‘My kind is dood en niemand het antwoorde’

ʼn Ma van Gqeberha (Port Elizabeth) pleit vir antwoorde ná haar geliefde dogter in haar woonstel oorrompel en geskiet is en enkele dae later gesterf het.

Die 19-jarige Verushka Nel is verlede Dinsdag in die Livingstone-hospitaal in Gqeberha dood, nadat sy drie keer deur twee mans in haar woonstel in Qunu geskiet is.

Volgens kol. Priscilla Naidu, polisiewoordvoerder, word daar beweer dat Verushka op  17 Augustus omstreeks 19:00 in haar kamer op haar foon besig was toe sy ʼn klop aan die deur gehoor het.

“Sy is daarna deur twee mans – wat sy ken – oorval en drie keer geskiet.”

Verushka se ma, Jackie, sê haar dogter het ná die skietery nog geleef.

“Verushka weet wie dit aan haar gedoen het; sy het my vertel dat dieselfde mans later die nag teruggekom het om seker te maak sy is dood. Hulle het haar geskop en geslaan terwyl sy in haar bloed gelê het,” sê Nel.

ʼn Vrou wat oorkant Verushka bly, het glo die Vrydagoggend gesien dat haar deur steeds toe is.

“Sy het ondersoek gaan instel waarna sy my kind verlam en in ʼn plas bloed op haar bed aangetref het,” sê Nel.

“Dit is vir my die ergste, sy het 12 uur lank net daar gelê en wag dat iemand tot haar redding kom.”

Sy is Vrydagoggend na die Livingstone-hospitaal gehaas waar sy in die intensiewesorgeenheid opgeneem is.

“Dit is toe eers dat ek die nuus kry … my jongste is geskiet, drie keer en in haar kop,” het ʼn emosionele Nel aan Maroela Media gesê.

“Ek het na die hospitaal gejaag; ek was so dankbaar sy is nog lewend. Sy was nie heeltemal haarself nie, maar sy kon my vrae beantwoord.

“Die dokters het gesê dit is ʼn wonderwerk dat sy nog lewend was ná die skietwonde wat sy opgedoen het. Volgens hulle kan geen mens met skietwonde aan die kop vir so lank sonder mediese hulp oorleef nie.

“Ek dink die Here het haar aan die lewe gehou sodat sy haar storie vir ons kon vertel.”

Verushka Nel (Foto: Verskaf)

Verushka het egter verlede Dinsdag in die hospitaal gesterf.

“Sy was oukei. Sy het met my gepraat; sy het heeltyd gepraat,” sê Nel.

“Sy het selfs Maandag weer begin lag.”

Volgens Nel het die personeel by die hospitaal haar Dinsdag skielik uit die hospitaal gedwing.

“Hulle het 19:00 gesê ek moet gaan; hulle het my uitgedwing, net om my 30 minute later te bel en vir my te sê my kind is in ʼn koma en gaan dit nie maak nie.

“Dit maak nie sin nie,” sê Nel.

“Ek verstaan nie hoekom my kind dood is nie. Ek verstaan nie hoe dit gebeur het nie.”

“Ek was Maandag by die lykshuis om antwoorde oor my kind se dood te kry. Die ondersoekbeampte wil nie vir my ʼn afskrif van haar nadoodse ondersoek gee nie; hulle wil nie vir my sê wat die rede vir haar dood is nie. Ek is in ʼn toestand.

“My kind is dood en niemand het antwoorde nie.”

Volgens Nel is bendegeweld ʼn reuseprobleem in die stad en hou mense, selfs die polisie, hulle blind daarvoor.

“Die mans wat haar geskiet het, is gestuur om haar dood te maak. Dit was nie ʼn rooftog nie,” sê Nel.

“Ek soek antwoorde. Wat kon hul rede vir haar moord wees? Almal in Qunu was mal oor my kind.

“Sy was ʼn liewe mens, sy kon selfs haar vyande laat glimlag. Dit is die soort hart wat sy gehad het.”

Volgens Naidu is geen verdagtes nog in hegtenis geneem nie en die polisie se provinsiale eenheid vir georganiseerde misdaad ondersoek die saak.

“Geen straf sal haar ooit terugbring nie, maar ek soek geregtigheid vir my kind. Die mense wat dit aan haar gedoen het, moet vasgetrek en toegesluit word,” sê Nel.

“Mense moet sien wat in ons stad aangaan. Ek hoop en bid dat geen ander ma dit moet deurgaan nie.”

Verushka sal Saterdag om 10:00 in Gqeberha by die Volle Evangeliekerk ter ruste gelê word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

34 Kommentare

Skappie ·

Hierdie was nou nie ‘n lekker storie om te lees nie. Sterkte aan jou, en mag onse Liewe Jesus jou styf in Sy arms vashou, en jou deur hierdie moeilike tyd dra.

Tikkel Tokkel Jimpels Gogga ·

Afgryslik! Dit is wat gebeur as reg en orde verval…..die kriminele neem oor en die res leef in vrees. Hoop die skuldiges word vasgetrek en boet vir hul dade.

Duck ·

Ek bly sowat 20 km van Kaapstad se middestad af, ek kom NOOIT daar nie, ry nie eens daardeur na ure nie, ek ry maar om die stad direk na Seepunt en / of om die stad na Muizenberg area as ek wil uitry vir die dag, dit is net nie meer die moeite werd om in daardie hool in te gaan nie. Sterkte aan die familie.

George ·

As ek so rondreis en vermy ek Kabul, net nie meer die moeite werd nie.

Mariana ·

Sterkte Dame hoop jy kry baie Gou Al die Antwoorde op Al jou vrae…
En sterkte ….

Frank ·

Die mans (wat sy geken het) is nog nie in hegtenis geneem nie?
Vreemd maar baie hartseer gebeurtenis. Laat ‘n ouer hart breek!

Karoo ·

Wat ‘n pragtige jong Dame. Ek glo dat daar’ n Storie agter die Storie sal wees want soos haar Ma se, dinge klop nie. Het die Ma dan ook nie vir haar gevra wie dit was nie, siende dat sy hulle geken het en goed kon komunikeer?

Bolandse Nooi ·

Kry gou ‘n landkaart van SA, dan sien jy Qunu en “Gqeberha” is nie té ver uitmekaar nie.

Bolandse Nooi ·

Uhhhhh ………… Qunu is redelik naby aan PE (“Gqeberha”). Die jong dame het in Qunu gewoon. Haar ma woon in “Gqeberha”. Die dame is oorlede in die BERUGTE Livingstone Hospitaal, wat in “Gqeberha” is.

Jakez ·

Uhhhh…ek weet waar Qunu is, en ek bly self in PE. Hoekom na Livingstone toe gaan wat 450km ver is?

Niklaas ·

Daar is baie verskuilde waarhede by hierdie storie wat later hopelik sal uitkom.

TO ·

Welkom in die gangster paradise SUID AFRIKA, waar skelms meer regte het as slagoffers. 7 sept 15 jaar wat ek wag vir antwoorde na my kind 5 keer geskiet is in ‘n sekuriteit kompleks in Sandton. Saak gesluit SONDER OM MY EERS IN Kennis TE Stel.

Karoo ·

Jammer vir jou verlies en terleursteling TO…. ek weet nie hoekom iemand jou storie as negatief merk en nie eers se hoekom nie.

Elize ·

Die negatiewe merking is seker ‘n wese of iemand wat hulle aanhang

Oujongvrou ·

Daai personeel wat haar uitgejaag het klink verdag. En nou mag sy haar eie kind se doodsertifikaat nie sien nie. Sterkte vrou. Ek bid vir jou

OU SAAR ·

Ai, dis so gruwelik hartseer.
Ons gebede gaan uit na die pragtige kind en haar gesin.

Ek hoop haar moord word nie ook deel van die vele onopgeloste moorde op vrouens nie.
Lyk my daar is nou ń tendens in SA om onskuldige weerlose vrouens en kinders te vermoor. Die moordenaars maak nou ń sport daarvan want hulle weet hulle kom daarmee weg. Sagte teikens…

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.