MRK genader oor dominee se moordsaak

Die moord op ds. Liezel de Jager het skokgolwe deur die land gestuur. (Foto: Verskaf)

Action Society het die Menseregtekommissie (MRK) genader om in te gryp met die ondersoek na die moord op ds. Liezel de Jager.

In ’n brief aan die MRK, vra Ian Cameron, direkteur van gemeenskapsveiligheid by Action Society, dat die kommissie die saak met die toepaslike owerhede sal opneem om ʼn onmiddellike en doeltreffende ondersoek te verseker.

“Ek pleit dat die ondersoek aan ’n ervare ondersoeker toegewys word wat druk op die polisie kan plaas om te verseker dat selfs die mees basiese aspekte van die ondersoek professioneel uitgevoer word… Dít gegewe die aansienlike hoeveelheid tyd wat verloop het sedert die moord en die gebrek aan vordering en kommunikasie van die polisiediens,” sê Cameron in die brief.

Action Society het Oktober verlede jaar by die saak betrokke geraak en help om dit namens Liezel se familie op te volg en te monitor.

Dit is reeds 590 dae ná ʼn lewelose Liezel met wurgmerke aan haar nek by die pastorie van die NG Kerk Suidkus op Amanzimtoti gevind is. Sy het vroeër saam met ʼn groep mense gaan draf.

Henk en Salomé van Zyl, Liezel se ouers, wag steeds op antwoorde oor haar raaiselmoord. (Foto: Verskaf)

Haar ouers, Henk en Salomé van Zyl, het sedertdien nog geen antwoorde gekry oor wat met hul geliefde dogter gebeur het nie. Die egpaar het boonop in Desember laas enige terugvoer oor die saak by die polisie gekry.

“Tussen Action Society en die familie het ons in die geheel al 150 keer kontak met die polisie oor die saak probeer maak. Ons het tot dusver min of omtrent geen nuwe inligting oor vordering met die saak ontvang nie. Inligting wat ons wel ontvang het, was bevestiging van hoe min vordering daar met die ondersoek is.”

In Desember het die polisie dié terugvoer gegee:

  • Verklarings is van verskeie mense, insluitend familielede en ʼn persoon van belang, afgeneem.
  • Videomateriaal, stemopnames en ander bewysstukke is ingesamel en vir ontleding na die polisie se forensiese laboratorium in Pretoria gestuur. Die uitslag is nog uitstaande.
  • ’n Poligraaftoets is vir ʼn persoon van belang opgestel. Dié persoon het nie vir die toets opgedaag nie.
  • Aansienlike omstandigheidsgetuienis moet met die Direkteur van Openbare Vervolging (DOV) bespreek word.
  • Die verslag van die nadoodse ondersoek is nog uitstaande.
  • ’n Ondersoek van Liezel se selfoon en dié van die persoon van belang is hangende weens die nuwe Wet op Kubermisdaad. Die ondersoekbeampte is aangeraai om ʼn lasbrief te bekom om die inligting van die selfone en ander relevante inligting te kry.

Werner en Liezel de Jager. (Foto: Facebook)

Volgens Cameron kan die rede van die sloer van die ondersoek ’n kombinasie van faktore wees.

“Die polisie het hul lus en/of wil verloor om die werk te doen of hulle is onbevoeg of beskik nie oor die nodige hulpbronne nie.”

Action Society het twee ondersoekers aangestel om die polisie te probeer help, maar Cameron sê die polisie het geen belangstelling in enige samewerking getoon nie.

Gevolglik het die familie vertroue in die ondersoekspan verloor.

“Die familie het ondenkbare pyn en angs verduur sedert hierdie tragiese voorval plaasgevind het en ons glo dat dit ons fundamentele reg is om die moord op Liezel deeglik te laat ondersoek.”

Action Society het die MRK tien dae gegee om terugvoer op die brief te gee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

9 Kommentare

Keelvol ·

Kom neem die ondersoek dan oor as jy beter kan doen met 300 dossiere ophand.

Danie ·

As niemand dit nog weet of wil weet,die polisie is onbetroubaar,onbekwaam en net eenvoudig sleg.

Keelvol ·

Onthou die wat so op die kantlyn sit en vinger ways is self te bang om die werk te kom doen.

Charl ·

Dis nie mý werk nie, dis waarvoor die polisie daar is en wanneer hulle so onbekwaam is het ek die vólste reg om vinger te wys.

OW ·

Ek dink die persoon van belang speel kat en muis met die polisie.Toe hy nie opdaag vir die poligraaftoets nie,moes die polisie aksie geneem het.Swak polisie werk,pas die persoon van belang uitstekend.

Mariaan ·

Swak ondersoek vd begin af…hier is iets nie pluis…so gaan iemand wegkom met moord! Moes dadelik na ” persoon v belang” in diepte ondersoek gedoen het…hy moet boet! Net so terloops..haar man maar min moeite gedoen tot dusver om moordenaar op te spoor..laat mens wonder

Erika ·

Daar is Kurrupsie in die onbevoegde Polisie.-Dit na 590 Dae .. sloer die saak steeds

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.