Minister moet ingryp met voëlgriep – DA

Foto ter illustrasie. (Foto: Maroela Media)

Die DA versoek dat Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, dringend moet optree aangesien pluimveeboere swaarkry as gevolg van ’n ernstige voëlgriepuitbreking.

Die party het haar versoek om boere by te staan deur entstowwe aan te skaf, dit te registreer en finansiële steun te bied.

Noko Masipa, die DA se skaduminister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, sê verslae dui daarop dat miljoene voëls reeds gevrek het, wat aansienlike bedryfsverliese vir boere veroorsaak het.

“Die departement se stadige reaksie is kommerwekkend. Voedselsekerheid word bedreig en die prys van hoendervleis is deur die dak, wat gevolglik kwesbare gesinne raak. Namibië het selfs hoenderinvoer uit Suid-Afrika weens die uitbreking opgeskort,” sê Masipa.

Om hierdie krisis te hanteer, vra die DA dat die minister die volgende doen:

  • Finansiële steun aan geraakte boere verskaf.
  • Die presiese getal voëlvrektes en die geldelike verliese wat gely is, rapporteer.
  • Die verkryging, toetsing, registrasie en verskaffing van pluimvee-entstowwe binne 30-90 dae fasiliteer.
  • Noodfinansieringspakkette tussen die regering en die private sektor bewerkstellig.

“Didiza moet van die beperkende rompslomp oor entstofregistrasie verwyder om vinnige verkryging van doeltreffende entstowwe te verseker. Tesame met die verkryging van entstowwe moet ’n uitgebreide moniteringstelsel ingestel word om gebiede wat ernstig geraak word in kwarantyn te plaas om die verdere verspreiding van die siekte te voorkom.

“Dit is van kardinale belang dat hierdie voëlgriepuitbreking so vinnig as moontlik onderdruk word om die plaaslike pluimveebedryf te red, werksgeleenthede te bewaar en die voortgesette voorsiening van bekostigbare hoender aan verbruikers te verseker.”

Maroela Media het vroeër berig dié voëlgriepuitbreking word as die ergste wat die land nóg getref het, beskou.

Quantum Foods het verlede Vrydag gesê hy moes vanjaar al byna twee miljoen hoenders, ter waarde van meer as R100 miljoen rand, van kant maak. Volgens Astral Foods kos die uitbreking hom tot dusver R220 miljoen rand.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

marius ·

Hierdie boere maak miljarde . Hoekom moet die belasting betaler pa staan ? Koop julle eie entstof.

Nommer 7 ·

Ingevoerde hoendervleis vanuit Australie (sonder invoerbelasting), sal twee derdes goedkoper wees as plaaslike hoender. Indien daar dus ‘n wil is, is voedselsekerheid nie ‘n kwessie nie, maar slegs ‘n bangmaak storie.

Gaitsigubib ·

Noko jy het voorwaar n interesante naam en van. Jou ouers het seker n goeie sin vir humor.

Pierre ·

Die “ministers” sal begin spark as hulle Kentucky eers opraak.

Truman Burbank ·

Die H5N1 virus word vernietig by 56 grade c. Iets maak nie sin nie. Hoe oorleef dit kook en braai proses

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.