Mpumalanga-ongelukke eis nege

Foto ter illustrasie. (Foto: Megan Swart/Maroela Media)

Twee ongelukke in Mpumalanga het Saterdag die lewens van nege mense geëis, onder wie ’n vier maande oue babadogtertjie. Die ongelukke het onderskeidelik op die N11 by Hendrina en die R23 tussen Standerton en Val plaasgevind.

Vyf van die nege mense, insluitend die baba, het Saterdagmiddag in die ongeluk tussen twee ligte voertuie by Hendrina omgekom. Die baba se 23-jarige ma en nog ʼn persoon is ernstig in die ongeluk beseer.

Ross Campbell, woordvoerder van ER24, sê dié nooddiens was omstreeks 14:30 saam met die polisie, brandweer en ander private nooddienste op die toneel. Die deure van die voertuie moes verwyder word om die oorlewende insittendes te behandel.

“In een van die voertuie het die vier maande oue babadogtertjie saam met haar ouma en oupa gesterf. Net die 23-jarige ma is lewend gevind, maar sy was ernstig beseer,” het Campbell gesê.

“Die drie oorledenes is op die toneel dood verklaar en die ma is met gevorderde lewensondersteuningstoerusting behandel voordat sy na ʼn nabygeleë hospitaal vervoer is.”

Volgens Campbell het die oupa die voertuig bestuur terwyl die ouma op die agterste sitplek by die baba gesit het.

Drie mans is in die tweede voertuig aangetref – almal vermoedelik in hul 30’s.

“Die bestuurder en agterste passasier het kritieke beserings opgedoen, terwyl die passasier op die voorste sitplek ernstig beseer is. Almal is op die toneel met gevorderde lewensondersteuningstoerusting behandel voordat hulle na ʼn hospitaal vervoer is.

“Die twee pasiënte wat kritieke beserings opgedoen het, het later in die hospitaal aan hul beserings beswyk.”

Ongeluk op R23

Nog vier mense is Saterdagoggend op die R23 tussen Standerton en Val dood toe ’n vragmotor en ’n sedan gebots het. Die bestuurder van die sedan en drie passasiers het in die ongeluk omgekom.

Volgens die Moeti Mmusi, woordvoerder van die provinsiale departement van gemeenskapsveiligheid, was al vier slagoffers mans in hul 40’s.

“Hoewel die saak nog ondersoek word, is die ongeluk vermoedelik veroorsaak toe een van die voertuie die ander op ʼn gevaarlike wyse verbygesteek het.”

Nog ’n persoon het ernstige beserings opgedoen en twee ander ligte beserings.

Al die beseerdes is na ’n nabygeleë hospitaal vervoer.

Mmusi sê die bestuurder van die vragmotor is nie beseer nie.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.