Moord op Hartenbos-sakeman: Verdagte bly agter tralies

(Foto: Facebook/Help find Des)

ʼn 30-jarige man wat daarvan verdink word dat hy Desmond Share, ʼn sakeman van Hartenbos, ontvoer, beroof en toe vermoor het, bly agter tralies nadat hy Dinsdag in die Mosselbaai-landdroshof verskyn het.

Maroela Media het vroeër berig die 52-jarige Share se verminkte liggaam is Saterdag tussen bosse naby Albertinia gevind. Volgens inligting het Share vermis geraak nadat hy glo vir werk na Herbertsdale – sowat 50 km van Mosselbaai – gereis het.

“Sy bakkie is verlede Dinsdag om 18:06 vir die laaste keer op kringtelevisiekameras by die BP-vulstasie op Buffeljagsrivier opgemerk – etlike kilometers van waar sy liggaam gevind is,” sê sers. Chris Spies, polisiewoordvoerder.

Inligting het die Da Gamaskop-polisie na ʼn afgeleë gebied tussen Herbertsdale en Albertinia gelei – naby die vulstasie waar Share se voertuig vroeër opgemerk is. Sy verminkte liggaam is kort daarna tussen bosse opgespoor.

Die beskuldigde, Shadreck Mhetu (30), het Dinsdag sy eerste hofverskyning in die Mosselbaai-landdroshof gemaak waar hy op aanklag van moord, motorkaping en ontvoering teregstaan.

“Die saak is tot Dinsdag vir ʼn formele borgtogaansoek uitgestel. Intussen bly Mhetu agter tralies,” sê Spies.

Die polisie is egter op soek na nog drie verdagtes wat met Share se moord verbind kan word. Share se voertuig is ook nog nie opgespoor nie.

Sy familie het op die Facebook-blad, Help find Des, gevra vir tyd om die gebeure te verwerk.

“Desmond het sy lewe tragies in ʼn gewelddadige misdaad verloor.

“In hierdie somber tyd wil ons graag ons waardering teenoor die wetstoepassingsowerhede vir hul voorbeeldige en ywerige werk tydens die ondersoek uitspreek.

“Die polisie het ʼn primêre verdagte suksesvol aangekeer, terwyl drie bykomende verdagtes op vrye voet is.

“Ons is besig om met die polisie saam te werk om die omvang van inligting te bepaal wat met die publiek gedeel kan word om te help met die soektog na die uitstaande verdagtes.

“Ons versoek nederig die publiek se samewerking in hierdie poging.”

Volgens die plasing het Share se voertuig veranderinge ondergaan en is dit nie meer sigbaar gemerk nie.

(Foto: Facebook/Help find Des)

“Ons doen ʼn beroep op die publiek om waaksaam te bly en enige waarnemings van ʼn voertuig wat ooreenstem met die beskrywing daarvan te rapporteer indien dit vir verkoop of andersins geadverteer word.

“Weereens spreek ons ​​ons opregte dankbaarheid uit vir die ondersteuning wat gedurende hierdie moeilike tyd getoon is,” lui die verklaring.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Hannelie ·

Daar moet ‘n Wet inkom. As die persoon iemand doodsteek, dan is hul straf ook om dood gesteek te word. As iemand geskiet word, dan presies dieselfde straf moet vir die misdadiger wees.

Vanessa ·

Oorhandig hulle aan die “community”. Daar is geen genade by hulle nie. Nou met Ramaphosa se nuwe wet help dit nie eers meer dat die misdadigers gevang word nie, want more is hulle weer vry omrede die tronke vol is, so ek dink nie die polisie gaan eers meer moeite doen om hulle toe te sluit nie. So vir my part kan die community wet in eie hande neem.

ES ·

Ongelukkig sal so ‘n wet teenstrydig wees met ons “Konstitusie”, wat die hoogste wet in die land is… Ons is aan ons eie genade oorgelaat, of die van die misdadiger.

Chris ·

Hierdie dinge gebeur nie net sommer…..goed beplan en daar moet n storie agter die storie wees.

Nogsteeds baie sad dat die man sy lewe verloor het.

Goldy ·

Die kanker versprei af weskaap toe, tog wil die DA nie onafhanklikheidsreferendum roep soos waarvoor die VF die toestemming laat kry het nie. Hoeveel ellende nog voor die DA oorgaan tot referendum? Amper almal wat ek ken daar wil onafhanklikheidsverkiesing he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.