Monument se tekeninge dekades later ‘tuis’

Die tekeninge, wat deur die befaamde argitek Gerard Moerdijk geteken is, dateer tussen 1937 (’n jaar voor die hoeksteen van die monument gelê is) en 1949 (die jaar waarin die monument geopen is) (Foto: Verskaf)

Die oorspronklike argitekstekeninge van die Voortrekkermonument is 80 jaar ná dit opgetrek is, weer aan die monument beskikbaar gestel en sal nou by dié monument sy laaste rusplek kry.

Dít nadat die tekeninge jare lank onder ʼn Engelsman se afdak gelê en stof opgaar het.

Die tekeninge, wat deur die befaamde argitek Gerard Moerdijk geteken is, dateer tussen 1937 (’n jaar voor die hoeksteen van die monument gelê is) en 1949 (die jaar waarin die monument geopen is).

Volgens Gerhard Pretorius, kommunikasiebeampte van die Voortrekkermonument, is meer as 40 van hierdie tekeninge deur Lance Rodger, wie se pa saam met Moerdijk gewerk het, aan die monument beskikbaar gestel. Van die tekeninge is nie van die monument self nie, maar hou verband met die ontwerp van onder meer die amfiteater.

Volgens Rodger het die tekeninge ná sy pa se dood tien jaar lank sonder sy medewete onder ’n buite-afdak gelê. “Rodger se vriend het nog vir hom gesê dit is ironies dat ’n Engelsman die grootste argitekskatte van die Afrikanererfenis besit,” sê Pretorius.

Pretorius sê Rodger is op pad oorsee en kan nie al die kultuurjuwele saam met hom neem nie, en het daarom ’n tuiste vir die tekeninge gesoek waar dit werklik waardeer sal word.

Die tekeninge sal eers gerestoureer word voor dit aan lede van die publiek onthul sal word (Foto: Verskaf)

Die planne is destyds deur EG Jansen, wat in daardie tyd die voorsitter van die Sentrale Volksmonumentkomitee was, goedgekeur en sy handtekening is op van dié tekeninge. Die Federasie van Afrikaanse Kultuurvereniginge (FAK) het destyds opdrag gekry om die monument te laat bou. Vandag, dekades later, is dié organisasie deel van die monument se bestuur.

Dr. Danie Langner, besturende direkteur van die Voortrekkermonument, is oorstelp oor die jongste aanwins vir die monument.

“Die Afrikaners het dit reggekry om hierdie ongelooflike monument in die moeilikste tye te bou. Die monument is die hoeksteen vir vryheid en die Afrikanergeskiedenis. Alles wat ons vorentoe bou, glo ek is gebou op die hoeksteen van die monument. Dit is die anker van ons geskiedenis en alles is daarin vervat,” sê Langner.

Langner glo dit is tyd dat Afrikaners deel moet raak van die bou en beskerming van hul kultuur.

“Dit is nou die tyd vir Afrikaners om vorentoe te kyk en te bou aan die toekoms, en dit is ironies dat ons Moerdijk se simboliese planne hiervoor ontvang het.

“Moerdijk het destyds gesê die Voortrekkermonument is gebou om 1 000 jaar te staan en ek is baie bly ons het nog 920 jaar oor.”

Die tekeninge sal eers gerestoureer word voor dit aan lede van die publiek onthul sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Lynette ·

Na die afbrand van die Mostertmeule, skade aan die Rhodes Monument se restaurant en die verwoesting van die UK se geskiedkundige ou biblioteek, was die opspoor en skenk van die Voortrekker Monument se oorspronklike planne, besonderse goeie nuus. Gesien dat die planne selfs onder ‘n afdak gelê het, is dit verblydend om te sien dat mense nog omgee vir Geskiedenis en ander se kultuur. Mnr. Rodgers as ‘n volbloed Suid-Afrikaner, kan ek net dankie sê dat so ‘n kosbare kleinnood weer aan ons toevertrou is. Ek hoop ons pas dit die keer beter op.

Lourens CFG ·

Ek hoop die kurators beplan só dat die papier goed beter beskerm is vir wanneer ‘n brand gebeur.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.