Munisipale werker, trawante sit lank ná afpersing

(Argieffoto: Maroela Media)

Die streekhof in Mbombela in Mpumalanga het ’n werknemer van die Mbombela- plaaslike munisipaliteit en sy twee medepligtiges Vrydag tot tien jaar tronkstraf vir afpersing en korrupsie gevonnis.

Dino Siboza (43) was by dié munisipaliteit werksaam terwyl Ernest Mamba (33) en Nkate Ngcobo (32) vir ʼn maatskappy gewerk het wat deur dié munisipaliteit aangestel is om meterlesings te doen.

Siboza, Mamba en Ngcobo het die klaer in die saak in 2018 begin afpers nadat hulle ʼn besoek aan sy huis afgelê en gesien het dat daar met sy meter gepeuter is.

Volgens Monica Nyuswa, woordvoerder vir die Nasionale Vervolgingsgesag, het die drie aanvanklik R2 000 by die klaer geëis, anders sou hulle die munisipaliteit van die gepeuter inlig.

“Die aanvanklike bedrag was klaarblyklik nie genoeg nie, aangesien hulle daarna nog twee betalings van tussen R3 000 en R15 000 geëis het. Die klaer het slegs R3 000 betaal,” het Nyuswa gesê.

“Toe die klaer besef dat die eise vir geld nooit gaan ophou nie, het hy die saak by die polisie aangemeld.”

’n Geheime operasie is deur die polisie van stapel gestuur om die skuldiges uit te vang.

Siboza en Mamba het die klaer gekontak en ooreengekom om hom by ’n McDonald’s te ontmoet. Met hul aankoms is drie koeverte – elk met R5 000 in – aan die afpersers oorhandig.

Ná die ontmoeting het die polisie hulle voorgekeer en in hegtenis geneem.

Die drie het onskuldig gepleit, maar die staat het verskeie bewysstukke, waaronder beeldmateriaal, kommunikasie tussen die klaer en die afpersers en bankstate, by die hof ingedien.

Hulle is gevolglik skuldig bevind en gevonnis.

Gedurende die verhoor het die munisipaliteit ’n impakverklaring by die hof ingedien waarin bevestig is dat die munisipaliteit in die 2018‑’19- boekjaar meer as R120 000 weens korrupsie verloor het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

SjN ·

Hul word op heterdaad betrap maar pleit nog steeds onskuldig, hoe dom kon n mens wees, lewe weggegooi vir tsjo tsjo geld.

Suzette ·

In SA gaan hulle nie lank sit nie en sal waarskynlik wanneer hulle weer op vrye voet is steeds voortgaan met onwetlike goed.

Elma ·

Jammer, maar ek moet vra. Is die ou wat met die meter gepeuter het, nie skuldig aan enigiets nie?

Jax ·

Weereens; dit is geen verbasing of skok nie. Blykbaar is daar nou ook sommige bestuur-lisensie instrukteurs wat jou aanraai om die toets-beampte om te koop met n paar Rand as jy nie jou lisenaie dadelik slaag nie. Een van my vriende se kinders het vertel hoe Hulle hul lisensie om te kan bestuur, gekoop het.
Ons land het groter probleme as wat ons dink! Dit is n hele ingesteldheid van totale wetteloosheid wat hierdie mooi land mors-dood gaan maak. Dis nie net ons regering en sy amptenare wat lieg en bedrieg nie – dit is sommige dele van ons algehele landsbewoners wat totaal wetteloos leef. Hierdie land Sal nooit regkom as elke landsburger nie hand in eie sake steek en self-ondersoek doen nie.

domheks ·

Bly MM dink 10 jaar is “LANK” hulle sit net bietjie meer as 3 jaar dan is hulle weer op straat.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.