Motorfietsklub maak harte oop vir ‘Danville-tannies’

Foto verskaf deur Helpende Hand

Die afgelope vier jaar het ’n groepie selfversorgende bejaarde vroue van Danville in die weste van Pretoria diep in die harte van ’n groep Christelike motorfietsryers ingekruip.

Die 15 hulpbehoewende bejaarde vroue van die Danville Woonstelle is Saterdag deur Solidariteit Helpende Hand se motorfietsklub bederf met brullende motorfietse wat hul bussie van hul woonstelblok na ’n kerksaal in die Moot begelei het.

Vanjaar is nie net die “Danville-tannies”, soos die motorfietsklub met respek na hulle verwys, bederf nie, maar ook ander hulpbehoewende bejaardes van die omgewing. Vir ’n paar van dié bejaardes was dié bederfgeleentheid al wat hulle dié Kerstyd gaan beleef.

Nagenoeg 100 mense, insluitend bejaardes en motorfietsryers, het die NG Kerk Concordia se saal vol gesit.

Francois van Rensburg (Foto verskaf deur Helpende Hand)

Die Afrikaanse sanger en akteur Francois van Rensburg, die musikant André Nel en organiseerder Isabel Böning, het die gaste behoorlik vermaak en op hul voete gehad. Daarna is ’n feesmaal bedien, met potjiekos en malvapoeding, waarna elke bejaarde ’n groot geskenk gekry het wat volgens hul behoeftes opgemaak is. Elke geskenkpakkie het die nodige kruideniers- en toiletware in om die bejaardes se Kerstyd ’n feestelike geleentheid te maak.

Helpende Hand se motorfietsklub is in 2014 gestig deur ’n groep motorfiets-geesdriftiges wat ’n passie vir liefdadigheid het. “Ons is reeds sedert 2014 by die Danville-tannies betrokke,” sê dr. Johan Böning, voorsitter van die motorfietsklub. “Die tannies is ’n ware inspirasie. Hulle het nie net by hul omstandighede berus nie, maar streef daarna om selfversorgend te wees. Hulle het verskeie selfdoenprojekte om geld in te samel. Hierdie tannies het uitmuntende gees en liefde vir die lewe, al moet hulle slegs met ’n karige Sassa-toelaag oor die weg kom!”

Die motorfietsklub hou jaarliks dié spesiale Kerspartytjie vir bejaardes.

Tannie Violet Victor (88), die oudste inwoner van die Danville Woonstelle, het gesê sy het die geleentheid “verskriklik baie” geniet. “Dit was net ongelooflik; die musiek, die kos, en hulle het my naam twee keer uitgeroep om vir my ’n geskenk te gee. Ek was sommer verbaas dat ek twee geskenke kon kry,” het sy duidelik dankbaar met trane in haar grys donker oë gesê.

Tannie Violet Victor (Foto verskaf deur Helpende Hand)

“Ek het nie familie nie, my man is 25 jaar gelede oorlede en ons het nooit kinders gehad nie. Dié Kersfees gaan ek en ’n paar vroue van die tehuis alleen daar wees, maar iemand gaan op Kersdag vir ons kom lekker kos maak. Die res van die tyd gaan ek saam met my herinneringe van my man leef en die dag aan God toewy, want dit is sy dag,” het tannie Violet bygevoeg.

Hannes Noëth, Solidariteit Helpende Hand se uitvoerende direkteur, het ook die geleentheid bygewoon om vir die bejaardes ’n geestelike boodskap oor te dra. “Ons doen die bederf uit ons harte uit want ons wil aan die bejaardes erkenning gee vir hul bydraes deur die jare en ons wil hulle wys dat ons vir hulle omgee,” het hy gesê.

“Bejaardes vorm ’n baie belangrike deel van ons samelewing, maar weens siekte of armoede word hulle dikwels vereensaam. Helpende Hand wil graag die publiek aanmoedig om die bejaardes in hul gemeenskappe te ondersteun. Net soos ’n kindjie nie honger moet gaan slaap nie, moet daar nie bejaardes wees wat eensaam is nie, veral nie oor Kersfees nie,” het Noëth gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

14 Kommentare

Onnie ·

Ek dink dis wonderlik wat hulle vir die ou mense doen, ekt al vandat ek baie klein was ‘n sagte plek vir ou mense. Ekt gereeld as kind -soms nou nog – skelm my honde ingesmokkel by die Outehuis, verby die kwaai matrones, sodat die ou mense hulle bietjie kon vryf en liefde gee. Hulle mis hulle diere en die aanraking vreeslik, en net iemand wat opgewonde is om hulle te sien. Dis baie hartseer dat hulle so sonder doel dag in en dag uit moet sit

Willem ·

Opregte manne! Die Here sien wat julle doen en sal dit nie vergeet nie.
Baie dankie….

Ella ·

Ek wil van die “tannies” gaan haal vir Kersfees. Hoe gaan ek te werk ?

Oujongvrou ·

Ella daai is n goeie idee. As mense daar by julle elkeen een ou mens gaan oplaai op kersdag, dan is die ouetehuis leeg. Ek gaan sommer self hier in die kaap rondkyk by ouetehuis vir een om te bederf met n gesin vir kersdag. Al is dit nou ook net ek en my ou man. Ons het darem nog n huis en mekaar.

Paul ·

Maroela, en wanneer berig julle van die Care Buddies in die Laeveld, hulle besoek die ouetehuise deur die jaar, beur die mense op, staan hulle by en neem hulle vir uitstappies. Hulle onthou die mense se verjaardae, reel Kers etes. Daar is ‘n magdom inligting oor die mense beskikbaar en wat hulle doen.

Naas Vermaak ·

Paul…jy’s reg. Ek se jou wat…ek sal jou help dan kry ons die info en skryf so bietjie agtergrond en gee dit aan vir MM….so doen ons ook ons deeltjie….wat se jy?

Ans Watkins ·

Wonderlike gebaar, mag Helpende hand se emmers oorloop van Seëninge.

Eugene ·

Goeie dag almal, ek is Eugene , wat n wonderlike initiatief van die motorfiets ryers, wel gedaan, ek en my vrou is ook motorfiets ryers en is ook mal oor bejaardes. Hoe kan ons betrokke raak. Ons het nie iets gereel vir Kersdag nie en wil graag iemand op die Spesiale Christus dag bederf. My vrou wil ook betrokke raak by Hospice

J. van Rensburg ·

Pragtige gebaar deur mense wat vir die oues van dae omgee. Ek wens net Transnet bestuur se harte wil ook so oopgaan vir die oud-spories wat letterlik krepeer en alles in hulle vermoë doen om die werklike behoeftiges ook met ‘n verhoging in hulle pensioene tot hulp te kom. Ek is een van die meer bevoorregtes want my drie kinders sorg vir my, maar baie oumense – nie net oud-spories nie – voer ‘n sukkelbestaan en wat niemand het om na hulle behoeftes om te sien nie. Maroela, asseblief, laat iemand met o.a. Adv. Anton Alberts ‘n onderhoud oor hierdie oumense voer – dis hartverskeurend….

Nadia ·

Die is nou wat ek wil lees… Bai dankie dat julle dit moontlik gmaak het.

Agnes ·

Baie dankie, mag julle ook n geseende Kersfeestyd he. Ons Lief julle werk.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.