Minister se besluit vir myn by Krugerwildtuin afgekeur

Argieffoto (Foto: Krisztina Papp/Pixabay)

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n hofbevel bekom wat Barbara Creecy, minister van bosbou, visserye en omgewingsake se besluit om ’n omstrede mynaansoek te hersien, tersyde stel. Dié aansoek is reeds in 2019 ingedien om digby die Nasionale Krugerwildtuin te myn.

AfriForum het hierdie aansoek gebring aangesien die mynmaatskappy, Manzolwandle Investments (Edms.) Bpk. ’n appèlproses begin het nadat die departement van minerale hulpbronne en energie die maatskappy se mynaansoek afgekeur het.

Creecy het egter die mynmaatskappy se appèlaansoek vir die hersiening van die besluit goedgekeur. “Die minister het haar besluit geneem op inligting wat nie die waarheid weerspieël nie,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van omgewingsake by AfriForum.

AfriForum, wat in dié aansoek as ’n belanghebbende en geaffekteerde party geregistreer is, is nooit in die saak geken nie. Volgens die Nasionale Omgewingsbestuurswet (Nema) se appèlproses moes die organisasie asook al die ander belanghebbende en geaffekteerde partye in die besluit en proses geken word.

Volgens De Klerk is dit ’n groot oorwinning, maar die stryd is nog glad nie verby nie. “Dit het ook aan die lig gekom dat Tenbosch Mining (Edms.) Bpk. wat Manzolwandle Investments volgens die organisasie se inligting oorgekoop het, ook ’n aansoek ingedien het om in die gebied te myn. Dié aansoek stem ooreen met vorige aansoeke waarin heelwat ongerymdhede en prosedurele gebreke voorkom.”

De Klerk sê AfriForum sal dié kwessie ook teenstaan en die organisasie is besig om met sy regspan te konsulteer oor die moontlikheid om mynaansoeke in die gebied geheel en al te stop.

AfriForum moedig lede van die publiek wat die Krugerwildtuin gereeld besoek en ’n liefde vir die area het aan om die organisasie te steun. “Jy kan ons help deur ons veldtog #BewaarOnsNatuur te ondersteun. SMS “KNP” na 45340 (R1).”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hasie ·

Als onder die dekmantel van diere wat gestroop gaan word. Almal weet dit gaan die pad soveel makliker maak om diere aan te val en uit te byt…smokkel handel sal floreer en die diere in gevaar stel.Geld is mos al waaraan mense kan dink sonder om te besef wat is die impak op die natuur.

Di ·

AL waaroor hulle omgee is GELD! te hel met alles wat verwoes word, solank die geld invloei is hulle gelukkig. SO vernietig hulle ons wonderlike land, als vir GELD

Grassie ·

Vroeër of later gaan die myne die stryd waarskynlik wen. Daar is nog net nie genoeg pasellas onder die tafel deur gegee nie.

annie ·

Die antie dra g’n kennis van vis of vlees nie sonder enige liefde vir die natuur. Maak haar minister buitelandse oorlogvoering. Sover wou sy net almal wat wil boor en skiet en skoorsoek gelukkig hou. Watter opleiding het sy? Ondersoek haar banksake.

Niklaas ·

Ons sal nie verbaas wees as daar reeds ‘n stewige “Africa Salute” (hand vol note agter die rug) aangebied is nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.