Miljarde nodig om indringerplante te beheer

Hiasinte word uitgehaal. (Foto: City of Cape Town/Facebook)

Onlangse navorsing deur plantdeskundiges dui daarop dat hoewel miljoene rande jaarliks bestee word om indringerplante te probeer uitroei, meer geld eintlik nodig is om die plante geheel en al uit die weg te ruim.

Indien indringerplante nie doeltreffend bestuur word nie sal dit onophoudelik versprei en die groei van die land se inheemse natuurlewe se kniehalter, meen navorsers.

“Hoewel daar sedert 1998 jaarliks R310 miljoen bestee is om indringerplante uit te roei, en hoewel vordering plek-plek gemaak is, het ons steeds nie die stryd gewen nie,” lui die navorsing waarvan die verslag onlangs in die gerekende wetenskaplike vaktydskrif oor bewaring, Biological Conservation, gepubliseer is.

“Verskeie skattings dui daarop dat ons drie tot sewe keer meer geld benodig om indringerplante oral tot hanteerbare vlakke te verminder. Dit is dus uiters belangrik dat die beskikbare geld meer doeltreffend aangewend word om indringerplante in prioriteitsgebiede behoorlik te beheer.”

Brian van Wilgen van die Sentrum vir Indringerbiologie aan die Universiteit Stellenbosch (US), Andrew Wannenburgh van die departement bosbou, visserye en die omgewing, en John Wilson van die Suid-Afrikaanse Nasionale Biodiversiteitsinstituut (SANBI) het saam ʼn oorsigtelike ondersoek na die stand van indringerplantebeheer in die land van stapel gestuur.

In hul navorsing het hulle die koste, omvang en doeltreffendheid van die bestuur van indringerplante deur die regeringsgefinansierde Werk vir Water-program tussen 1998 en 2020 oorsigtelik bestudeer. Dié program is die land se grootste intervensie vir die bestuur van indringerplante en vir die ondersteuning van verskeie agentskappe of individue wat wetlik vir die beheer van indringerplante verantwoordelik is.

Hulle het ʼn breë raamwerk van aanwysers vir die oorsigstudie gebruik om die pogings wat aangewend is om die plantegroei te beheer, die aantal spesies en omvang van gebiede wat behandel is en die doeltreffendheid van behandeling op ʼn nasionale vlak te meet.

Die navorsers voer in die verslag aan dat altesaam R7,1 miljard sedert 1998 aan die beheer van indringerplante bestee is. Opnames wys ook daarop dat die verspreidingsgebied en weligheid van indringerplante die afgelope 20 jaar steeds toegeneem het.

“Dit is duidelik dat die doeltreffendheid van beheeraktiwiteite in nagenoeg 76 000 plekke wat oor 2,7 miljoen ha strek, nie gereeld gemonitor is nie en dat slegs sowat 14% van die geskatte gebied wat binnegedring is, onder hande geneem is. Meer as ʼn kwart van die beheeraktiwiteite was nie in prioriteitsgebiede vir biodiversiteit en/of waterbesparing nie,” sê die navorsers.

“Dit dui daarop dat die probleem te groot is om te verwag dat indringerspesies oral in die land doeltreffend beheer kan word.”

Hulle voer aan dat die land ʼn nasionale strategie benodig wat op duidelik aangeduide prioriteitsgebiede fokus, wat beplanning en monitering verbeter en bedryfsdoeltreffendheid verhoog.

Huidige pogings ‘onvoldoende’

Werk vir Water, wat as ʼn visionêre projek in baie gebiede begin het, was nie in staat om sy aanvanklike doelwit te bereik om 20 000 werkgeleenthede te skep ten einde die stryd teen indringerplante in Suid-Afrika te wen nie.

“Hierdie wanverhouding tussen die droom en die werklikheid het deels ontstaan omdat daar nooit voldoende geld beskikbaar was nie, maar ook omdat duidelike doelwitte nie gestel is nie,” sê die navorsers.

“Daar was ook verskeie strukturele kwessies wat die beheer minder doeltreffend gemaak het en onvoldoende monitering het dit onmoontlik gemaak om die vordering wat gemaak is op ʼn betroubare wyse na te spoor.”

Volgens die navorsing is daar ʼn behoefte aan hoëvlakplanne met langtermyndoelwitte vir prioriteitsgebiede waarvolgens mediumtermynplanne opgestel kan word. Hierdie mediumtermynplanne moet volgens jaarlikse bedryfsplanne in werking gestel en gemonitor word. Daarby bestaan daar ook ʼn dringende behoefte om skaars hulpbronne op prioriteitsgebiede te fokus indien betekenisvolle vordering gemaak wil word.

Die navorsers wys wel daarop dat Werk vir Water ondanks ʼn gebrek aan behoorlike finansiering, steeds as ʼn baie suksesvolle program beskou word.

“Dit het bewustheid omtrent die probleem van biologiese indringers geskep, aansienlike finansiering om die kwessie te takel verseker, indringerplante in groot gebiede uitgewis en het broodnodige werk-, opleiding- en ontwikkelingsgeleenthede geskep.

“Die program het steeds die potensiaal om ʼn positiewe rol te speel om te verseker dat indringerplante doeltreffend beheer word,” sê die navorsers.

Die navorsers stel die volgende ingrypings voor om die program se sukses te verseker:

  • Die vlak van finansiering moet verhoog word;
  • Huidige projekte moet tot ʼn bestuurbare stel binne prioriteitsgebiede verminder word;
  • Duidelike, doelwitgedrewe bestuursplanne vir prioriteitsgebiede vir die lang en medium termyn moet ontwikkel word;
  • Die gebruik van biologiese beheeragente moet maksimaal benut word;
  • Hoërisikospesies moet uitgewis word waar moontlik;
  • Die doeltreffendheid van die bestuur van die indringerspesies moet verbeter word.

“Sou al hierdie ingrypings suksesvol geïmplementeer word, sal ons die stryd teen indringerplante eers begin wen.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Harley Davidson ·

Die weskaap moet afstig dan kan al hierdie probleme aangespreek word ,sa kan nie eers basiese dinge soos ,water en elektrisiteit doeltreffend beheer nie wat nog van indringer plante.

Samuel ·

Indringerplante is ‘n baie lae prioriteit by die ANC kaders. Daar is nie geld te make nie.

Lourens ·

Julle afstigters droom van patataranke. Dit gaan nóóit gebeur nie.

Suzette ·

Ek kan dink huidige pogings is nie voldoende nie – gegewe die in beheer is dit sekerlik die laaste ding waaroor hulle bekommerd sal wees. Dis iemand anders se probleem totdat dit skrikwekkende afmetings aangeneem het dan gaan hulle in ‘n skoktoestand in en niks verder gebeur nie. Dis hoe dit tans in SA werk.

domheks ·

Altyd MEER GELD nodig! Wat het hulle na die miljarde bereik? NIKS, seker weer in iemand se sak.

Grassie ·

Hulle moet liewer sommige van daardie miljarde rande gebruik om baie skadelike indringermense uit agterlike lande noord van ons grense te beheer. Ons land is oorbevolk met ‘n werkloosheidsyfer van iewers tussen veertig en vyftig persent dan stroom daardie ongewenstes steeds ons land in hul duisende, miskien miljoene, binne. Hulle rig meer skade aan as indringerplante.

piper ·

laat die mens wat elke maand 350 rand kry van die staat, voor hy sy geld kry moet hy bewys kan toon van indringer plante wat vernietig is deur hom.

Prikkie ·

Gaan kyk wat het in die Addo Olifantpark by Hapoor dam gebeur omdat indringer plante nie betyds gestuit en uitgeroei is nie.

Die dam is vernietig.

Nou kos dit groot geld om daardie dam te herstel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.