‘Mooiste engel-sussies’ ter ruste gelê

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Familie en vriende het Woensdag afskeid geneem van Carli (19) en Laurie (17) Huyser wat presies ʼn week gelede verongeluk het.

“Algaande het jul met grootword besef die lewe is ʼn fees, wanneer jy vir ander iets beteken en tot diens kan wees, jul mooi verjaarsdagkaartjies en dankie briefies sal ons altyd onthou. Vir al die kere wat julle jul arms om ons kon vou, en sê ons het julle lief! Met jul heengaan voel ons alleen en besef nou die Here het julle net aan ons geleen. Julle het reeds julle doel bereik, nou is julle binne die Here se Koningkryk (sic).” In Carli en Laurie se begrafnisbrief het hul oupa Attie en ouma Alice só van hul twee rooikop-kleinkinders afskeid geneem.

Foto: Facebook

Foto: Facebook

Die diens vir Carli en Laurie is Woensdagoggend in die NG Kerk Florauna in Pretoria-Noord gehou en is deur ds. Heinrich Stapelberg gelei. Die sussies se wit kiste was met wit rose en ander blomme versier. Familie en vriende het boodskappe op die kiste geskryf.

Carli, ’n eerstejaarstudent aan die Noordwes-Universiteit (NWU) se Potchefstroom-kampus, en Laurie, ’n gr. 11-leerling aan die Hoërskool Pretoria-Noord, het in ʼn trompop-botsing op die N4 naby Brits gesterf (lees meer hier).

“Dit was ‘n dag vol hartseer en hoop. ‘n Pragtige diens vir die twee pragtigste meisies. Rus sag by Jesus se voete mooiste engel-sussies,” het Marizaan Claassen, ʼn vriendin van Carli, op Facebook geskryf.

Medelye stroom intussen steeds in op die sussies en hul ouers se Facebook-bladsye.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Landie ·

Dit is so ongelooflik hartseer, ouers, familie en vriende wat se harte stukkend is en wat nooit sal kan verstaan hoekom so iets gebeur het nie. Baie sterkte aan hulle., ek huil sommer saam met julle almal vanoggend. Carli & Laurie rus in vrede.

Alex ·

Komaan julle, dit is n begrafnis van 2 van die oulikste dames, nie n sensasie nie. Almal wat hulle geken het weet presies wat gebeur het so julle hoef dit nie oral op te pleister nie, soms bring dit net ou seer weer terug.

Alta ·

Mag die ouers elke dag krag ontvang om die hartseer te verwerk. Die gemis ag en sommer alles.

ladybug ·

Sit hier agter my laptop met oë vol trane, en ek dink aan my groen koring en ek bid dat God hul sal bewaar van alle onheil.

Baie sterkte aan almal wat betrokke was by hierdie twee jong meisies se lewens. Ons wik, maar God beskik!

annette ·

Mens kan nooit se, ek weet waardeur die ouers gaan as jy nie self daar al gestaan het nie…..ek bid dat God julle sal sterk maak en vashou as die hartseer en verlange toeslaan. Dit is die enigste Een wat julle regtig kan troos.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.