Mylpaal in klasaksie teen polisie oor gesteelde wapens

Argieffoto bloot ter illustrasie. (Foto: Hansie Linde)

Gun Free South Africa (GFSA) het amptelik hofstukke by die Wes-Kaapse hooggeregshof ingedien om aansoek te doen vir die sertifisering van ʼn groepsgeding teen die polisie.

Die groep eis skadevergoeding van die polisie weens sterftes en beserings wat veroorsaak is deur die optrede van twee polisiebeamptes, Christiaan Prinsloo en David Naidoo, wat die verkoop van vuurwapens aan bendes gefasiliteer het.

GFSA sê die sertifisering van die groepsgeding is die “eerste mylpaal” in die proses om die polisie verantwoordelik te hou vir die meer as 1 000 lewens wat sedert 2016 met dié vuurwapens in die Wes-Kaap beëindig is.

Prinsloo, ʼn voormalige polisiekolonel, het tussen 2007 en 2015 meer as 2 000 vuurwapens wat in polisiebewaring was, gesteel. Die sogenaamde Prinsloo-wapens is destyds by die polisie ingehandig om vernietig te word, maar deur Prinsloo uit die pakkamers gesteel en verkoop.

Polisierekords toon dat dié Prinsloo-wapens sedert 2016 altesame 1 066 lewens geëis het; 67 van hierdie slagoffers was kinders.

Nege familielede het hulle reeds by die beoogde hofsaak aangesluit en verteenwoordig vier kategorieë van direkte en indirekte slagoffers van Prinsloo-vuurwapens: Die ouers of voogde van kinders wat deur die vuurwapens gedood is, die ouers of voogde van kinders wat gewond is, die afhanklikes van slagoffers wat dood is en diegene wat ʼn aanval met ʼn sogenaamde Prinsloo-wapen oorleef het.

Twee deskundige getuies het ook beëdigde verklarings ter ondersteuning van die geding ingedien: Mark Mastaglio, ʼn onafhanklike forensiese wetenskaplike wat spesialiseer in die ondersoek van vuurwapens, en Richard Matzopoulos, ʼn epidemioloog en spesialiswetenskaplike by die Suid-Afrikaanse Mediese Navorsingsraad.

(Argieffoto: SA Polisie)

Volgens Mastaglio is dit moontlik om ʼn Prinsloo-vuuwapen te identifiseer weens die unieke merke wat die vuurwapens laat. Matzopoulos het getuig dat vuurwapenverwante sterftesyfers aansienlik toegeneem het namate Prinsloo-gewere die Kaap binnegekom het.

Dít wys polisie se eie verslae

Luidens die polisie se verslae, wat op forensiese data gegrond is, is Prinsloo-vuurwapens tussen 2007 en Junie 2016 in die pleeg van minstens 2 784 misdade net in die Wes-Kaap gebruik. Dit sluit in 1 066 moorde, 1 403 pogings tot moord en 315 ander misdade.

Die verslae toon boonop dat soveel as 1 012 Prinsloo-vuurwapens sedert 2016 in omloop was.

GFSA voer daarom aan dat die groepsgeding slagoffers van Prinsloo-vuurwapens moet insluit wat sover terug strek as 2007.

Slagoffers

Die volgende familielede het hulle by die regsgeding aangesluit:

  • Andre en Dianne Cornelius wie se seun, Dillan Cornelius, in Augustus 2013 in Manenberg met ʼn Prinsloo-vuurwapen doodgeskiet is.
  • Melanie Kiel, wie se seun Dudley Richards in 2013 met ʼn Prinsloo-vuurwapen tydens ʼn skietvoorval in Mitchell’s Plain doodgeskiet is.
  • Denise Mentor, die wettige voog van Leana van Wyk. Leana, in daardie stadium ʼn minderjarige, het in 2012 ernstige kopbeserings tydens ʼn skietvoorval met ʼn Prinsloo-vuurwapen in Hanover Park opgedoen.
  • Evelyn Davids, die wettige voog van Liam Davids, ʼn minderjarige wat in 2012 ernstige nekbeserings opgedoen tydens ʼn skietvoorval met ʼn Prinsloo-vuurwapen in Hanover Park.
  • Natalie Dirks, die ma van Lukas Dirks wat in Januarie 2015 met ʼn Prinsloo-vuurwapen doodgeskiet is.
  • Simoné Julies, die ma van Mogamat Moeneer en Mogamat Nazeer. Dié twee minderjarige seuns is in 2014 gewond tydens ʼn skietvoorval met ʼn Prinsloo-vuurwapen in Mitchell’s Plain.
  • Mansoer Eksteen, wat in Oktober 2014 met ’n Prinsloo-vuurwapen gewond is.
  • Niezaam Cupido, wat in 2013 beseer is ná ’n skietery in Mitchell’s Plain met ʼn Prinsloo-vuurwapen.

Maroela Media het vroeër berig Prinsloo is in 2016 ingevolge ʼn pleitooreenkoms met die staat tot 18 jaar tronkstraf gevonnis vir rampokkery, korrupsie en geldwassery.

Operasie Impi is egter reeds in Desember 2013 van stapel gestuur nadat die polisie talle vuurwapens op die Kaapse Vlakte begin aantref het wat professioneel gesuiwer is van enige identifiseringsmerke – bewyse dat ʼn gesofistikeerde vuurwapensmokkelnetwerk daarby betrokke was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

skurweberg ·

Nog ‘n hofsaak wat ‘n rigtingwyser vir die lot van SA gaan wees.

domheks ·

Hier maak elkeen net soos hy wil – die sapd besteen nie meer nie. Te danke aan die mini-ster wat van kameras hou.

My siening ·

Hoe regverdig jy dat die man lewenslank kan leef terwyl menige mense en kinders gesterf het deur hom? Dood straf is al wat dit kan regverdig maar nie met sofa regering nie!

Andries ·

Mis ek iets of is dit nie Prinsloo/ Naidoo vuurwapens nie. Hoekom net een van uitlig?

Amelia ·

dis seker waar gesegde vandaan kom geld is duiwel se oorkussing soveel lewens verwoes vir geld ek hy wapens verkoop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.