Minister gee duidelikheid oor NSFAS-betalings

Argieffoto (Foto: Free-Photos/Pixabay)

Alle behoeftige studente wat verlede jaar vir NSFAS-finansiering gekwalifiseer het, wie se finansiële posisie steeds binne NSFAS-perke val, en die vereiste akademiese sukses behaal het soos in die NSFAS-regulasies vervat, sal weer vanjaar volle NSFAS-finansiering ontvang.

Dié blye nuus, wat ‘n baie groot verligting vir behoeftige gesinne van alle rasse sal wees, is Maandag deur dr. Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, aangekondig.

Die minister het dit duidelik gemaak dat NSFAS-finansiering vanjaar vir die regering ‘n reusagtige finansiële kopseer is, omdat die huidige ekonomiese depressie met gevolglike verdiepende armoede, weens die Covid-19-pandemie en die gepaardgaande grendelstaat, beteken dat baie meer mense vir finansiering gaan kwalifiseer. Waar die regering egter al die nuwe geld vandaan moet kry, weet nugter.

Nzimande sê sy departement is besig om met die nasionale tesourie te onderhandel oor finansiering vir eerstejaars wat kragtens die regulasies vir NSFAS-finansiering kwalifiseer, sowel as finansiering vir senior studente wie se families se finansiële posisie so verswak het dat hulle nou vir die eerste keer vir NSFAS kwalifiseer.

‘n Aankondiging oor hierdie twee kwessies sal later vandeesweek gemaak word, het Nzimande gesê.

Ten einde NSFAS-afhanklike eerstejaars tegemoet te kom totdat dié onsekerheid opgelos is, het alle universiteite ingestem om die tydperk vir registrasie deur eerstejaars met ‘n verdere twee weke te verleng.

Studente met vrae oor toelating, finansiering of enige ander universiteitsverwante kwessie is versoek om met die departement van hoër onderwys in kontak te tree. Dit kan gedoen word deur die student se naam en ID-nommer te SMS na 31629, of ‘n boodskap te laat op die departementele webblad www.dhet.gov.za of ‘n e-pos te stuur na [email protected].

Nzimande het elke universiteitswerknemer – akademici, skoonmakers, administratiewe en ondersteuningspersoneel en ander – bedank dat hulle die sektor funksionerend hou.

‘n Baie groot deel van Nzimande se terugvoer het gehandel oor die bewerings vanaf die linkerkant van die politieke spektrum (byvoorbeeld die EFF) dat die regering studente die kans wil ontsê om universiteit toe te gaan.

Nzimande het gesê dit is glad nie die geval nie. Wat volgens hom wel waar is, is dat elke student die regering geld kos (altyd aan staatsubsidie, en dikwels aan beurse) en dat die regering nie onbeperkte geld het nie.

Daarom is daar ‘n vasgestelde hoeveelheid studente wat elke universiteit mag toelaat.

Verwysend na die huidige hofsaak oor Unisa se besluit om 20 000 minder studente as verlede jaar toe te laat, het Nzimande uitgewys dat Unisa oor die afgelope twee jaar te veel studente toegelaat het, met massiewe negatiewe geldelike gevolge vir die regering.

Nzimande het gesê hy hoop diegene wat hierdie oorskryding van die toegelate getal studente laat gebeur het, ry behoorlik aan die pen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nuff ·

Studente moet al begin klas draf die week en nou word registrasie verleng met twee weke. Die lot het geen benul hoe hulle besluite al die rolspelers raak nie. En nou gaan die akkademiese jaar seker ook weer oorspoel na 2022. Die geld is op mense, word wakker!

Anel ·

As jy nie geld het nie, kan jy nie gaan studeer nie, klaar. Hulle wil alles verniet hê maar daarna wil hulle buitensporige salarisse hê. Ons betaal nou nog aan ons seun se lening en hy ook. Hy al 5 jaar terug afgestudeer en het sy meesters met lof geslaag. Het nou maar vir 2 jaar oorsee gaan werk om dit klaar te betaal en te spaar om huis te koop. Maar ander wil ALLES verniet hê en ons families word uit mekaar geskeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.