Miljoene rande se gesteelde voertuie teruggekry

Twintig gesteelde 4 x 4-voertuie ter waarde van meer as R17 miljoen is oor die afgelope vier maande teruggevind. (Foto: SAPD)

Die polisie in Limpopo se teen-smokkeltaakspan het die afgelope vier maande 20 gesteelde 4 x 4-voertuie ter waarde van meer as R17 miljoen teruggevind voordat dit deur Beitbrug en ander grenspunte uit die land gesmokkel kon word.

Volgens brig. Hlulani Mashaba, provinsiale polisiewoordvoerder, is die voertuie almal in Gauteng gesteel.

Die betrokke taakspan is in Desember 2023 op die been gebring en het vandeesweek nog ʼn verdagte in hegtenis geneem. Dit bring die aantal verdagtes wat sedert Desember in hegtenis geneem is op 23 te staan.

Die 36-jarige verdagte is Donderdag by die Mall of the North-winkelsentrum in Polokwane aangekeer. Hy was van Gauteng na Beitbrug op pad, aldus Mashaba.

Die polisie het op ʼn Toyota Rav 4 beslag gelê wat vermoedelik in Silverton in Pretoria gesteel is.

Benewens die voertuie het die polisie ook op ander items beslag gelê wat verdagtes oor die grens landuit wou smokkel.

ʼn 31-jarige verdagte is Donderdag in Musina in hegtenis geneem. Die Ford Ranger-bakkie waarmee hy gery het, het bokse vol hoesstroop vervoer wat vir Zimbabwe bestem was.

Die taakspan het ook inligting opgevolg wat tot die opsporing van R150 000 se sigarette by ʼn adres in Matswale gelei het.

Die sigarette was in ʼn Toyota GD6 versteek. Die polisie het op die sigarette – hoofsaaklik Remington – sowel as die voertuig beslag gelê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

Cassie Carstens ·

Ek is bly daar is sukses, maar dis maar gering van wat uitgaan deur smokkelbendes. Maar dis ten minste ‘n begin.

mattk ·

Al hierdie suksesse die afgelope tyd is baie goeie nuus….. Bheki Cele en sy generaals is beslis besig om die SAPS beeld te poleer met die verkiesing wat voorlê.

Di ·

Ons grootste probleem le by die korrupte amptenare op die grensposte werk. Todat hierdie korrupte spul nie ontroon word nie, sal dinge net erger word.

skurweberg ·

Ek is bly oor hierdie nuus, My simpatie is by die rubriekskrywers. Ken nie die prosesse nie, maar al wat ek weet is dat dit vandag baie moeilik is om BETROUBARE INLIGTING uit ondersoeke en navorsing te kry, sodat daar nie onwaarhede gepubliseer word nie. Ons weet Maroela Media se integriteit word nie bevraagteken nie, hulle maak 100% seker dat die waarheid en niks anders as die waarheid geplaas word nie.

Piet parys ·

Mattk dit het my ook opgeval….skielik geen beurtkrag…..baie werkers van Bv Parys word skielik werk gegee….oranje oorpakke oral wat rond staan en wag dat die dag verby gaan

Martie ·

Lyk mos of die 3 provinsies in die Noorde die mekka van bedrog is. Janee Namibie, Zimbabwe en Mosambiek en Swaziland le mos net aan die anderkant en ons kort bietjie goed.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.