Misdaadstatistieke: Enkele moord minder in Gauteng

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Tania Heyns/Maroela Media)

Vir die eerste keer sedert die Covid-19-pandemie toon Gauteng se kwartaallikse misdaadsyfers eindelik ʼn daling in die moordsyfer.

Sommige sal egter sê dit is kwalik iets om oor opgewonde te raak aangesien daar maar een minder moord in Gauteng in die tweede kwartaal van die jaar in die provinsie gepleeg is vergeleke met verlede jaar se tweede kwartaal.

Altesame 1 489 slagoffers – onder wie 167 vroue en 47 kinders – is tussen April en Junie vanjaar in Gauteng vermoor. Altesame 1 490 slagoffers is in hierdie tyd verlede jaar in die provinsie om die lewe gebring.

Lt.genl. Elias Mawela, provinsiale polisiekommissaris in Gauteng, sê egter “elke oorwinning tel”.

Mawela het Dinsdag die kwartaallikse misdaadstatistieke bekend gemaak.

Luidens die syfers het misdaad in Gauteng van 1 April tot 30 Junie oor die algemeen met 4% toegeneem vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar. Die digbevolkte provinsie het ook meer as ʼn kwart (27,9%) tot die nasionale misdaadstatistieke vir die eerste kwartaal van 2023/’24 bygedra.

(Argieffoto: Pieter Cloete/Maroela Media)

Die jongste statistieke toon dat Gauteng in die tweede kwartaal veral deur polisiemoorde geteister is. Nie minder nie as 12 polisiebeamptes is binne drie maande om die lewe gebring. Agt van die beamptes was tydens die moorde egter nie aan diens nie.

Kontakmisdade het intussen met 6% toegeneem. Altesame 42 752 van hierdie oortredings is tussen begin April en einde Junie aangemeld.

Volgens Mawela is aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer steeds die grootste bydraers tot algehele kontakmisdaad. Hierdie twee oortredings het met onderskeidelik 11,3% en 7,8% in die tweede kwartaal toegeneem.

Dit kom neer op 20 088 voorvalle van aanranding en aanranding met die doel om ernstig te beseer binne drie maande.

Roof met verswarende omstandighede het intussen met 1,5% toegeneem. Dit is 203 meer aanklagte as in dieselfde tyd verlede jaar. Mawela sê dit is as gevolg van die toename van rooftogte by huise (+13,7%) en sakepersele (+1,8%).

Seksuele misdrywe het vir die tydperk onder oorsig met 1% afgeneem.

Motorkaping het met 12,1% afgeneem en transitorooftogte met 38,9%. Sewe minder aanklagte van transitoroof is vanjaar aanhangig gemaak vergeleke met dieselfde tydperk verlede jaar.

Vragmotorkapings het met 4% afgeneem – 12 minder aanklagte as verlede jaar.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Karoo ·

Sal ons ooit die syfers werklik kan glo? Want elke dag lees ons net meer oor moord en teenspoed as wat daar werkbare dinge inplek gesit word om ALMAL wat wetsgehoorsaam is te beskerm.

Marius ·

Natuurlik sal die syfers daal in GP , want die moordenaars trek kus toe. Baie maklik.

Bolandse Nooi ·

Ja, hulle kom vertrap ons nou hier in die Wes-Kaap. Elke 3de voertuig wat jy sien in ons plattelandse dorpe, het ‘n GP, NW- of KZN-registrasie. G’n wonder ons gebore Wes-Kapenaars word uit ons eie dorpe verdryf, ons werke van ons weggevat, ons pap uit ons monde gegaps nie.

Bolandse Nooi ·

My hene, ons moet hande-klap, mense!!!! Kom nou, klap-klap-klap-klap!!! Daar is 1 x minder moord gewees die afgelope 3 maande in ‘Gangsta’s Paradise”. Die ANC-beheerde polisie WERK, mense; hulle WERK regtig!!! Die kriminele begin bang raak vir die “pote”. Daarom vermoor hulle nou minder mense. O … dit het seker niks daarmee te doen dat die meeste mense nou ‘n omwaartse keer maak soos in 1838 nie; pleks van opwaarts trek, weg van die Kaap af, trek hulle nou terúg Kaap toe … om van die massa-meerderheidsmoordenaars weg te kom. Uhm … ek het net nuus vir julle; hulle trek sáám!

Harley Davidson ·

Die syfers word so gekook en gemanipuleer dat ek enige statistieke wat van die ‘polisie ” afkomstig is met ‘n knippie sout neem.

absoluut ·

Ek glo daar is minder misdaad omdat minder aangemeld word want al hoe meer is ons polisie deel van die misdade of hulle maak dit so moeilik om te gaan aanmeld dat dit eerder gelos word

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.