Misdaadstatistieke: Regering moet pa staan

Foto bloot ter illustrasie. (Argieffoto: Kent Williamson)

As die regering aanhou versuim om ʼn veilige omgewing vir almal te skep, skend hy die reg op lewe en veiligheid van die persoon, en moet hy verantwoordelik gehou word.

“Die regering moet pa staan hiervoor,” het Shenilla Mohamed, uitvoerende direkteur van Amnestie Internasionaal Suid-Afrika, in reaksie op die jongste misdaadstatistieke gesê.

Daar moet onder meer ʼn volledige hersiening van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) plaasvind sodat dit geskik is vir die doel om die uiters hoë vlakke van misdaad te hanteer, meen Mohamed.

Die moordsyfer in Suid-Afrika is op ʼn kommerwekkend hoë vlak met gemiddeld 69 mense wat van Januarie tot Maart 2023 per dag vermoor is. Gevalle van moord het sedert 2019 met altesaam 28,5% toegeneem.

“Ons kan nie meer toelaat dat geweldsmisdade straffeloos voortgaan nie. Die regstelsel moet as afskrikmiddel optree, en die eerste stap is om te verseker dat die polisie deeglike, doeltreffende en deursigtige ondersoeke na alle moorde kan doen en verseker dat die oortreders ooreenkomstig met die wet aangekla word.”

Die statistieke toon dat moord op vroue ook met 7,9% en poging tot moord met ʼn skokkende 21,5% toegeneem het vergeleke met dieselfde verslagtydperk van die vorige jaar.

Moord op kinders het met 19,9% gedaal vergeleke met dieselfde kwartaal verlede jaar, maar die poging tot moord op kinders het met 8,8% gestyg.

“Die voortgesette aanslag op vroue en kinders in Suid-Afrika is skandelik. Die land het baie planne. Ons het baie retoriek, talle stellings wat deur die president en regeringsamptenare gemaak word, asook drie nuwe wette oor geslagsgebaseerde geweld, maar ons sien dat niemand veilig is nie, veral nie vroue en kinders nie,” het Mohamed gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

annie ·

One man one policeman…. het ‘n plakaat van een party aan die begin van die Nuwe SA gelui. Dié party is dood maar die plakaat was waar. En nou is die polisie ook nie meer te vertrou nie. Net drie dekades was genoeg om die land af te ry tot in ‘n rampstaat. Boosheid regeer. Waarop hoop ons? Die ANC is marxisties-ongelowig. Geen seën sal hier rus nie. Ons kan maar blaas en blast.

Di ·

Onbevoegde mense wat in hierdie poste aangestel word. Hulle is nie daar om die gemeenskap te bedien nie, wag net vir die volgende salaris. Meeste van nuwe aangestelde lede het self kriminele rekords. Raak ontslae van Cele, Hy moes LANKAL op pension gegaan het. Polisiediens is een kriminele nes

Andries ·

Nee wat los maar die kaders is te swak om pa te staan vir hulle pligte.

Kobus ·

Pa staan? Watter regering? Die ANC kaders? My kans op swangerskap is baie groter !

Elma ·

Regering moet pa staan……nou maar goed dan…. Dis soos om te sê mens “aanvaar volle verantwoordelikheid”. Dit beteken niks.

Suzette ·

Wonder wat sal gebeur as mense begin om reg in eie hande te neem ????

Leon ·

TRAGIES DIT IS N TRAGEDIE VAN ONBEPAALBARE VERLIES , EN DIT IS TOTAAL ONNODIG VEROORSAAK DEUR N REGERING WAT EENVOUDIG NIE OMGEE VIR SY MENSE NIE OF N VERSTEEKTE AGENDA OF BEIDE ???????? NET HULLE WEET ????????

Skappie ·

Waar is die ou dae. In daardie tyd het ons geen duiwelse dinge van die regering gehad nie. Ons land word deur bose mense geregeer. Dit is tyd dat ons dit moet stop sit.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.