Moeilike operasie red kleuter se kaak

Die span kenners wat aan die komplekse operasie gewerk het. (Foto: Verskaf)

ʼn Kleuter van Kaapstad het weer ʼn huppel in haar stap gekry nadat ʼn groep chirurge haar onderkaak herbou het nadat ʼn deel daarvan deur ʼn gewas weggevreet is.

Die dogtertjie, wat anoniem bly om haar identiteit te beskerm, het ná geboorte ʼn niekwaadaardige gewas ontwikkel. Dit is egter eers ná ʼn lang gesukkel gediagnoseer en eindelik behandel om haar volle mobiliteit van haar gesig te gee.

“Om haar te sien glimlag, is verblydend,” sê haar ouers.

Die veselagtige gewas is ʼn seldsame soort gewas en dié kleuter is een van net ʼn handjievol mense wat dit al opgedoen het. Hierdie soort gewas affekteer slegs kinders.

Haar ouers het destyds besef iets is nie reg toe haar gesiggie opswel en geen medikasie die swelling wou laat sak nie. Hulle is na ʼn pediater, dr. Zakiyya Omarjee, verwys wat ʼn reeks toetse moes doen om die raaiselagtige swelling te verklaar.

“Ek was so emosioneel in daardie stadium. Dit was moeilik om te sien hoe jou kind met naalde gesteek word en tientalle toetse moet ondergaan. Na die soveelste toets kon die dokters steeds nie met sekerheid sê wat fout is met haar nie,” vertel die dogtertjie se ma.

Prof. Daniel Sidler, ʼn pediatriese chirurg by die Netcare Blaauwberg-hospitaal in Kaapstad, het ingetree om die oorsaak van die swelling vas te stel.

“Ons het eindelik die soort gewas geïdentifiseer. Hoewel dit niekwaadaardig was, moes sy nogtans ʼn komplekse operasie ondergaan omdat die gewas ʼn deel van haar regterkaak weggevreet het,” sê Sidler.

“Ons was so oorweldig toe die nuus aan ons oorgedra is oor haar diagnose. Ons kon net dink aan ons kind wat lag en speel soos enige ander tweejarige – onbewus van die groot operasie en herstel wat vir haar voorlê,” sê die pa.

Span kenners nodig om operasie aan te pak

Die dogtertjie se kaak voor die operasie. (Foto: Verskaf)

Dr. Sunil Aniruth, ʼn mond-en-kaakchirurg, het saam met Sidler ʼn span van kenners gekry om saam aan die komplekse operasie te werk. Die doel was nie net om die gewas te verwyder nie, maar ook om die spasie wat dit sou laat te vul met ʼn funksionele plaasvervanger vir die kind se kakebeen.

“Om die risiko te verminder dat die gewas terugkom moes ons van die omliggende gesonde weefsel verwyder,” sê Sidler.

“Ons het egter in dieselfde operasie die kind se kakebeen herbou sodat sy haar gesig soos normaal kan gebruik.”

Dr. Alexander Zühlke, ʼn mikro-, plastiese en rekonstruktiewe chirurg, het die rekonstruksie gedoen.

“Dit was van kardinale belang om nuwe, vaskulêre been te verskaf om die onderkaak te rekonstrueer, want as daar onstabiliteit is, sal die persoon nie aan daardie kant kan kou nie. Die besluit is geneem om die sentrale gedeelte van die fibula te gebruik, wat die kleiner deel van die onderbeen is en nie nodig is vir beenstabiliteit nie. Hierdie been het ʼn soortgelyke dikte en sterkte as die kakebeen,” sê Zühlke.

Die fibula is uit die kind se been verwyder, asook die slagaar en are wat nodig is om die fibula van suurstof en voedingstowwe te voorsien, omdat die been nie kan funksioneer sonder behoorlike bloedtoevoer nie.

Zühlke het toe onder ʼn mikroskoop die slagaar en aar van die fibula, wat by so ʼn klein kindjie minder as 2 mm in deursnee is, noukeurig aan ʼn slagaar en aar in die nek verbind. Hierdie delikate en ingewikkelde werk het baie fyn steke vereis.

Kind sterk, selfversekerd ná herstel

Die dogtertjie se kaak na die operasie. (Foto: Verskaf)

“Sy is weer ʼn liefdevolle, gelukkige kind. Om te sien hoe ons kind so selfversekerd geraak het met enigiets wat sy aanpak, maak ons as ouers vreeslik trots,” sê die kind se ouers.

By haar opvolgafspraak het die dokters bevestig dat die beenoorplanting aan die kakebeen geheg het en dat dit stabiel en funksioneel is. ʼn Tweede operasie is egter later deur Aniruth gedoen om die plate te verwyder om te verhoed dat dit die kind se groei beperk. Toekomstige behandeling sal wel nodig wees namate sy groei.

“Sy is ʼn ongelooflike, dapper en sterk dogtertjie. Ons is so dankbaar vir die hele span wat ons dogter bygestaan ​​het.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Trotse Boervrou ·

Groot dank aan hierdie span chirurge en almal wat hul bygestaan het. Mag jul geseën word vir die werk wat jul doen. So verblydend dat die klein mensie weer so mooi kan glimlag en dat sy nou ‘n normale lewe kan lei.

melaney ·

Baie dankbaar dat daar nog medici in Suid Afrika is om sulke prosedure te kan uitvoer. Mag dit vorentoe net goed gaan met hierdie gesin.

TRP ·

Soos ek lees besef ek hoe ongelooflik dokters eintlik is. Verbeel jou al hierdie kundiges verlaat die land? So dankbaar dat die kleintjie gehelp kon word. Sterkte met die herstelpad. Hou aan glimlag.

Groen Ghoen ·

Wonderlik! Dit is die verskil tussen mense wat heling bring en diegene wat afbreek soos Malema en Lesufi.

Leendert ·

Die storie het so’n mooi einde, ek het dit sommer 2 keer gelees.

Casper ·

Fantasties,Die GROOT GENEESHEER het ingetreê en die dokters as instrumente gebruik om Sy kind te help.

Swerwer ·

Ai dit is sulke verblywende nuus. Alle eers en dank aan ons Hemelse Vader en Chirurge wat die familie en haar bygestaan en gehelp het.

Nettie ·

Sjoe, ek is dankbaar hulle kon die kleintjie help. Ek wonder hoe oud is sy nou? Ek het self kaak sjirurgie gehad, en om normaal te kan glimlag beteken so verskriklik baie. Selfs 30 jaar later nog steeds. Mag God al die hande seën wat aan haar gewerk het, en wat nog in die toekoms gaan. Sy’s pragtig en kosbaar en ek hoop sy herstel elke keer ten volle.

Althes ·

Inderdaad ñ pragtige verhaal. Bly die kleinding se gesiggie is reg.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.