dion George, die DA se adjunkwoordvoerder oor finansies, sê ook die tesourie moet die voorwaardes verbonde aan die lening bekend maak. Suid-Afrikaners het geen idee waarvoor die lening is of wat die terugbetalingsterme is nie.

George stem saam dat die land kwalik nog skuld kan bekostig, terwyl daar boonop geen plan is om ekonomiese groei te versnel nie.

Nes die IVP meen die DA ook dat die lening Suid-Afrika in ʼn “soewereine skuldkrisis” kan dompel.

“Die minister van finansies, Enoch Gondongwana, moet minstens verduidelik hoe die lening van die Wêreldbank bestee en terugbetaal gaan word.”

Die land se huidige skuldvlak beteken dienslewering en hulp aan die land se kwesbaarste burgers skiet reeds ver tekort.

“Die vooruitsig dat ons in ʼn skuldgat gaan beland, is ʼn dreigende werklikheid vir Suid-Afrika. Meer skuld gaan nie die land se probleme oplos nie,” sê George.

Die DA meen die wysiging van onsamehangende ekonomiese beleid en die hantering van verbysterende vlakke van korrupsie is wat nou nodig is.

“Pragmatiese ekonomiese beleid is nodig om beleggingskapitaal te lok en ekonomiese groei te versnel.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

21 Kommentare

SlinkseKoljander ·

Dit gaan alles net so na die ANC om hulle aan die lewe te hou, wat n grap!
Wie volgende met die skuld sit pla hulle nie.

Michael ·

Andre ek is oortuig die meerderheid van die ANC glo geld kom van ‘n drukkery af. Indien die belastingbetalers nie meer kan byhou en hulle nie meer kan leen nie dan glo hulle dat hulle dan net weer note kan druk-indien ek verkeerd is sou hulle beslis nie so aangegaan het soos hul wel aangaan nie. Skuld is vir hulle ‘n totaal vreemde konsep

Anoniem ·

Korrek, hulle plunder hulself nou vetterig, want hulle weet dat hulle uurglas uitloop.

Catherina ·

Wêreldbank verstaan regtig nie waaroor alles in RSA gaan nie. Net meer geld om te ……….

Delilah ·

Als gaan na die broeksakke van die ANC wat die presedensie en munisipaliteit se bestuurders en tender maatjies in sluit. Dink hulle regtig ons is so dom? Gmf

Kobus ·

Indien ‘n bank ‘n aansoek om lening oorweeg word verskeie formules gebruik om die kredietwaardigheid van die aansoeker te bepaal. Dalk moet die bank ‘n ander naam kry want geen bank sal geld aan ‘n insolvente entiteit leen nie. Oor paar jaar gaan ons regering ” demand” dat die skuld afgeskryf word want dit was nmos Covid onthou?

Di ·

O wee hier spul ANC kaders gaan nou weer woeker met korrupsie met al hierdie geld. Ons land is klaar uitverkoop met al die skuld wat aangegaan is. Sodra hulle nie die skuld kan terug betaal word sal daar op die bates in die land beslag gele word, dit gaan nie meer lank vat nie. Chinese het klaar groot deel van die land “gekoop” met al die geld wat hulle voorgeskiet het.

AmY ·

Ai tog. Ja, die vuisvoos belastingbetaler is ’tot op die been balas.’ Nou moet hulle maar gaan leen ‘om verder te kan steel.’
Die lening sal seker oor so 100 jaar (indien ooit) afbetaal wees.

Jessey ·

Daarsy, daar is hoeka laas week gese dat dit omtrent die huidige tekort in die NSFAS begroting is. “The world still believe in fairy tales”

JohanR ·

Gryp kaders gryp! Waaneer die ANC ge@Voertsak het gaan die land moet herbou word deur iemand….. Die NP het darem ‘n mooi skoon, werkende, en alles werk land aan hulle oorhandig. Dis soos jou Pa koop vir jou ‘n Mercedes CLS vir jou een en twintigste en twee jaar later het jy die kar in die grond injaag. Dit het die ANC miskien 20 jaar geneem om ‘n land in sy peetjie in te ry!

SwartBees ·

Die geld gaan netso aan die anc en dan moet ons die lening terug betaal. ASB aliens, abduct my!!!!

Nie Verbaas ·

Ek kan nie glo dat die Wêreldbank so onnosel is om vir die korrupte, stelende ANC nog geld te leen nie.

JohanR ·

Is die geld nou ge-order om ANC kaders se salarisse te betaal? Die WereldBank leer net nie. Hulle kan hierdie en enige geld op hulle voorkoppe afskryf……sal bietjie sien maar nooit weer die hele bedrag.

Susan ·

Salaris verhogings en bonusse !!Geld leen is niks dis daai terug betaal en ons weet almal BEE is nie werkskepping.of ekonomiese groei nie!

Lian ·

Nou hoekom vra die minister vir ons insette om hom te help om die land se begroting te balanseer ? Kan net wees dat daar ‘n onwilligheid is om die groot besluite te neem : ” Se nou net hierdie besluit gaan die party opbreek ? Wat gaan gebeur as dit gebeur En wat wat van die neseier ?” Hulle vergeet die goue gans is lankal dood ; dis nou net ‘n kapokkie

Gerra ·

Ongelukkig beheer die Wereldbank nie ook die spandering van die geld. So kiss it goodbye

H.A. ·

Boeties sorg vir boeties. VSA en England, die Anglo broers van die Anc, vir jare al.

Ben ·

Trek 11 af van 500 dan bly daar 489 oor.
Dit is nie ñ druppel in die emmer, wat hulle gemors het met die covid storie nie.
500 biljoen is. 500 duisend miljoen. Ai. Waars dit alles heen.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.